Teruggaan op jou spoor


Ons was vier jaar gelede ook hier. Toe was ons lewensmoeg en broos. My pa wou nie eens die see sien of hoor nie. Hy kon homself genadiglik kry om soggens op te staan en iets te eet. Dan het hy vir die res van die dag by oom Jan op hul heerlike koffieplek, Die Droograk, se stoep gekuier. Oom Jan moes baie luister. Af-en-toe het my pa hom praatkans gegee.

 Woensdag het ek vir oom Jan se vrou, tannie Ida ‘n boodskap gestuur. Ek en my man moes seetoe. Ons moes wegkom van al Paarl se mooi en goed. Ons siele het see nodig gehad. Ons moes seelug in ons longe kry, weskus wind in ons hare en met ons tone in die seesand boor. Tannie Ida is altyd vinnig. Binne minute was sy terug met Liz se nommer. 14 On Beach is so na as wat jy in Yzerfontein aan die see kan kan.

 Saterdagmôre vroeg-vroeg lê ek al wakker. Ek kan hoor die see klink ontstuimig. Elke nou en dan waai reëndruppels teen die ruit vas. Ek staan later op vir koffie en beskuit en gesels met Jesus. Knap voor sewe vat ek my kans om ‘n draaitjie te gaan stap.

 Ek trek eers my pienk reënjasbaadjie aan wat Pappa en Mamma nog vir my as student in Bloemfontein gekoop het. Dit ruik vreemd na motballetjies van jare se wegpak. Ek stap eers af strand toe vir lekker bid. Ek bid vir vriendinne en familie. Ek bid vir ons huis en ons toekoms. Ek begin by Marné wat besig is om aan haar troue te reël en bid deur tot my pa en Stan wat worstel met die Boesmanland se droog. Die see maak altyd ‘n groot verlang na Jesus in my los.

 Toe die seewind my oggendkapsel skrynserig gewaai het, stap ek op dorp se rigting. Ek wil sien of als nog is soos ons dit in 2010 gelos het. Dit was die jaar toe my Pa op ons strandhuurhuisie se stoep vertel het…hy het weer ‘n ander vrou leer lief kry. Ek onthou hoe die duiwel in my gemoed was. Ek was buite myself van woede vir my pa. Hy was dan so seker dat daar net een vrou vir hom was. Hy sou nóóit weer trou nie, het hy sy drie meisiekinders verseker toe my ma daardie dag begrawe is.

 Yzerfontein het baie verander. Daar is ‘n nuwe Spar. Die lekker kafeetjie by die vulstasie het egter toegemaak. Die hoekkafee met die lekker roomys verkoop nog lekker roomys, sien ek. Die kafee oorkant die huisie wat ons altyd gehuur het, lyk ook nog dieselfde. Dit het net sulke nuwe vlaggies bygekry.

 Heelwat later gaan loer ons by Die Droograk in. My man ontmoet oom Jan en tannie Ida. Ons drink ‘n rooibos cappuccino, eet ‘n skyfie melktert en kuier lekker. Hulle is soos familie. Ek het net al vergeet hoe hartlik hierdie mense is.

 Ek laat Lambrecht alle paadjies ry waar ons gery het. Ek gaan wys hom die lekker viswinkel wat op die hoek in mense se huis is. Ek gaan wys hom ook my Pa se niggie-hulle se huis. Al hierdie mense was deel van ons heelraak. Ons het Desembervakansies hierheen gekom vir rus, en wees. Oom Jan, tannie Ida, tannie Lista en haar man en kinders, en nog baie ander vreemdelinge van Yzerfontein het ons sag hanteer.

 Vandag is ek en my man terug, om terug te loop op ons spoor. Genadiglik het Jesus my ‘n man gegee wat altyd honger is vir luister na my stories. My hart is baie heler as vier jaar terug. Ek kon Jesus vanoggend opnuut loof en prys vir die geleende tyd saam met Mamma. My hart is rustig oor Pappa se tweede huwelik. Ek kon vanoggend selfs bid dat hy ‘n baie goeie man vir tannie Marinda moet wees, want sy is baie goed vir hom, en vir ons.

Daar’s iets kragtigs aan teruggaan op jou spoor. Dan besef jy net weer hoeveel jy het om voor dankbaar te wees.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep