Posts

Showing posts from May, 2013

Pinkstertyd op Kakamas

Toe ds. Peet Sondag aankondig dat nagmaal komende Sondag begin, kon ek nie help om terug te dink aan nagmaal as ‘n koshuiskind nie. Nagmaal in Kakamas se pragtige N.G. Kerk in Voortrekkerstraat langs die laerskool. My kerkklere was maar skraps. Ons het nie elke Sondag kerk toe gegaan nie. Kakamas kerk was net té ver.   My pa het Sondae vir ons Sondagskool gegee in sy kantoor. Sondagskool was na die RSG-preek oor die radio. My pa se sondagskool was altyd lank. Hy het elke lessie met groot deeglikheid voorberei. Ek wonder vandag hoeveel laat aande hy hieraan gewerk het. Aande wat hy dalk ook eintlik baie eerder met ‘n Landbouweekblad sou wou bed toe.   Pinkstertyd was dus vir my ma ‘n kopseer. Sy moes vier dae se kerkklere vir haar drie meisiekinders bymekaar kry. My en Marietjie se kerkrompies kleintyd was altyd self gemaak deur my ma. Ons was mal oor geruite materiaal. Of ek kan nie onthou of my ma mal daaroor was en gevolglik ons ook nie. Die somtotaal van ons kerkklere wa