Onkant betrap: My kombuistee
Lambrecht kondig Donderdagoggend half onverwags aan, terwyl ons in die Kaap is, dat ons Saterdagoggend net vinnig Ceres toe sal moet ry om my verjaarsdaggeskenk te gaan optel by Georgie. Voor ek myself kan keer vlieg al my mooi voornemens om te dink voordat ek praat, by die agterdeur uit. Ek dog ek hoor verkeerd toe Lambrecht, ná my hele klaaglied, steeds beslis aankondig dat daar Ceres toe gery sal word. Ongeag...
Ek trek my lippies so dun soos ek my ma al in die verlede sien doen het. Verskil is net dat ek destyds nie lekker besef het presies hoe de hel in mens moet wees om op daardie dun lip-stadium te kom nie! Tog interessant dat niemand jou ooit hoef te leer waar en wanneer jy dit op die man in jou lewe moet inspan nie. Dit kom vreeslik natuurlik!
Na ’n halfuur se vreeslike onsmaaklike dunlip-stilte aan my kant het ek mooi omverskoning gevra en my vir die res van die tyd tot Saterdag geweldig goed gedra.
Saterdagmôre pak ons dan nou so die pad Ceres toe aan uit die lieflike Stellenbosch. Toe ons voor Georgie se huis stilhou vermoed ek dadelik onraad. Wilma se motor sal ek op enige plek uitken. En dit het heeltemal niks te make met die fabrikaat of kleur nie. GVD is immers sinoniem aan die Louws! Lambrecht is alte geskok toe ek versigtig vra wat Wilma se motor dan nou voor Georgie se huis maak.
Wilma maak Georgie se voordeur oop en gooi haar arms wyd oop om my te verwelkom by my kombuistee. Jy kon my met ’n veer om tik. Daar, in Georgie en Vincent se lieflike agtertuin, sit hartsvriendinne in ’n halfmaan en wag vir my om te arriveer. Vrolike kinderpartytjie ballonne wapper in die wasgoedlyn. Laslappieharte hang aan kleurvolle linte in die sonsambreel. Georgie se keurige gebak staan fyntjies uitgepak rondom tannie Leslie se lieflike sagtepienk rose en ander fyngoed uit haar tuin. Die tafel is sag op die oog...soos my vriendinne se hartlike en opregte glimlagte terwyl ek uitstap. Hulle doen dit nie, maar dit voel kompleet asof elkeen daar hulle arms vir my wyd oopgooi om my te verwelkom.



Georgie het gesorg vir die kos en Wilma vir die vermaak. Aanvanklik laat hul mooi woorde en Marietjie se gescande brief van die huis af ons almal trane afvee. En dan begin die sports...

O ja, het ek genoem dat ek sommer by my aankoms een of ander ouerige tannie se trourok uit toeka se dae moes aantrek? Met sulke potsierlike rissierooi plastiekskoene en blou oorbelle en kroontjie daarby.
Lambrecht is heeltyd aan my sy...in die vorm van ‘n lemmetjiegroen besem met ’n pienk strikdassie. Ek kry die geleentheid om met hom te wals, om saam met Corieta en hom op Jan Pierewiet te dans en om hom omverskoning te vra vir my swak gedrag.
Wilma lees uittreksels uit (vertroulike) eposse aan Lyndi, wat oor die verloop van jare strek – aan die “gehoor” voor en dan moet ek uitvind watter beskrywing by watter man uit my verlede pas. As ek verkeerd raai is daar ’n straf. Wilma en Marné gryp elke geleentheid aan wat hulle my ’n shooter “sours” kan laat afsluk! Gelukkig sorg Corieta deurentyd vir water!
Ek moet ook vra beantwoord waarvan Lambrecht reeds sy antwoorde deurgestuur het. Tydens hierdie oefening leer ek ’n heelparty goedjies omtrent my aanstaande. Ek leer dat hy beslis nie sy bybel gaan saamneem as hy twee items mag inpak na ’n verlate eiland nie. Ek leer ook dat hy eerder van drukkies as soentjies hou. (Lambrecht het my nou al duisend maal sedert Saterdag verseker dat Wilma sy epos heeltemal verkeerd gelees het oor hierdie punt!)
Ek sit Saterdag op ’n stadium en kyk my vriendinne so. Ek is ’n ryk en gelukkige vrou, besef ek net weer. My vriendinne gee kleur en geur aan my lewe. Hulle tel my op as ek lê, hulle ondersteun wanneer ek stil is. Hulle lag saam met my en hulle huil ook saam met my. Hulle deel stukkies van die hartsgoed uit hulle lewens wat pla en seermaak. Soms vertrou hulle my soveel dat hulle my laat weet as daar iets is waaroor ek saam met hulle kan bid.
EK weet dat Lyndi met haar hele hart Saterdag by ons was. Marietjie en Marli en tannie Ters en tannie Elaine was ook met ons.
Ek geniet God se goeie guns in oorvloed.

Dank aan Justine wat altyd teenaan is met haar kamera!


Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep