Botter en room



Saterdagaand kuier ons by Anton en Jean-Maré aan huis. Jeandré en Lyndi is saam met ons genooide gaste. Tussen ons drie paartjies is daar ‘n volle vyf seuns en een prinses.

Kos en wyn en koffie is belangrik vir Anton en Jean-Maré. Hulle bedink die spyskaart en kies dan noukeurig wyn wat by die spyskaart pas. Jean-Maré hou van beproef. Na die nagereg is die koffiemaak altyd ‘n proses, want hul rooster hul bone self. Hulle kombineer verskillende bone. Hulle eksperimenteer en speel tot hul by die perfekte koppie koffie uitkom.

Gisteraand bied ek aan om nagereg te bring. Dis ‘n meringue met soet room (Jean-Maré het die room geklop met net so twee knippies strooisuiker – daar is ‘n verskriklike mooi naam daarvoor, wat ek nie nou kan onthou of spel nie!), met aarbeie en pistachios op die room. Dan het ek sommer glitter oor die hele ontploffing gestrooi om bling na die poeding te bring.

Die mans eet hul nagereg vinnig en doelgerig. Hulle wil klaar eet om op die bank te gaan ontspan. Ons eet stadig. Dis immers die eerste keer die aand wat ons op ons eie, sonder kind of kraai kan kuier. Later gaan haal Jean-Maré die bak waarin sy die room geklits het. Daar is nog so ‘n bietjie room oor. Ons skep ‘n tweede keer en gooi ekstra soet room oor ons meringue. Dis nou ‘n bietjie meringue met baie room.

Absoluut verruklik.

Jean-Maré vertel van ‘n fliek waarin die een vrou so met blokke en blokke botter kon kook. Hoe meer botter, hoe lekkerder die kos. Wat sou die lewe tog sonder botter en room wees, wonder ons terwyl ons eintlik kreun van lekkerte met elke hap soet room-meringue nagereg.

Ek vertrou myself nie met botter nie. Ek eet ryskoekies agter die botter aan. Dan plak ek die botter onbetaamlik dik op die ryskoekie. My tandemerke moet wys. My ma het dit ook so gedoen. Gister vra Amé of sy haar dogtertjievinger in die botter kan druk. Sy wil net so klein lekseltjie proe.

Ek stuur dus die botterliefde nog ‘n generasie aan.

Ek het grootgeword in ‘n huis waar ons vir baie jare room self gekarring het tot botter. O die trots as jy vir die eerste keer room kon karring tot botter. Ek is vandag so spyt dat ek nie destyds daardie egte plaasbotter met meer respek geniet het nie. My pa het elke oggend met sy melkemmer ingekom. Vars plaasmelk, vol vet, hemels.


Dalk is dit waar my room en botter liefde ontstaan het. Op Makkiesplaas se werf. Baie seisoene gelede. En dit leef voort.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep