Posts

Showing posts from 2012

Marli is oppad Potch toe

Na ons kersmiddagslapie gaan sit ons   lui op die voorstoep. Dis tyd vir lysie maak. (My absolute gunsteling aktiwiteit in die w ê reld – tot my man se irritasie.) Ons baba-sussie gaan eersdaags Potch toe vir haar eerste studiejaar. Ons moet haar help met ‘n lysie van belangrike inpakgoed, koopgoed, kosgoed en ander onthougoed. My pa sit by. Hy wil darem ook insette lewer.   Ek kan byna nie glo haar tyd het aangebreek het nie. Dit voel net soos anderdag nog toe sy haar gunsteling armband vir my kom gee het – oor ek so gehuil het toe ek voor my nuwe koshuis afgelaai is in Bloemfontein. Rou eerstejaar uit die Boesmanland. Alles maak jou bang. Die baie mans, die kwaai seniors, die baie karre en mense, die min vlaktes en stof.   Nou is dit egter Marli se beurt. Potch toe.   Ons begin by kombuisgoedjies. Sy moet ‘n braaipan kry. Ons het graag Sondagvleis in ons braaipanne gebraai. Net baie spesiale vriendinne kon saam eet. Sy moet ook ‘n klein Pep Stores pannetjie en potjie kry

Somerskersfees op Makkiesplaas

Dinsdagmiddag skuins na een sit ons twaalf mense rondom houttafels onder die peperbome by ons voordeur. Daar’s ‘n effense briesie in die lug. Dis Kersdag. Ons vier Jesus se verjaarsdag soos so baie ander mense regoor die w ê reld.   Ons tafel is wit en rooi. Rondom elke wit servet is ‘n rooi selfgemaakte vilthartjie gebind. Ons doen nie hierdie jaar “crackers” nie. Onder elkeen se bord is darem ‘n Woollies kersfeespaaseier. Woollies stel geensins teleur met hul produk…en dit ten spyte van die feit dat die eiers al die pad van die Paarl is en al meer as een keer gesmelt het! Tot ons groot vermaak is daar in elke eier se papiertjie ‘n “sticker.” Ons plak dit sommer op ons voorkoppe. Dit lyk inelkgeval net so bespotlik soos die helderkleurige krone in ‘n standaard “cracker.”   Ons dra die kos vinnig op met tafelnetjies. Die vlie ë is lam en lui van die effense hitte in die lug. Hulle vlieg sommer traag op as jy hulle durf afwaai van ‘n hoenderboudjie of stukkie tong. Mens sukk

Kuier by Ouma in Sterkstroom

Image
Ons stop Maandagmiddag betyds vir middagete by my ouma se rooidakhuisie in Sterkstroom. Alles lyk nog soos dit laas was. Behalwe vir die parmantige nuwe swart haantjie op my ouma se dakkie. Dis nou die dakkie wat oor die klein stukkie stoep by haar voordeur is. Die stoepie wat vol goetertjies is. My ouma is 'n goetertjie mens. Daar's die uil en akkedis teen die muur. Die plastiekwurms in die potplante, die klippe met geverfde boodskappe. Dis so uniek aan my ouma. "Ounooi weg," verduidelik my ouma se bediende, Sletjie met sulke wilde armswaaie. Dit lyk amper of my ouma nie beplan om ooit weer terug te wees nie. Marietjie verduidelik dat dit ons ouma is, en dat ons dringend wil inkom. Ons moet toilet toe. Sletjie ken ons nie, en sy verstaan nie ons taal nie. Ek sien Marietjie raak benoud. Dan onthou sy van haar babafoto by Ouma se ingangsportaal - met wilde vingerswaaie beduie sy: "Dis ek." "Whena?" vra Sletjie beindruk. "Ja whena",

Tyd vir Kersfees beplanning

Marietjie bel my einde November. Ons moet dringend gesels. Kersfees kom vinnig nader. Wat het ek ingedagte vir die kerstafel en kersete? Die wind is effe uit my seile. Ek sukkel nog met my nuwe lyf, die Paarl se hitte wat minder aangenaam is en 'n paar ander dinge. Ek's nog glad nie by Kersfees of ons kersete nie. Ek weet dit kom nader. Checkers se kersliedjies en spesiale aanbiedinge of Whiskey sjokolade en 'n paar ander dinge herinner my daagliks. "Uhm, ou Tieks, ek het nog niks gedink nie, maar wat het jy en tannie Marinda gedink?" Kersfees sal immers op Makkiesplaas wees. Pappa en sy meisiekindes en tannie Marinda en haar meisiekinders. En waarskynlik 'n feestelikheid met baie kos! "Ons het 'n hele lysie Surra. Ons het ook sommer uitgedeel wie wat moet doen. O ja, en jy is in beheer van tafeldek. Jy hou mos daarvan. Kry gou 'n pen en papier en dan skryf jy neer wat jy moet maak." Pure juffrou! Ek hoor hoe lekker ons kerstafel gaan

Vyetyd op Makkiesplaas

Vyetyd het ons die grondpaadjie tuintjie toe puf gestap - ek het die voorvye eerste gewaar, want ek stap die graagste. Die tuintjie is so ongeveer 'n kilometer van ons huis af. Dan sou my pa een namiddag aankondig: "Ons kan vanmiddag gaan vye pluk. Griet, is jy reg vir konfyt kook? Het jy genoeg suiker." (My pa het my ma nooit op haar doopnaam genoem nie. Sy was altyd Griet vir my pa.) My ma was 'n vrou van beplan en voorberei. Daar was altyd genoeg van alles in ons piepklein, oorvol spens. Van suiker, tot blikke vol beskuit en tuisgebakte kleinkoekies, tot ekstra Doom en blikkieskos. Net vir ingeval. Die suiker was dus nooit 'n probleem nie! Dan is ons hele gesinnetjie op my pa se ou blou Toyota bakkie tuintjie toe. (Daai bakkie dateer uit die vroeë tagtigs, en my pa glo steeds dis die beste bakkie wat nog ooit gemaak is. Sy leeftyd is verewig.) Ons meisiekinders moes agterop staan. Ons het altyd van daardie blou Vodacom en geel MTN kêppies gedra wat normaalw

Hoog vlieg

Image
Nie alle vo ë ls kan vlieg nie en die verskil tussen die twee is dat vo ë ls wat vlieg, geleer het om op te styg .   –Carl Sagan-   My man neem my vanmiddag na die pragtige Zorgvliet, halfpad tussen Stellenbosch en die Paarl. Ons gaan piekniek hou vir my 28ste verjaarsdag. Net ons twee. Ons sal my verjaarsdag Woensdag op die regte dag saam met vriende vier. Maar vir nou, is dit net eers ons twee.       Ons pak ons piekniekkombersie wat nog uit ons Engeland-lewe kom, ook in. Lambrecht gaan pik ons mandjie op terwyl ek solank die beste skadukolletjie, eenkant en privaat uitsoek. Ek ontdek die perfekte plekkie. Dis so half asof Jesus die kol vir ons uitgeboek het vir die middag. Dit is effe op ‘n hoogte en kyk uit oor al die ander piekniekgangers. Ek skop sommer dadelik my skoene uit en speel bietjie met my tone in die gras. My Lyndi-vriendin het altyd so graag kaalvoet op die gras gestap toe ons nog studente in Bloemfontein was – “want die gras kielie my tone so lekker Su

Vier jaar

Lambrecht kry my vanoggend op my lapbank, bene opgetrek. Ek luister na baie diep musiek. En my trane loop oor. Dit loop en loop sommer net sulke ongeordende voetpaadjies oor my gesig.   “Is jy ongelukkig my engel?” vra hy onseker. “Wat maak jou so hartseer?”   Dit voel so simpel om dit deesdae te s ê – my ma vier immers Woensdag al haar vierde jaar in die hemel. “Ek mis my ma ontsagtelik Lambrecht. Ek het so baie vragies oor die seisoen waarin ek nou is. Sy sou alles verstaan en antwoorde h ê vir alles.”   My man kom sit langs my – onbeholpe. Hoe verstaan mens hoe dit voel sonder ‘n ma as jyself nog beide jou ouers het. Lambrecht het al geleer om nie te probeer troos met woorde nie. Sy w éé s by my is heeltemal genoeg.   Net voor hy opstaan van die bank af vra hy versigtig, “My engel, as jy nou een minuut met jou ma kan kry, wat sal jy s ê ?” Ek hoef nie eens lank te dink nie… “Ek sal haar sommer net vashou. Ek wil haar weer ruik en voel. Genadiglik het ek nooit nagel

