Skuinskoekstorie en resep


Maandagaand, so met die reën wat val, voor die kaggelvuur, raak my gemoed lus vir skuinskoek. Ek loop soek die reseppie wat ek nog verlede winter by Marietjie afgeskryf het. “Tannie Margaret se heerlike skuinskoek,” staan bo aan die resep. Voor ek gaan slaap pak ek al die bestanddele in my groot enamel knieskottel op die kombuistafel.

Toe ek Dinsdagmôre klaar koffie vir my man en rooibostee vir ons dogtertjie in die bed gegee het, gaan begin maak ek die skuinskoek aan. Dis nog diep diep koud en ek blaas wasem uit terwyl my hande vol deeg is. Die sonnetjie skyn eers hier van half 10 af gaaf. Dus sit ek maar die oond laag aan om ‘n warm plekkie vir my knieskottel deeg te skep. Dit moet immers iewers warms rys tot dubbel die volume voordat ek kan begin bak.

Die deeg moet ‘n volle 20minute geknie word. Ek kies kortpad, want skuins oor halfpad, skreeu my man benoud uit die kamer dat ek asseblief dadelik ons dogtertjie se doek moet kom ruil. Hy vermoed hier’s groot fout. Ek bid stil dat skuinskoek wat min geknie is net so lekker sal wees as skuinskoek wat baie knie is. Dan maak ek dit met ‘n Checkerssak toe en sit dit in die gesellige louwarm oond.

Die deeg is baie, ek moet waarsku. Driekwart deur die gebak raak ek en Amé keelvol. Die skuinskoek is ons kombuis vol. Ons het al so baie geproe dat ons magies rond en gelukkig is. Ons skuinskoeklus is geblus. Ek besluit om die laaste deeg in ‘n broodpannetjie te druk. Die laaste twee bolletjies sit ek sommer in blikbekertjies vir blikbekertjie mosbolletjies.

Ek verdeel my gebak netjies in sakkies voor ek begin kombuis opruim. Daar’s ‘n sakkie vir my pa-hulle met spesiaal donkerder skuinskoek. Hy en tannie Marinda hou van hul gebak donkerder. Daar’s ‘n pakkie vir Marietjie en Stan. Ek weet ou Tieks het ‘n sagte plekkie vir ‘n skuinskoek. Dan pak ek ook ‘n pakkie vir ons Nina en Luca niggie en nefie. Ek wonder of hulle al skuinskoek geproe het. Ek en Amé maak ‘n groot sak vir manlief om werk toe te neem en ‘n laaste sak vir die Louwtjies hier teen Wellington se bulte. As ek reg onthou is tannie Elaine mos baie lief vir ‘n skuinskoek. Dis nou nie skou skuinskoek nie, maar hulle is met baie liefde gebak.

Skuins voor teetyd haal ons, ons blikkiesbrode uit die oond. Ons kombuis ruik die ene bakkery…absoluut hemels. Mamma en meisiekind eet sommer blikkiesbrood met dik kaas so saam met ons rooibostee. En ek voel nie eens ‘n duit skuldig oor die bederf nie. Dis my voorreg vandag. Oor ‘n handjievol jare is ons blou-oog groot meisiekind en ek weer werkende mamma. Dan is langbeen sonsit en smul aan ons eie gebak verewig verby.

Na middagete gaan google ek skuinskoek. Ek wonder skielik van waar die stukkie lekkerte sy oorsprong het. Bolanders ken mos nie skuinskoek nie. Dis ‘n binnelander-ding, lees ek. Dis blykbaar oor voortrekkers anders moes leer eet as die outjies hier aan die Kaap. Hier was vars goed soos groente en vrugte mos vollop. Die voortrekkers moes leer leef van kaiings en skuinskoek (wat destyds in hardevet gebak is!) en vuurkos. My voorouers was sekerlik voortrekkers. Want daar’s nie ‘n groente of vrug wat eers naby biltong, skuinskoek of kaiings kom nie.

Ek deel graag vanoggend gou tannie Margaret se heerlike skuinskoek. Onthou, hoe lekkerder jy knie, hoe lekkerder jou eindproduk. Ek’s nou nie ‘n kenner nie, maar tannie Margaret van Pofadder is wel!

 

2.5KG Koekmeel

1eetlepel anys

2 K suiker

2 pakkies kitsgis

1 teelepel sout

250g margarine

Blikkie kondensmelk

3 eiers

Klits kondensmelk en eiers. Vryf margarine in meelgoed (meel, anys, suiker, kitsgis, sout) en maak aan met eiermengsel. Maak aan verder met lou water en knie goed (20min). Laat deeg dubbelgrootte rys. Sny deeg in koekies en bak in olie.

Comments

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap