Ek tel die slapies!
Die afgelope naweek was die laaste naweek voordat my “hero” voet aan wal sit na sowat vier maande met hom in die verre Engeland en my hier in ’n minder sonnige Suid-Afrika.
Van hierdie naweek het ons egter iets so spesiaal gemaak. Wilma het Saterdag op die middag arriveer en aangesien ek Erika se huis (op my aandrang) opgepas het, het ons lekker baie spasie en ontspanplek gehad vir diep gesels. Ek en Wilma het die middag lui omgekuier op Erika-hulle sê sagte sjokoladebruin banke. Tussen gesels deur het ons weggelê aan Spar se diep lekker baconrolletjies en kaas en worsies en alles wat lekker is en wat jy nie die tyd van die jaar behoort te eet as jy wil goed lyk in jou bikini nie!
Ons het die pad gevat na Georgie se huis – mooi op tyd dat ons nie die rugby hoef te mis nie. En Wilma glo dat mens nooit rugby kyk sonder ’n lekker wyntjie nie. Sy’t ons behoorlik bederf met die aller lekkerste bottel uitvoer wyn van Colors. Die wyn se naam is Mooi. En glo vir my – die bottel is net so mooi soos die smaak op jou tong.
Iewers toe die Sharks met die WP begin mors het, het ons belangstelling verloor in die wedstryd. Ek, Georgie en Wilma is toe met my heilige trouboks met alle trou idees uit na Georgie-hulle se gesellige grasperk in die agterplaas. Ek voel altyd so half skuldig om troue te gesels. Bruide raak so gou oorbehep met hulle self...en daar’s min dinge wat jou so kan irriteer soos ’n bruid wat oorbehep met haarself en haar sprokiestroue is. Tog het ek hierdie hartsbegeerte om te vertel en te praat en te blom oor my en Lambrecht se troue. Met Marietjie kan ek ook nie eintlik praat nie, want sy’s besig om te blom oor haar eie troue!
Wel, daar op Georgie se rissierooi piekniekkombersie maak ek toe vir die eerste keer regtig hart oop. Ek pluk die troukoerantjie waarmee ek besig is uit en laat die vriendinne kommentaar lewer. Wilma en Georgie maak beurte om die stories wat by elke tafel pas te lees. In ’n stadium raak Georgie so aangedaan dat sy nie meer wil saamlees nie.
En net daar beleef ek weer van daardie oomblikke wat ek net vir ’n klein tydjie wil koester: Drie vriendinne onder die sterrehemel albei besig om trane weg te vee. Ons besef dat hierdie troue ’n splinternuwe hoofstuk in my lewe beteken. Ek weet dat hulle weet hoe ontsettend ek my ma op daardie oomblik mis en hulle het my lief genoeg om uit empatie saam te huil. Woorde kan nie so iets werklik saamvat nie.
Entoesiastiese Georgie spring later op en stel voor dat ons ’n speel-speel troutafel op haar nuwe eetkamertafel dek. Ons maak so en kuier sommer ’n bietjie so om die tafel net om die “gevoel” te kry.
Ek en Wilma maak vir Mooi half maklik klaar. Dan kuier ons nog later oor Cappacino en donker sjokolade voor ons terugkeer na Erika se huis.
Van Maandag af stuur Wilma elke dag vir my ’n epos waarin sy die daggies na Lambrecht se koms aftel. Sy is so opgewonde vir my part...en dis spesiaal om te weet dat iemand anders jou so op die hart dra. Hopelik sal ek ook eendag vir haar kan help daggies aftel na haar groot dag. Dit sal die grootste voorreg wees!
Sy het selfs ’n paar weke gelede ’n boekie gekoop waarin jy elke dag ’n bladjie moet uitskeur met ’n opdrag daarop. Ek moes vandag my nuwe handtekening oefen. En ek het. Mag ek bieg: Ek doen dit al vir maande!
Vandag is dit vier slapies. Net vier slapies voordat ek Lambrecht weer kan voel en ruik en ervaar. Dis ook net vier slapies voor my ma presies twee jaar gelede in ’n motorongeluk oorlede is.
Die lewe is vinnig en onvoorspelbaar...en juis daarom moet die lewe geleef raak!
Comments
Post a Comment