Boerbeskuit en kondensmelkkoffie

Ons arriveer skuins na middernag in Kakamas. Sommer met die afklimslag waarsku ek: Ons soek nie koffie of tee of koeldrank nie. Ons soek ‘n bed, want ons is gedaan. Ek het mooi wakkergebly – al die pad van die Paarl af tot by Garies. Toe kan ek nie meer nie. Ek moet bieg – ek het geëet om wakker te bly. As my kieste nie kou nie, trek my oë na mekaar toe! By Garies was ek eenvoudig moeg geëet én moeg wakkergebly. Kort anderkant Marchand maak my man my wakker uit ‘n diep en gelukkige slaap. “My engel, ons is nou amper in Kakamas.” Hy gee my normaalweg kans om die ergste slaap uit my oë te kry en net ordentlik te ontwaak. Ek sms my pa dat hy maar solank die elektrise hek kan begin oopmaak. Ons wag vir ‘n wyle voor ‘n toe hek in ‘n slapende dorp, voordat ek my Marietjie-sussie bel. Die hek skuif dadelik oop. Sy ontmoet ons by die voordeur in haar kort, wit somersjaponnetjie. Ons twee sussies en my ma het dit een jaar saam by Mr.Price gekoop. Dit het nog sulke koddige wit pantoffeltj

Ons eerste enetjie

Dit was ‘n Vrydagaand. My maag voel toe al vir so twee weke vreemd. Vriendin Emsie sms: “Jy moet ‘n swangerskaptoetsie gaan koop.” Ek sms vinnig terug, “Emsie dis regtig byna onmoontlik.” Lambrecht besluit dat hy die toetsie sal gaan koop. Niks is mos ooit onmoontlik nie.   Hy daag met twee “twin packs” by die huis op. “Clicks het ‘n ‘special’ op ‘twin pack’ swangerskaptoetsies,” verduidelik hy verskonend. Ek besluit om eers ‘n lekker glas van Mareli se La Motte witwyn te drink voor ek die toetsie doen, want netnou is ek perongeluk swanger en dan moet ek wyn aflê. Lambrecht slaan ons eerste braaitjie buite op terwyl ek die toetsie gaan doen. Ek dink ek het laas so die bewerasies gehad toe die polisie ons agtervolg het met ‘n uitslipsessie uit die koshuis, in matriek. Lambrecht besluit om die res van die bottle La Motte self die bodem te laat sien. Van Heerden, sy broer, begin sms gelukwensings. Hy begin maak ook dadelik somme om te bepaal wanneer ons datum behoort te wees. Ek

Ons derde matriekafskeid

Nege jaar gelede was dit my matriekafskeid. Tannie Lee, my ma se baie knap buurvrou, het my rok gemaak. Die materiaal het hulle tweetjies sommer self vir my uitgekies. Blykbaar kon ek niks anders as bottelgroen waag dra nie. Die materiaal is terloops teen ‘n ongelooflike winskoop bekom. Die laaste afronding was die fyn kraletjies op my bostuk. My ma en tannie Lee’tjie het daardie krale so met die bottel Amarula liquor tussen hulle aangevat . In ons Makkiesplaas kombuis met RSG op die agtergrond. Abrie Pieterse was my “date”. Hy het my nog in die Skeinatklas gevra, waar almal kon hoor. Dit was tot groot vermaak van die hele klas. Dit was die eerste matriekafskeid in ons gesin. Ek’s bederf met uiteet en koffie in Kakamas se enigste koffiewinkel op daardie stadium, die middag van die matriekafskeid. En daai tyd het die Nelle nooit uitgeёet nie. Net as Marli verjaar het, omdat sy ‘n Spurkaart gehad het en met haar verjaarsdag ‘n “free kiddiesmeal” kon kry. Ons woonplekkie op daardie

