Skuinskoek soos my ma s’n
Dit spook nou al weke by my.
Ek besluit egter dat my eerste skuinskoek bak baie spesiaal sal wees. Ampertjies soos jou eerste slaap saam met ’n man.
Die resep wat my ma vir haar drie dogters nagelaat het, staan byna ’n maand voor in my resepteboekrakkie sodat my oog dit elke môre moet raaksien.  Net na my 26ste verjaarsdag besluit ek dat die tyd aangebreek het.
EK gaan koop die bestanddele by Pick-’n-Pay. Baie versigtig dat als, van die koekmeel tot die margarien, net die beste is. My ma was baie kieskeurig oor die soort margarien waarmee jy behoort te bak. Tussen tientalle variasies op die margarienrak grawe ek ’n blok uit van die soort wat altyd in ons plaasvrieskas was. Die anys druk ek eers teen my neus om te ruik of dit vars en na anys ruik.
Die bestanddele staan nog ’n week in ’n netjiese rytjie op my beknopte woonstel kombuis(ie) voordat ek ’n erdeskottel by Nicolene, die skool se huishoudkunde juffrou, gaan afbedel vir leen die naweek.
Saterdagmôre is ek vroeg uit die vere. Ek maak die deeg aan sekuur volgens my ma se instruksies. Ek knie dit soos ek haar al dikwels in die verlede sien doen het. My ma het so graag daarop geroem dat sy ’n deegmens is. Sy het daarvan gehou om haar hande in deeg te hê. Sy kon die beste plaasbrood bak. Haar tuisgebakte focasias en “Boesmanland buns” het ook altyd gesorg vir komplimente.
En dan haar skuinskoek.
Sy kon al wat ’n hol ding is vol skuinskoek bak vir vakansies. Skuinskoek was ’n bederf vir ons kinders én vir kuiermense .  Die Nel en Van Zyl-niggies kon ’n baksel skuinskoek half maklik skade maak! Na universiteitsvakansies is ons altyd met ’n baksel skuinskoek terug. As jy dan nou niks anders meer gehad het op honger dae nie, sou daar nog skuinskoek wees.
Na my degie geknie is, gaan soek ek die beste sonplekkie in die agtertuin. Dan gaan stap ek ’n draaitjie sodat die son en die kitsgis hul werk kan doen. So op my draaitjie stap bid ek sommer dat die Here my eerste baksel skuinskoek sal seën. EK wil tog so graag ook ’n deegmens soos my ma wees!

Met my terugkoms by die huis sit ek dadelik my tannie Ria se blommetjieskastrol op die stoof sodat die olie solank kan warm raak. Dan sit ek Marietjie se ligblou, wit en geel koeitjievoorskoot aan voordat die groot oomblik uiteindelik aanbreek.

Ek knie die gerysde skuinskoek deeg af – ek weet self nie lekker hoe dit presies werk nie, maar ek lees uit my ma se resep dat jy dit moet “afknie”. Dan rol jy die deeg in sulke lang worse voordat jy dit effe plat druk en in skuins mooitjies sny.

Sodra die olie se temperatuur korrek is, gooi jy die deeg “koekies” in die olie vir diep braai. Toe my eerste skuinskoekie die olie tref, sing Lucas Maree uitbundige oor RSG dat hy sal kan doen met ’n miljoen.
Die hele feestelikheid rondom my eerste skuinskoekbak laat my glimlag van lekkerkry. Ek swaai sommer later my heupe op RSG se Saterdagoggend treffers.
Toe die eerste sarsie uit die olie kom besef ek dat hulle nou nie eens naastenby lyk na my ma se goudbruin skuinskoek uit my kinderdae nie. ’n Skuinskoek lyk amper soos ’n skewe klein vetkoekie met flentertjies anys daarin. Abolsuut hemels!
Ek proe aan my heel eerste skuinskoek en besluit dat hoewel dit nie lyk na my ma s’n nie, smaak dit nie te onaangenaam nie. Die gesegde “Don’t judge a book by its cover,” kry nuwe betekenis. Ek moet ’n groot besluit neem daar in my koeitjievoorskoot: Sal ek aanhou bak ten spyte van die vreemde voorkoms van my skuinskoek, of sal ek die groot taak anderdag weer aanvat en die skottel deeg maar eerder drom toe skiet.
Ek eet ’n tweede skuinskoek en besluit waaghalsig om deur te druk.
Teen elfuur is die knieskottel byna tot bo met my eerste baksel skuinskoek. My huisie ruik teen hierdie tyd na ’n mengsel van olie en soet anys.

Ek trek my voorskoot uit na die laaste goudbruin koekie uit die olie gelig is. Dan grawe ek my enigste blikbord en beker agter uit my kombuiskassie. Ek maak vir my met die laaste skrapseltjie Jacobskoffie uit my koffieblik, lekker koffie in my blikbeker. Dan kies ek twee skuinskoekies (die lelikste met ekstra harde buitekante-my gunsteling) uit en sny ’n homp goudgeel kaas daarby voordat ek weglê aan my feesmaal.

Ek besluit daar langs my blikgoed dat ek in Engeland ook sal skuinskoek bak. Ek sal Marietjie se voorskoot saamvat. Lambrecht sal net vir my ’n ander kastrol in Engeland moet koop, want tannie Ria se kastrol sal ons bagasie te vinnig te swaar maak. Ek sal daar in die vreemde na RSG oor die internet luister. EK sal selfs vir Lambrecht se Engelse vriende leer skuinskoek eet. Skuinskoek saam met koffie soos ons in die Boesmanland maak. Nè Pappa.
Gedagtig aan my ma se beleid dat mens altyd van jou bakgoed moet uitdeel, stuur ek ’n glasbakkie vol skuinskoek met ’n briefie na my buurtannie. Ek vra omverskoning vir hoe my eerste skuinskoek lyk – ek dink hulle het te kort gerys! Dan sit ek ook ’n paartjies in ’n botterbakkie wat ek saamvat na Corieta vir saam met ons laatmiddagkoffie.
Namiddag flits daar ’n SMS van my buurtannie : My kindjie, hulle is baie lekker. Jy kan maar weer bak.
Ek oorhandig Corieta se skuinskoek en verduidelik dat hoewel dit nie soos skuinskoek lyk nie, dit darem daarna smaak. “Wat’s skuinskoek?” vra sy voordat sy ’n stukkie afbreek en in haar kies druk. Voordat ek kan begin verduidelik verseker sy my dat dit regtig lekker is en druk nog ’n stukkie in haar kies.
Ek kan nie help om binne myself te glimlag nie. Ek’t nou weer vergeet dat Bolanders mos nie skuinskoek ken nie. Boesmanlanders ken van skuinskoek bak en eet. Maar vir my liewe Bolandse vriende is hierdie eerste baksel van my, hul eerste kennismaking met skuinskoek.
En dis iets waaroor ek regtig dankbaar is...

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep