Posts

Showing posts from 2022

Beurtkrag

Image
BEURTKRAG Ons is waar almal is. Ek het drie ure om hierdie storie te skryf, te post, die skottelgoedwasser te pak en aan te sit, drie vinnige bondels wasgoed te was, alle liggies te laai want dis netnou aand, ons koffiebottel vol kookwater te maak, aandete voor te berei. Ek sal werklik jok as ek sê dit doen niks aan my gemoed nie, want dit doen nie niks nie. Ons gesin is mal oor ons land. Ons is trots Suid-Afrikaans en as dit die Here se wil is sal ons regtig nooit graag hier wil gaan nie. Ons wil ook patriotiese kinders grootmaak en daarom probeer ons om eerder altyd die goue randjie rondom die donker wolkie te sien. Ons probeer mooi en versigtig dink oor die woorde wat ons spreek. Ons probeer lewe spreek – veral op hierdie stadium oor Eskom!!! Daar is een ding wat die wêreld ons moet gee: Suid-Afrikaners is aanpasbaar. Elke vlak wat ons op beweeg in nóg minder krag maak ons nuwe planne. Ons raak kreatief in tydverdryf met ons gesin. Ons speel meer bordspeletjies as ooit vantev

14 jaar

Image
 Namiddag kom stop my buurvrou van ‘n handvol jare gelede onverwags by my voordeur. Sy kom lewer net ietsie van my sussies af vir my af. Sy haal ‘n bos blomme en ‘n boksie netjies verpakte wortelkoek van agter haar sitplek af uit. Dit moes ‘n tussie mussie wees, maar sy dink nie die Paarl se tussie mussies lyk soos Kakamas sin nie, beduie sy. Die Boland sin is met mooi fynbos en ‘n paar ligpienk angeliere. My ma was altyd so lief vir angeliere. My pa het haar so graag verras met ‘n angelier wanneer hy dit in Kakamas kon kry. Die tussie mussies wat tannie Ters altyd so getrou koop het roosmalva en laventel in. Dis weer sonder die fynbos. Ek stuur ‘n foto vir my sussies van hul mooi geskenk (My sussies, tannie Ters en Liesel het saam gaan koek en koffie in Kakamas vandag om sommer net vir ‘n oomblik by hierdie dag stil te staan.). Laat namiddag deel ek ‘n snytjie wortelkoek vir die drie kindertjies. Ek vertel hulle weer van ouma Annamarie. Tussendeur happe wortelkoek kondig Adriaan aan d

Piet en Lena se Plaastroue

Image
  “Hulle is al lank saam, sy en Piet. Since nineteen ninety four . Hulle was by die plaas al baie lank. Maar sy en Piet, hulle het besluit hulle wil nou trou. Sy wil nou by Piet sy vrou wees,” verduidelik Lena mooi toe ek vra oor haar en Piet se pad saam. Marietjie het by tannie Charleen op die buurplaas gaan aanklop vir ‘n trouskepping vir Piet en Lena se mooiste dag. Lena het by die ander buurvrou, Retha, gereël vir ‘n regte egte troukoek. Retha ry naweek vir naweek die mooiste koeke Pofadder toe – van spierwit troukoeke tot derde verjaarsdag Toystory koeke tot vonkelwyn-wat-uit-die koek bars vir veertigstes. Lena wou so ‘n koek hê – ‘n mooi wit koek met haar en Piet se name op met blomme. Stan het die laaste paar jare uiteindelik uit sy matriekafskeid pak gegroei. In elke boer se kas is daar twee pakke: Jou matriekafskeidpak en jou troupak. Teen veertig is jy uit albei gegroei, want die vrouens in die Boesmanland mag maar kosmaak. Hulle doen nie eenbak geregte met slaai soos ons d

Langs die sportveld

Image
  Vir iemand wat dit nooit groot gemaak het op die sportfront nie, het ek altyd gedink sport is nie so belangrik nie. Ek het geglo ek gaan nooit die ouer langs die baan of veld wees wat haar naam (effe) gat maak oor haar oordrewe entoesiasme nie. Mens moet dit mos immers net geniet. Dis waaroor dit gaan. Ek was my lewe lank in Kakamas se laer-en hoërskool se raap-en-skraap netbalspanne. As jy jouself in die lae spanne bevind, maak wen regtig nie saak nie. Nou is ek hier. Worsbroodjie en cappuccino in die hand langs die netbalbaan. En die rugbyveld. Op die gras by die landloop. In die gehoor by die ballet. En dis lekkerder as wat ek ooit kon raai. Ek moet egter bieg. Diep binne my het dit toe al die jare geskuil. Ek is daai ouer. Manlief spot ons almal het maar ‘n bietjie nartjieskil-gooier “deep down.” Ons mis nie ‘n wedstryd nie. Ons is daar, langs die veld. Ons raak opgewonde, ons skree kommentaar en raad. Ons bemoedig. Ons vererg ons vir die skeidsregters. Ons eet sportdag wor

eenvoud

Image
Boesmanland - die moeder van eenvoud                                                Nuwejaarsvoornemens was nog nooit iets wat ek ligtelik opgeneem het nie. Iewers langs die pad het ek egter net moeg geraak om myself elke liewe jaar teleur te stel. Die nommer op die skaal kon nooit klop met die nommer wat by 1 Januarie staan nie. Die karaktergoedjies waaroor ek wroeg het maar elke jaar hier teen Desember 'n laagtepunt bereik - wanneer ek goed moeg is vir die jaar. Toe neem ek drie jaar gelede 'n belangrike besluit. Ek sou net bid vir 'n woord. Vir 'n enkele woord vir die jaar wat wink. Die Here was vreeslik getrou met die woorde wat ek in 2020 en 2021 ontvang het. Toe kom hierdie jaar se woord. Ek het vir byna 'n maand oor hierdie woord gebid. Op 1 Januarie was dit kristalhelder. My woord vir 2022 moes eenvoud wees.  Dis 'n lekker eenvoudige woord vir die jaar, het ek taamlik selftevrede gereken. Die jaar begin voorspoedig met 'n toevallige kuier saam met o