Heilige kuiertyd

Ek draf ongeveer vier oggende van 'n week, op 'n goeie week, saam met 'n groep mense waarvan ek nie baie weet nie. Ek ken hul name. Ek weet met watter soort tekkies hulle hardloop - want elke drawwer het 'n handelsnaam waarvan hy nie durf afwyk nie. Ek weet meestal nie eens watter tipe werk hulle doen nie.

Ek weet egter hoeveel kinders elkeen het, wat die kinders se name is en hoe oud die kinders is.

Martin het 'n tweeling 2-jariges en ek probeer nogsteeds "uitfigure" hoe 'n man wat so min slaap,
5-uur in die oggend SO vinnig kan hardloop! Gert oefen smiddae in die vakansie met sy twee meisiekinders om hulle fiks te kry. Die jongste het 'n nuwe hokkiestok. Marelise se meisiekind het 'n baie oulike "boyfriend" wat eerste span hokkie speel. Loftus draf soms saam met Annabel. Ciske se laaitie hou van visvang.

So kan ek nog aangaan. Eintlik wil ek vertel van Kobus se Stefan.

Stefan het aan die begin van die jaar die nes verlaat vir sy studies naby George. Hulle gesin is baie na aan mekaar en dit was seer en swaar om hul oudste die wye wêreld in te stuur. Ons was almal jammer vir Kobus. Maandag vra ek uit na Stefan. Dit is mos darem vakansie. Hy is sekerlik oppad huistoe. Dan vertel Kobus opgewonde soos 'n kind dat sy seunskind oor 'n week huistoe kom vir die vakansie. Sy vrou is reeds besig om beskuit en koekies te bak. Hy wil sy seun die langste druk gee wat 'n pa sy seun maar kan gee.

Hy verlang verskriklik na sy seunskind.

Later dink ek oor toe ek vakansies kom kuier het. Dit was so spesiaal. Weke vooraf het ek die slapies begin tel. Ek het daardie eerste twee dae nie ophou praat nie. Saans het ek my pa en ma aan die slaap vertel. Ek was deel van 'n nuwe baie opwindende wêreld, ver en anders as Makkiesplaas, en ek kon nie wag om alles daarvan met my ouers te deel nie.

My ma het die rooitapyt, of kostapyt uitgerol! Van wortelkoek tot kaiings. Al my gunstelinge vir 'n paar hemelse dae by die huis. Die laaste aand voor ek terug moes gaan, het ek op 'n matras voor my pa en ma se bed geslaap. Vandag is ek so bly oor al daai ekstra kuiertyd. My en my ma se kuiertyd op aarde was immers so min. Ek het dit ten minste ten volle benut terwyl ek kon.

Kobus en Stefan, geniet julle heilige kuiertyd een van die dae. Dis kosbare onthougoed wat mens lewenslank saamdra!

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep