Langs die sportveld
Vir iemand wat dit nooit groot gemaak het op die sportfront nie, het ek altyd gedink sport is nie so belangrik nie. Ek het geglo ek gaan nooit die ouer langs die baan of veld wees wat haar naam (effe) gat maak oor haar oordrewe entoesiasme nie. Mens moet dit mos immers net geniet. Dis waaroor dit gaan. Ek was my lewe lank in Kakamas se laer-en hoërskool se raap-en-skraap netbalspanne. As jy jouself in die lae spanne bevind, maak wen regtig nie saak nie.
Nou is ek hier. Worsbroodjie en cappuccino in die hand langs
die netbalbaan. En die rugbyveld. Op die gras by die landloop. In die gehoor by
die ballet. En dis lekkerder as wat ek ooit kon raai. Ek moet egter bieg. Diep
binne my het dit toe al die jare geskuil.
Ek is daai ouer.
Manlief spot ons almal het maar ‘n bietjie
nartjieskil-gooier “deep down.” Ons mis nie ‘n wedstryd nie. Ons is daar, langs
die veld. Ons raak opgewonde, ons skree kommentaar en raad. Ons bemoedig. Ons
vererg ons vir die skeidsregters. Ons eet sportdag worsbroodjies en drink
liters koffiestalletjie cappuccinos. Ek koop grootmaat jelly mannetjies aan,
want ons glo die mannetjies gee energie. Dis ons gesin se “ding”.
In ons harte is ons so dankbaar covid is verby en ons kan
langs bane en velde staan. Ons het dit nooit geweet nie, maar ons weet dit nou:
Dis ‘n voorreg.
Een vriendin vertel hoe haar seuntjie eendag sy eerste drie
vir die seisoen gedruk het. “Wat het ek nou weer vir middagete geëet,”
wou die mannetjie na die wedstryd weet. En nou glo hy mens se krag lê
in twee hoenderboudjies voor ‘n wedstryd.
Onlangs speel ons wedstryde teen ‘n buurdorp. Hulle
benadering is hoegenaamd nie – Speel net om dit te geniet nie. Hulle speel om
te wen. Punt. Ek en manlief verdeel maar kragte as die netbal en rugby op
presies dieselfde tyd speel. Na die wedstryd kan manlief nie wag om terug te rapporteer
van ons GR.1 rugbyspannetjie se lekker wen nie. Ons seun het egter met ‘n blou
oog uit die wedstryd getree. Darem nie weens ‘n vuisgeveg nie – eerder as
gevolg van sy vreesloosheid met “tackle.” Ek is sommer dadelik ontsteld en wil
weet of dit seer is. Manlief stop my dadelik: “Mens kry nooit seer by rugby
nie. Jy kry net stampe en stote. Maar dis nie seer nie. Dis rugby.”
‘n Ander vriendin vertel hoe haar man hul (kleinerige)
seuntjie bemoedig wanneer hy ‘n wedstryd speel – “Mens speel rugby met mens se
hart. Nie met jou lyf nie.” Dan klim daai seuntjie in en hy speel soos ‘n leeu,
al is hy die kleinste van die twee spanne.
Amé speel soms doel, maar met elke doel wil ek my oë
toedruk. Want ek voel elke mis doel aan my lyf. Sy gaan ophou netbal speel as
ek kwaai met haar praat van die kant af wanneer sy ‘n fout maak, waarsku sy na ‘n
(swak) wedstryd. Nou hou ek myself mooi in. Dan is daar boonop kleinboet wat
oral moet saam. Hy is ALTYD honger en hy het ALTYD ‘n piepie. Ons het al so ‘n
spesiale wegsteek piepie plekkie agter ‘n koejawelboompie langs die rugbyveld.
Vandag kyk hy so rugby terwyl hy piepie dat hy sy een broekspyp heel nat
piepie.
Die dobbelsteen kan nou enigekant toe rol vir Adriaan. Of hy
gaan fanaties wees oor sport of hy gaan dit haat, want om so langs die velde en
bane groot te word is nie vir almal nie.
Is wen belangrik? Seker nie. Maar ek sal vreeslik jok as ek
sê ’n
wen is nie vreeslik lekker nie! Die lessie wat ek graag hieruit vir die
Coetzee-kroos wil leer is dit: Mens moet áltyd jou beste gee. Altyd.
Ongeag of jy vêr agter of voor is. En jy moet dit met ‘n mooi houding
doen. Die houding moet mooi bly – ongeag of jy vêr voor of agter is. Die
belangrikste is seker dat jy dit moet geniet. Vreeslik baie geniet. Die een dag
is jy nog ‘n matriekdogter van Makkiesplaas in HMO se netbalspan teen een van
Upinton se (sterk) sportspanne. As jy jou oë knip staan jy langs die
netbalbaan met drie spruite en ‘n sportsak vol kos en water en hoedjies en
ekstra klere en speelgoed vir kleinboet.
En dis waaragtig net ‘n oog knip.
Comments
Post a Comment