Vir my pa

Sy   kan po ë sie maak van die eenvoudigste oomblik . (Kommentaar op Katinka Heyns se werk in die nuwe fliek “Wonderwerker.”)   Ek gaan stap na werk ‘n draaitjie. Sommer net in ‘n poging om kleur te kry op my lyf wat nou twee winters na mekaar deur is, eers ‘n Engelse een, en daarna ‘n Suid-Afrikaanse een. My laaste stukkie stap is verby ‘n dubbelverdieping hoekhuis met ivy wat so al teen die een muur oprank. Die huis se voorkant kyk uit op die 19de putjie van Boschenmeer Golf Estate se gholfbaan. Op die stoep sit ‘n oom op ‘n strandstoel. Hy kyk ver uit oor die gholflandgoed terwyl hy rustig teug aan ‘n glasie witwyn. Yskoud. Druppeltjies water slaan uit op die buitekant van die glas.   Ek groet beleef. Dan wonder ek: Is daai oom se lewe volmaak. Voel hy asof hy arriveer het.   Ek begin dink aan my pa. My tevrede Pa in die Boesmanland. Ek het hom nog nooit op ‘n strandstoel sien sitl ê nie. Buitendien sal hy nie in daardie posisie kan sit nie. Sy rug is gedaan…van voer

Die wonder van lewe

In this world we're just beginning To understand the miracle of living Baby I was afraid before I'm not afraid, any more Oh, baby do you know what that's worth? Oh, Heaven is a place on Earth They say in Heaven, love comes first We'll make Heaven a place on Earth Oh, Heaven is a place on Earth   (Belinda Carlisle, Heaven is a place on earth)   Die liedjie speel gisteraand toevallig op RSG terwyl ek my ma se noedelslaai resep aan die een kant inl ê , en aan die ander kant vir ‘n slag regte muffins bak. (Ek doen deesdae net die pakkie-ding.)   Vanoggend gaan laai ek vir Jesse by Build It se voorstoep op. Sy kom werk so wanneer sy lus voel en geld nodig het. Sy’s laat soos gewoonlik. Met die inklimslag weet ek’t Jessie het gisteraand partytjie gehou. “Ja Sun é , ek en my tjommies het gisseraand ‘n biertjie en soe gedrink. Jammer Sun é .” Ek skud net my kop. Ek’s baie erg oor Jessie. Hoekom, weet ek ook nie aldag nie.   Ons laai vir Jessie by die

Teruggaan op jou spoor

Image
Ons was vier jaar gelede ook hier. Toe was ons lewensmoeg en broos. My pa wou nie eens die see sien of hoor nie. Hy kon homself genadiglik kry om soggens op te staan en iets te eet. Dan het hy vir die res van die dag by oom Jan op hul heerlike koffieplek, Die Droograk, se stoep gekuier. Oom Jan moes baie luister. Af-en-toe het my pa hom praatkans gegee.   Woensdag het ek vir oom Jan se vrou, tannie Ida ‘n boodskap gestuur. Ek en my man moes seetoe. Ons moes wegkom van al Paarl se mooi en goed. Ons siele het see nodig gehad. Ons moes seelug in ons longe kry, weskus wind in ons hare en met ons tone in die seesand boor. Tannie Ida is altyd vinnig. Binne minute was sy terug met Liz se nommer. 14 On Beach is so na as wat jy in Yzerfontein aan die see kan kan.   Saterdagm ô re vroeg-vroeg l ê ek al wakker. Ek kan hoor die see klink ontstuimig. Elke nou en dan waai re ë ndruppels teen die ruit vas. Ek staan later op vir koffie en beskuit en gesels met Jesus. Knap voor sewe vat ek m

"Take away"-kuier in die Paarl

My Marietjie-sussie uit Pofadder se vlaktes kom kuier verlede week vir drie nagte hier by ons. Sy het saam met ons teruggekom Paarl toe na die langnaweek. Woensdag sou sy weer saam met Jaco en Sarien, hul plaasbure, huiswaarts keer.   Ek’s natuurlik giggelrig oor hierdie spesiale tyd saam met my een sussie. Sy moet ongelukkig nog vir oulaas op ‘n matras slaap in die kamer met net een gordyn. Ons mooigoed uit Engeland behoort darem binne die volgende week met die skip te arriveer. Ek belowe Marietjie dus plegtig dat sy met haar volgende kuier op ‘n ordentlike bed sal kan slaap.   Oppad Sondag wil ek weet vir watter Kaapse kos is sy lus. Tipies aan my oudste gene wil ek solank spyskaart beplan. Sy’s lus vir snoek en “take aways.” Ek moet net asseblief nie kookkos maak nie. Sy eet dit elke dag by haar eie huis, verseker sy my.   By ons Paarl-huisie aangekom, kom Marietjie kombuis toe met ‘n sakkie bederfies uit die Boesmanland. “Hierdie is sommer ‘n paar van Steyn-hulle se le

Jou voordeur

“Wat’s agter jul voordeur?”   Hy sit die vraag so onverwags op die houttafel tussen ons nege vrouens. Dis my eerste oggendbybelstudie saam met hierdie vrouens. Die groepie is baie uiteenlopend. Sewe van ons is Afrikaans en versigtig. Ons kleredrag is konserwatief. Die ander twee is Engels en meer uitgesproke. Die vraag laat almal egter ietwat ongemaklik rondskuif. Dis maklik om te skuil agter mooi klere en in blink motors. Wat agter ons voordeure aangaan is mos persoonlik.   Die Engelse donkerkop met ‘n gryserige jas en swart “boots” aan, waag dit eerste. “We are not fun anymore. Everything is about performance. You need to perform to be accepted. I’m   fighting against this lie society is telling us.” Almal knip kop. Ons “fight” almal saam, sien ek. Jy moet reg loop, op die regte plekke koop, na die regte kerk gaan, met die regte motor ry en in die regte adres bly. Dis ‘n felle oorlog om te stry.   Ek dink skielik aan ons eie   voordeur. Agter daai deur is ‘n lapbank omdat

Mimosa Mall se Wimykoffie

Wimpykoffie was iets wat ons altyd as student kon bekostig. Ons moes mooi werk met die swaarverdiende sakgeld wat my pa elke maand in ons Standardbank studenterekenings inbetaal het. Ek en Marietjie weet hoe werk droogte op ‘n Boesmanland plaas as die niks kniehoog groei. Daarom het ons nog altyd die grootste respek gehad vir my pa se geld.   Elke Vrydag na klas het ons vir ‘n namiddaguitstappie Mimosa Mall toe gestap. Toe was dit oraait om nie ‘n kar te h ê nie. Net baie rykmense se kinders het karre gehad. Die res van ons moes maar stap. Ons ouers het darem gesorg dat ons ‘n “pepperspray” het vir alle kilometers   wat te voet afgel ê moes word! Ons sou eers by Pick-n-Pay aandoen vir die volgende week se inkopies voordat dit tyd raak vir Wimpy. My en Marietjie se lysies was altyd baie eenvoudig. My ma het immers na elke vakansie ‘n hele voorraad bakkies met gaar kos ingepak – dis nou van bobotie tot gevriesde braaivleis en boerbrood. Dis nou buiten die ingelegde konfyt, sou

Dis 'n land

“Dis ‘n land van kleure en klank,   dis ‘n land van oorvloed en dank, dis ‘n land wat almal na strewe, dis ‘n land sonder horison en, dis ‘n land wat weet hy kan, ook ‘n blyplek neerl ê vir my.                                                                    - Carike Keuzenkamp (Dis ‘n land)- Gister staan ek in ‘n lang ry in Pick-n-Pay.   Die oom heel voor in die ry kan so my oupa se ouderdom wees. Hy dra nog lang rugbykouse soos my pa. Toe dit betaaltyd raak ruk hy sy tjekboek uit. Almal in die ry trippel ongeduldig rond. Die oom gebruik egter sy tyd om die tjek netjies uit te skryf.   Ek staan verstom. Ek het nie eens geweet daar bestaan nog iets soos ‘n tjekboek nie!   Ek het net twee pakkies maalvleis wat met rooi plakkers op “special offer” is wat ek moet betaal. Barbara, die kassier, gee die pakkies net een kyk en s ê dan: “Jistie Mevrou, die is ‘n vreeslike goeie prys. Hulle was die ‘previous weekend’ nog ‘sixty rand’ ‘n pakkie. Ek gat vra dat hul