Kersfees by HOPE

Ek gaan besoek Maandag saam met ’n groep goedhartige Hoërskoolkinders ’n huis vir hawelose kinders. Mens ry nooit by so besoek weg sonder om op een of ander manier aangeraak te word nie. En hierdie keer is geensins anders nie.
By ons aankoms is die kinders aanvanklik effe skugter – en die hoërskoolkinders totaal oorweldig met wat hulle sien. Ons kinders slaan dadelik ’n fraai kersboompie wat Marse spotgoedkoop by die plaaslike Pick-’n-Pay kon kry op. Dan word die ander kindertjies bymekaargeroep vir die Kersverhaal. Die kleintjies kom maklik en spontaan.
Uit die hoek van my oog bemerk ek ’n ouer meisie wat alles net stil sit en bekyk. Ek gaan sit langs haar en hoor dat haar naam Franciska is. Ek vra oor haar skool en leer dat sy deel is van ’n oorvol klas. Ek leer ook dat sy wel ’n pa en ma het, maar dat haar ma haar op Maandae HOPE(die huis se naam) toe stuur vir brood. Sien, blykbaar kry HOPE op Maande brood wat reeds verby hul vervaldatum is by Pick-’n-Pay.
Hoe langer die gesprek duur, hoe meer raak ek wys van Franciska. Haar ma werk nie, maar haar ma verdien darem geld vir die twee babatjies wat haar ma by mans het wat hulle nie ken nie. “My pa ken ek nie eintlik nie tannie. Hy is tronk toe, toe ek graad 1 toe is. Hy het iemand doodgemaak, sien tannie.”
Al wat tannie sien is ’n kind wat nie ken van drome droom nie. Ek sien ’n kind wat nie hoef skool toe te gaan as daar nie kos in die huis is nie. Haar ma het so gesê. Ek sien ’n kind wat eintlik nog net die slegte kant van die lewe gesien het, maar sy kla nie. Sy kla regtig nie. Sy vertel net.
Na die Bybelstorie deel ons skool se kinders blokke sjokoladekoek met dik versiersuiker daarop vir die kindertjies uit. Ek sien hoe hulle die suikersoet versiersuiker  gulsig aflek voordat hulle die res van die koek geniet.
Ek sien hoe die kindertjies hul lekkergoed versigtig met mekaar deel. Ek sien hoe klein Rosa van ongeveer drie jaar oud, haar laaste Fizzer vir ’n maatjie gee omdat die maatjie met ’n vingertjie wys dat sy so graag die fizzer wil hê.
Ja Franciska, dink ek toe ek daar wegry. Tannie het vandag baie dinge gesien...

Comments

  1. jho..ons besef nie hoe bevoorreg ons is nie. Ons aanvaar baie goed net vanselfsprekend, en besef nie dat ander mense nie die voorregte het wat ons het nie. Suné, jy het regtig 'n verskil gemaak in ons skool en omgewing! Marse van der Merwe

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep