Posts

Showing posts from July, 2013

Die ding van sjokolade

Meelgoed is haar dood, kla my tannie Kotie altyd. Enige blêrrie meelgoed. Dis nou van ‘n snytjie brood met kaas en konfyt, tot ‘n sny ciabata-brood met lekker rojaal botter daarop. Jou tandemerke moet ten minste sit as jy klaar gehap het. My pa is ook ‘n meel-mens. Hy sal sy siel verkoop vir ‘n dik sny vars boerbrood. Verkieslik die korsie. Smeer ‘n lagie vet en vyekonfyt daarop, met so skeppie kaiings teen die kant, en hy is in die hemel. Lyndi kla altyd oor haar soettand. Sy kan ‘n tweede koeksistertjie, of ‘n goeie stukkie sjokolade nie weerstaan nie. Sy hou dit nie eens meer in haar huis aan nie. Dit stel haar tog net in die versoeking. Sy kan haarself soms nog tot ‘n mate handhaaf, maar ‘n glasie wyn later en jy skrik nie meer vir die gevaar wat soet inhou nie. Dan lag jy vir die kilojoules. Wyn gee onnodige, onwelkome bravade, aldus my vriendin. Ek was nooit lief vir sjokolade nie. Iewers tydens my swangerskap het iets lelik skeefgeloop. Ek het sjokolade ontdek. En ek w

'n Pa-en-dogterstorie

Ons gesels elke oggend saam op die bed voor Lambrecht pad vat werk toe. Vanoggend maak ons weer so. Lambrecht leer Amé die vingers – eers die duim, dan die wysvinger, dan die middelvinger. Hy hak ewe skielik vas. “Dan die ringvinger,” help ek. “Nee, ons moenie nou al met ‘n ringvinger kom nie. Sy moet nog niks weet van ringe nie. Ek weet nie wat ek doen as sy die dag met ‘n “boyfriend” by die huis aankom nie.”   Ek dog eers my man maak ‘n grap. Ons babadogtertjie is maar skaars vier maande oud, en hy lyk alreeds verergd oor die ouens wat baie ver in die toekoms by ons huis sal wil opsit. Net die gedagte maak hom na ‘n bose Pappa lyk.   Ek spot anderdag met Stan, my swaer van Pofadder, dat hulle dogtertjie darem eendag baie Pofadderklonge sal hê wat wil kom kuier. Plotseling kom daar ‘n donderwolk oor sy gesig. “Hulle moet net weet, nie enige donner sal op hierdie werf kom kuier nie,”was sy antwoord onmiddellik. Dis belangrik om te weet dat Anmari eers oor ‘n maand gebore sal

Die tyd vlieg

Ek raak oud, besef ek met ons onlangse kuier op Makkiesplaas. (Ek ken die storie van ouderdom is ‘n relatiewe begrip. Nogtans.) Ek stap na die gronddammetjie so half kilometer van ons huis af. Ek wil alleen gaan. Ek tel eers plat klippies op om te sien of ek nog ‘n koppie en piering kan gooi. Die genoegdoening van my eerste volmaakte koppie, piering en teelepel sal seker net ‘n goeie gooier kan begryp. Dan stap ek na die inloop van die gronddammetjie. Dit maak sulke lekker hol inspoelplekke wat altyd ons huisies was. Ek gaan sit in die grootste “huisie.” Hier moes my Wilma-vriendin ‘n veltie vang in St.2. Die gedagte het haar glad nie aangestaan nie. Daar was nie uitkomkans nie. Haar nood was groot en die huis ver. Ek kry ‘n wit kaartjie waarop in koningsblou ‘n versie geskryf is in sierskrif. Agterop het Liezl in haar mooiste handskrif geskryf: Ek is lief vir jou. Dis baie oud, St.3 oud. Die kaartjie is waarskynlik by Kakamas se Christelike boekwinkel gekoop. Dit was een van on