hoop

Baie dinge kan in ‘n week se tyd verander, besef ek net die afgelope week weer. Iewers het ek tred met dag en datum verloor. Alles gebeur in ‘n ritme op ‘n tydlyn. Ek kan die kolletjies onthou en verbind, en dis dit. Baie seisoene gelede het dit my ontstel as ek nie gereeld die nuusberig op RSG hoor nie, of as ek die Saterdag se Burger misloop. Nou pla dit my eerder dat daar kindertjies honger gaan slaap, of dat mense se tuine baldadig groen is al het hulle boorgatwater – want water bly water. En dis iets wat jy nou met die grootste respek moet gebruik en verbruik!

Ek praat gewoonlik op Sondae aande met my pa. Met ons laaste gesprek klink my pa maar moedeloos. Dit bly droog. Hy moet water aanry na Korannerkolk. Die probleme hou nie op nie. Ek vra nie meer uit of die skape vrek nie. Ek weet hulle doen. Ek wil dit net liewers nie hoor nie.

Verlede week kom die nuus uit die Boesmanland – dit het gereën. Oppad terug van bybelstudie het die water so dik oor die pad geloop dat my pa en tannie Marinda nie verder kon ry nie. Die ligte van die bakkie wou plek-plek wegraak onder die water. Iewers langs die pad, sowat 15 km van die huis af, het hulle besluit om liewers af te trek en ‘n bietjie langs die pad te sit en slaap. Iemand het hulle kom soek en daar in die bakkie langs die groot waters gekry. Daardie iemand kon weer vir oom Flip en tannie Suna van die naaste buurplaas kontak en iewers in die oggendure het oom Flip en tannie Suna met hul trekker en soet moerkoffie tot my pa-hulle se redding gekom. (Hierdie storie moet ek nou elke aand vir ons twee kindertjies vertel - net voor hul wegraak in droomland vra hulle te mooi of ek die storie van oupa en ouma en die trekker kan vertel!)

Twee dae later het my pa video’s gestuur van waar Robert, die Malawiër wat vir hom werk, met die vol reënmeter in die hand staan. Sy glimlag gaan rondom sy kop. Gisteraand kom die boodskap – ou Gert het ‘n “reën” jakkals gevang. Ek praat met my pa oor die foon, en hy klink plotseling 20 jaar jonger.

Dit voel só lekker om hom so te hoor.

So saam met die reën het Ramaphosa die teuels by Zuma oorgeneem. Ek het nie net weer hoop nie, ek is vol verwagting. Ek is skoon opgewonde om te sien wat die volgende paar maande gaan gebeur.
Intussen begin draai die seisoen in die Wes-kaap. Oom Danie het net vanoggend by die draf gesê hoeveel dae van die somer oor is voor herfs aanbreek. Saam met die nuwe seisoen sal ons reën kom. 

Ek kyk na ons dor gras. Ons kindertjies bad nie meer so entoesiasties soos aan die begin in die groen skotteltjie nie. Dit sal ook verbygaan.


Die gety kan immers so vinnig draai. Ons moet net nie moed verloor nie. Daar kan ontsagtelik baie in ‘n week se tyd gebeur!

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep