Verlep

Vanoggend skuins na 5 durf ons drafgroep die bult langs Wellington se hoërskool aan. Almal klink klaerig. Almal voel tam en moeg. Dis seldsaam dat die lede van die drafgroep so praat. Daar is normaalweg net optimisme en energie as jy aanmeld vir draf soggens 5-uur.

Ek sien dit in my vriende. Ek sien dit in my kinders. Ek sien dit selfs op TV. Lewensblye Pippa lyk die laaste tyd taamlik gedaan gelewe. My Emsie-vriendin sê net mense met klein kinders sal weet om Pippa nie te oordeel oor haar (klaarblyklike) drankprobleem nie. Kinders grootmaak is ń voorreg. Maar. Dit verg egter ALLE energie en ALLE geduld waaroor jy beskik. Soms meer as waaroor jy beskik.

Ons is halfpad deur 2017. Meeste van ons lyk verlep.
.
Ek gaan stop anderdag met ons twee en die bure se twee in ń vreemde iemand se wingerd net buite Wellington. Die kindertjies begin hardloop dadelik sorgeloos in die stofpad af. Later pak Liam ń kamma-kamma vuurtjie en Daniël help hom daarmee. Nie lank nie of die twee braai heerlik vleis by hul staan vuur. Isla en Amé ballet in die stof dat die stof letterlik staan.




Dit lyk so verskriklik lekker.

Terwyl hulle die lewe geniet whatsapp ek vir Yolande hoe oulik ons kinders is. Ek neem ń paar fotos. Ek dink oor aandete. Ek wonder of ek die volgende oggend moet draf. Ek wikkel aan my trouring wat te styf sit. Ek verlang na my ma. Ek dink aan ń duisend ander dinge en my kop bly besig, besig, besig.



Dalk is ons koppe en lywe moeg van besig wees. Dalk wil my gestel ń blaaskans neem van fone en rekenaars en google en facebook en TV en die klomp nonsense in my kop.

Dalk is dit tyd om ń staanvuur te maak in die stilte of te ballet in die stof. Ek hoef nie altyd besig te wees met iets nie. Dis immers eers wanneer ALLES in jou stil raak dat jy regtig hoor wat eintlik saakmaak.




Die stem van ons hemelse Pa. Hy is immers ons lewensbron.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep