Hoop in die droogte

My pa boer van altyd af in die Boesmanland. Hy is gebore op Makkiesplaas. Sy grootjies en sy pa en my ma se grafte lê almal in die familie begraafplaas. Soms vra ek of dit die moeitewerd is om hier aan te gaan? Die Boesmanland is ‘n harde wêreld. Dan antwoord my pa – “Dis dan al wat ek ken my kind, waarheen sal ek anders gaan?”

Ek praat gisteraand weer met my pa oor die foon. Ek vra altyd oor die veld en die skape. Die Boesmanland stof is immers ook in my bloed. Die laaste tyd raak die stories amper vir my te erg om te hoor. Skape wat die bakkie byna bestorm omdat hulle weet dis kos. My pa sê dis die laaste tyd ‘n gesukkel om sy bakkie se deur oop te kry. Die skape “omsingel” amper die bakkie. Hy vertel van die droogtelammertjies wat vrek omdat die mamma hulle eenvoudig wegsmyt. Hy kan nie meer die skape vol kry nie, daar is eenvoudig nie genoeg voer nie. Hy hou hulle net aan die lewe.

My pa is ‘n groot man, maar hy sê hierdie droogte laat hom huil soos ‘n kind. Anderdag kom hy in Kakamas se Kaap Agri, toe het iemand sy Kaap Agri rekening vir hom betaal. “Ek dwaal deur daai Kaap Agri en kan nie genoeg dankie sê vir die Here vir nog ‘n wonderwerk nie!” Die aand voor my oproep het hy in die bed gelê en vir tannie Marinda gesê – sy voer is boomskraap. Hy weet die Here weet dit ook. Die dag daarna bel iemand hom en sê hy moet ‘n vrag voer kom haal. Nog iemand bel met ‘n vrag lusern.

Ek hoor hoe die hartseer my pa oorweldig. Hy het aan die begin van die droogte gesê, hy is ‘n baie klein skaapboer hier in die Boesmanland. Hy gaan dit nie maak as hy sy diere moet voer nie. Hy gee sy plaas oor aan die Here. Hy vertrou dat die Here hom sal deurdra. En dis presies wat God nou dag-vir-dag doen.

“My kind, pa staan verstom oor mense se harte. Ek het nie geweet mense gee nog so om vir mekaar nie. Ek weet nie hoe ek ooit genoeg gaan kan dankie sê nie.”
Makkieplaas, my geboortegrond, lyk deesdae vreemd – byna soos ‘n maanlandskap, maar die Here kyk na my pa se skape. Sy tydsberekening is perfek. Hy stuur mense met gehoorsame harte op die perfekte tyd.


Ons weet die reën en uitkoms is so so naby. Ons aanbid ‘n God wat so getrou is. Intussen kan ek net dankie sê namens my pa, en so baie ander boere wat op dieselfde plek is as my pa. Dankie vir mense wat help. Julle gee meer as voer of geld. Julle gee hoop. En op hierdie stadium hou dit my pa regop.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep