Posts

Showing posts from September, 2013

Lê-goed raak op

Dit was nie ‘n maklike taak om die huis uit te sorteer voor my pa se tweede troue nie. My ma was ‘n netjiese, georganiseerde vrou. Ons huis was net so vol. Oorvol. Ons moes huis leegmaak vir die nuwe seisoen in my pa se lewe. Die gedagte aan ‘n “nuwe” huis was seergenoeg. Die skoonmaak en verdeel was regtig pynlik…soos trap in ‘n duwweltjie, kaalvoet, vroegoggend.   My ma was jammer vir haar goed. Ons het op baie “skatte” afgekom in haar linne laaie. Die kis in die sitkamer was ook vol verrassings. Links bo, agter in my ma se klerekas was ‘n skoenboksie met briefies van ons af. Sy het ook nog haar juwelekissie uit haar dogtertjiedae en eekhoringspaarbussie gehad.   Daar was so baie om te verdeel. Daar was so baie wat nog nooit gebruik is nie. Daar was die blou uitstalgoedjies en die silwerlepeltjies met dorpe se name daarop teen die muur. My reël is…as ek dit vat, gebruik ek dit. Nou eet ons soms, as ons gaste het, vir die pret met die silwer lepeltjies. Dis altyd groot pret

Staaaadiger

Ek gaan kuier vir sewe dae knap duskant Pofadder op Millerton. Stan en Marietjie se stukkie aarde onder die son. Eintlik gaan kuier ek nie hierdie keer vir húlle, soos al die vorige kere nie. Ek gaan kuier vir fraaie klein Anmari, my sussie se eersteling. Mercia, Annemarie Miller. Die trotse draer van albei haar ouma se name.   Marietjie is rustig. Sy kom eers soggens na nege uit die slaapkamer. Anmari is soos haar mamma, gelukkig en rustig.   Niks of niemand jaag hul aan nie.   Ek en Amé kom ook in die plaasritme. Ek leer in hierdie sewe dae dat Amé hou van ‘n gawe oggendslapie voor teetyd. Sy hou van ‘n lang middagslapie na middagete. Sy hou daarvan om haar tone te wikkel in die oggendson. Sy hou net niks van die sokkies waarin ek haar babavoetjies elke dag so toewikkel nie! Sy hou daarvan as Marietjie-hulle se Tommie-hond haar tone lek. Sy hou daarvan om namiddae onder die boom by die voorstoep te lê en haar te vergaap aan die blare se beweging.   Sy hou ook van hoender