Saam om 'n tafel

Die laaste week kuier ons met drie verskillende, baie uiteenlopende, baie lekker gesinne. Dis nie ons styl nie. Ons kuier hoogstens een maal ń week met mense op 'n Saterdagaand, met die klem op hoogstens. Ek kom uit ń grootwordhuis waar kuier op Saterdagaande so half wet was. My ma was besonders lief vir mense, en dit was deel van ons gesin se kultuur; skermkuier op Saterdagaand met die bure. Omdat my ouers op ń plaas gewoon het, kon dit soms eensaam raak. Daarom was Saterdagaande kuier so half ń noodsaaklikheid.

Aangesien ons gesinnetjie nou dorpsmense is en manlief daagliks in 'n baie groot en besige kantoor werk, is sy aptyt vir Saterdagaand kuier ietwat minder. ń Sameloop van omstandighede maak dat ons die laaste week dus so baie kuier.

Saterdagaand kuier ons by Lyndi en Jeandré en kleine Jean-Luc op hul lieflike plaasstoep buite Riebeeck-Kasteel. Die uitsig slaan jou asem weg en jy kan op ń mooi dag tot by Tafelberg sien. Wanneer jy so op hul stoep kuier voel dit kompleet asof jy van al jou sorge vergeet. Die manne kry selfs kans om windbuks te skiet. Skiet is immers die een groot liefde wat ons mans deel. Ek en Lyndi kom van Universiteitsdae af en tyd is altyd te min vir wat ons alles wil praat. Lyndi hou van kosmaak. Daarom dat sy altyd iets ongeloofliks optower vir wanneer mens daar kuier. Soos gewoonlik verras sy ons met haar kookvernuf. Haar peppermintcrips nagereg laat ons tone krul van lekkerte.

Na ete haal Jeandré ń botteltjie Mullineux Straw wine uit. Ek het eerlikwaar nog nooit iets so lekkers en so besonders gedrink nie. Ons drink dit klein slukkies terwyl ons die son en appelkose daarin proe (Tasting notes: The nose and palate is a complex, enticing blend of dried peaches, apricots and marmelade, with savoury, nutty aromas of almonds, marzipan and honey). Ek glo dat ek nooit weer in my lewe iets presies so lekkers sal drink nie. Al Mullineux se wyn is lekker maar hierdie is die kersie op die koek. Dankie Jeandré!

Sondagoggend skiet ons deur Hermanus toe om skoonsus Soretha-hul se nuwe strandhuis te gaan bekyk. Daar is behalwe die twee matrasse, nog nie ń enkele meubelstuk in die huis nie. Dit raak ń baie spesiale kuier. Ons eet noodgedwonge uit papierborde met plastiek eetgerei. My swaer het darem glase gaan koop sodat ons Gin & Tonic uit regte glase kan drink. Mens gee nie om vir papier en plastiek as jy eet nie, maar drinkgoed hoort ten alle tye in glas!

Soretha het iewers by ń padstal die ongelooflikste tuisgemaakte pastei en boboties gekoop. Sy warm dit op in hul nuwe oond en sit dit voor saam met ń  papierbord-uitpakslaai. ń Heerlike broodjie met regte botter rond die maaltyd af. Ons staan rondom die toonbank sonder stoele en eet ons koningsmaal. Ons drink ons lieflike na ete koffies (uit die nuwe koffiemasjien) sommer so op die vloer met ons rug teen die muur.

Ek hoef nie eens een keer op my senuwees te wees dat die kinders iets gaan omstamp of vuil mors nie. Ons sit die grootste deel van die dag op handdoeke op die dek en kuier. Ons uitsig is Hermanus se see ...

Dit raak ń baie spesiale kuier wat ons nie gou sal vergeet nie sommer so eenvoudig en diep lekker!

Ons laaste kuier was Woensdagaand met Sakkie en Izelle en hulle drie kindertjies en kleinsus Marli. Ek hoef vir niemand met kinders dit uit te spel hoe ń kuier werk met vyf kinders tussen die ouderdom van ses en een nie. Dis soos ń brander wat jy eenvoudig vat soos jy hom kry. Onse Amé-kind geniet die geselskap van die Nel-sussies heeltemal te veel. Daars geen keer aan haar uitbundigheid nie. Klein Simon, die baba van die span eet Boesmanland lieslappies dat die vet later ń blinkstreep om sy mond sit. Sy mamma staan verstom, want Simon is nie ń ywerige eter nie.

Mens leer altyd iets by hierdie couple. Hulle was lank ons selgroep leiers en is werklik aan die brand vir die Here. Kleinsus Marli is ń staatmaker. Sy run die show en doen alle voorbereidings van slaaimaak tot tafeldek.

Taratataaa dis ons drie kuiers in een week opgesom op ń bladsy. Dis goed om brood te breek en ń glasie te klink met mense om ń tafel. Met of sonder stoele. Mens leer bymekaar, mens inspireer, mens ontspan.

Dis nodig.


As jy lanklaas so gemaak het, stuur sommer vandag nog ń uitnodiging. Die kos en wyn hoef nie uitspattig te wees nie, net hartlik en opreg. Dis die wenresep tot heerlik saamkuier!

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep