Posts

Showing posts from June, 2014

Skuinskoekstorie en resep

Maandagaand, so met die reën wat val, voor die kaggelvuur, raak my gemoed lus vir skuinskoek. Ek loop soek die reseppie wat ek nog verlede winter by Marietjie afgeskryf het. “Tannie Margaret se heerlike skuinskoek,” staan bo aan die resep. Voor ek gaan slaap pak ek al die bestanddele in my groot enamel knieskottel op die kombuistafel. Toe ek Dinsdagmôre klaar koffie vir my man en rooibostee vir ons dogtertjie in die bed gegee het, gaan begin maak ek die skuinskoek aan. Dis nog diep diep koud en ek blaas wasem uit terwyl my hande vol deeg is. Die sonnetjie skyn eers hier van half 10 af gaaf. Dus sit ek maar die oond laag aan om ‘n warm plekkie vir my knieskottel deeg te skep. Dit moet immers iewers warms rys tot dubbel die volume voordat ek kan begin bak. Die deeg moet ‘n volle 20minute geknie word. Ek kies kortpad, want skuins oor halfpad, skreeu my man benoud uit die kamer dat ek asseblief dadelik ons dogtertjie se doek moet kom ruil. Hy vermoed hier’s groot fout. Ek bid sti

Pakkie van die plaas af

Tannie Alba kom drink netnou ‘n vinnige koffietjie by my. Sy is stylvol soos altyd in rooi en swart vandag. In haar een hand het sy ‘n bos sonneblomme om ons huis warm te maak in die koue kaapse weer. In die ander hand het sy ‘n pakkie vir Amé van haar af, èn ‘n pakkie van Makkiesplaas af. Dis so lekker met tannie Alba hier. Amé kan haar geluk byna nie glo nie. Iemand wat met haar perdjie ry, vir haar ‘n boekie lees en soveel aandag aan haar skenk. Tannie Alba en haar sonneblomme het sowaar die koue heerlik kom verdryf! Oppad uit maak sy verskoning. Sy moes met die plaasbakkie kom. Sy is mos hier om vir Nico te help trek. Sy moes ‘n tafel van hom saambring vir sy nuwe huis. Al die pad van die plaas af. Iewers langs die pad het die bakkie nog spatsels beesmis ook opgetel! Toe sy weg is pluk ons, ons pakkie oop. Wat ‘n vreugde! Daar’s ‘n houtwieletjie vir Amé wat jy so rondstoot aan ‘n stokkie, daar’s Whispers en goeie koffie en Macadamia botter en die mooiste Hartsgoed kussing