Posts

Showing posts from May, 2011

Skype tussen Pofadder en Engeland

Sondagmôre dou voor dag sms my jonger sussie uit Pofadder dat sy goeie nuus het: Iemand het vir hulle skype op hulle rekenaar gelaai. Hulle gaan later kerk toe, en dan is daar ‘n braaitjie saam met haar skoonmense vir die Sondagmiddagete. Sondagaand is ons afspraak vir stiptelik 20:00. Ons kan uiteindelik opvang. Heilige tyd tussen twee susters. Die Sondag gaan te stadig verby. Ek hou die horlosie heeldag dop. Dit wil-wil voel asof tyd stilstaan. My onrustigheid dryf my man byna teen die mure uit. Hy waarsku versigtig dat ek moet onthou dat daar altyd ‘n moontlikheid van komplikasies kan wees. Ek besef dat my vreeslike diplomatiese man iets op ‘n mooi manier probeer oordra... “Watse komplikasies,” vra ek, natuurlik sommer onmiddellik op my perdjie. Ek kan aan sy stem hoor dat hy weet dat dit nou tyd is vir mooi trap. “Uhm, mens weet nooit hoe goed die konneksie tussen Pofadder en Engeland gaan wees nie my engel,” antwoord hy oorversigtig. Ek skrik byna self vir die ontploffing

Cappucinos: 'n Ma-en-dogterding

Dit was ons gunsteling plek saam met my ma. Die cappuccinos is altyd bedien in sulke vetmaag bekers op ‘n blaar op ‘n piering. Elke cappuccino is vergesel deur ‘n fraai koekie. Ons kon natuurlik nooit wag om te sien wat op die tafels was as versiering nie. Soms was dit daisies in blikemmertjies, ander kere weer ‘n vetplantjie. Saam met jou spyskaart het jy ook altyd ‘n klein blikbekertjie sap gekry. En ‘n nickerball en saadjies saam met jou rekening. Geen koffieplekkie kon nog ooit naby Get Together in Bloemfontein kom nie. In hierdie einste koffieplekkie het ons ure omgekuier met my ma. Sy het ons gewoonlik so een maal per jaar kom besoek in Bloemfontein terwyl ons nog daar studeer het. Dan sou Get Together kuiers van die hoogtepunte wees. Ons het nooit eintlik daar geëet nie. Ons het net onverskillig baie cappuccinos gedrink en hartsgoed gepraat. Ek en my ma en Marietjie, my middelste suster. Diè dat my gemoed anderdag so deurmekaar was toe daar drie vrolike mammas saam met hul

Engeland Vis-en-chips

Vis-en-chips op ‘n Vrydagaand in Engeland is blykbaar so algemeen soos bier en braaivleis op ‘n Saterdagaand in Suid-Afrika. Diè dat my man nou al die afgelope drie Vrydagaande by my neul dat ons die Engelse ding doen en gaan vis en chips koop op die hoek. Op hierdie Saterdagmiddag voel ek toe nou vir die eerste keer na diepgebraaide vis – met die wind wat koud en triestig waai. Ek doen natuurlik vooraf eers mooi my huiswerk oor waar ons die aller lekkerste vis in Stamford kan koop. Almal wat saam met my in die koffieplekkie werk is dit eens: Niemand het vis en chips soos Burdy’s nie. Hulle waarsku egter dat ons, ons nie moet laat afskrik deur die siersteun kafee se voorkoms nie… So gesê, so gedaan. My man kom uit die kafee met twee tamaai stukke stokvis,twee kerriesouse, ‘n onbetaamlike hoeveelheid slap chips en ‘n glimlag wat van die een oor na die ander oor loop. Kyk, hy sien darem al baie lank uit na hierdie dag! Hy verduidelik dat hy sommer vir ons die ou large vissies geko