Die ding van sjokolade


Meelgoed is haar dood, kla my tannie Kotie altyd. Enige blêrrie meelgoed. Dis nou van ‘n snytjie brood met kaas en konfyt, tot ‘n sny ciabata-brood met lekker rojaal botter daarop. Jou tandemerke moet ten minste sit as jy klaar gehap het. My pa is ook ‘n meel-mens. Hy sal sy siel verkoop vir ‘n dik sny vars boerbrood. Verkieslik die korsie. Smeer ‘n lagie vet en vyekonfyt daarop, met so skeppie kaiings teen die kant, en hy is in die hemel.

Lyndi kla altyd oor haar soettand. Sy kan ‘n tweede koeksistertjie, of ‘n goeie stukkie sjokolade nie weerstaan nie. Sy hou dit nie eens meer in haar huis aan nie. Dit stel haar tog net in die versoeking. Sy kan haarself soms nog tot ‘n mate handhaaf, maar ‘n glasie wyn later en jy skrik nie meer vir die gevaar wat soet inhou nie. Dan lag jy vir die kilojoules. Wyn gee onnodige, onwelkome bravade, aldus my vriendin.

Ek was nooit lief vir sjokolade nie. Iewers tydens my swangerskap het iets lelik skeefgeloop. Ek het sjokolade ontdek. En ek weet mens sweer nie, maar ek wil amper sweer dat hul iets daarin gooi wat verslawend is. Ek weet nie hoe alkoholverslawing is nie. Maar ek dink die tweetjies moet baie dieselfde wees. Jy haal die “slab” uit die kas met die mooiste voornemens. Net twee blokkies elk, klaar. Dan gaan bêre jy die sjokolade. Sodra jy weer lekker knus onder jou kombers is besef jy, jy gaan nie rus vir jou siel kry voor jy nie nog twee blokkies verorber het nie. Dan los jy die sjokolade sommer net daar op die koffietafel omdat jy kwansuis te lui is om dit weer te gaan bêre. As jy jou oë uitvee het jy ‘n hele “slab” saam met jou man klaargemaak. (Hy was regtig nie lus daarvoor nie, maar om die vrede in jul huis te bewaar het hy saam geëet.) Dan kyk jy na jouself en dink: Jou swakkeling. Ek is so teleurgesteld in jou.

Volgende Vrydagaand drink jy ‘n glasie wyn en maak weer so.
 
Ek gesels anderdag met Erica, ‘n vrou wat groepies het wat vroue help om gesond te eet. Hierdie gesond eet lei gewoonlik tot gewigsverlies. “Dis die kos waarvoor jy nie bid nie, wat vet maak,” maak sy die ander aand bekend. Ons almal frons eers. Dan maak dit sin. Dis die “slab” sjokolade laataand voor die tv, die sny koek saam met jou Sondagnamiddag koffie, of die impulsiewe melkskommel wanneer jy eerder koffie moes bestel.
 
Dit maak heeltemal sin. My man se oplossing is prakties. Ons moet net begin bid vir alles wat ons inneem, besluit hy terwyl hy sy cream soda Steri Stumpie met smaak drink. Sonder om daarvoor te bid.

Elke Donderdagaand weeg ons ook by die groepie. Laasweek het ek so ampertjies ‘n kilogram “babavet” afgeskud. Ek was so opgewonde daaroor dat ons nog daardie selfde aand ‘n ongelooflike lekker en vet skaapnekkie verorber het. Hy het lank in die oond gebak en sy vetjie was so lekker bros.  Dit het natuurlik hand-aan-hand geloop met taamlik rooiwyn. Die volgende oggend was ek vies vir en teleurgesteld in myself. Dis mos nou die storie van geen wilskrag hê nie. Benewens die teleurstelling was ek galsiek.

En Lambrecht het baie mooi gebid vir daardie lekker geil nekkie.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep