Engeland Vis-en-chips

Vis-en-chips op ‘n Vrydagaand in Engeland is blykbaar so algemeen soos bier en braaivleis op ‘n Saterdagaand in Suid-Afrika. Diè dat my man nou al die afgelope drie Vrydagaande by my neul dat ons die Engelse ding doen en gaan vis en chips koop op die hoek.

Op hierdie Saterdagmiddag voel ek toe nou vir die eerste keer na diepgebraaide vis – met die wind wat koud en triestig waai. Ek doen natuurlik vooraf eers mooi my huiswerk oor waar ons die aller lekkerste vis in Stamford kan koop. Almal wat saam met my in die koffieplekkie werk is dit eens: Niemand het vis en chips soos Burdy’s nie. Hulle waarsku egter dat ons, ons nie moet laat afskrik deur die siersteun kafee se voorkoms nie…

So gesê, so gedaan.

My man kom uit die kafee met twee tamaai stukke stokvis,twee kerriesouse, ‘n onbetaamlike hoeveelheid slap chips en ‘n glimlag wat van die een oor na die ander oor loop. Kyk, hy sien darem al baie lank uit na hierdie dag! Hy verduidelik dat hy sommer vir ons die ou large vissies gekoop het. Ons eet mos darem nie elke dag vis en chips nie.

Terug by die huis maak ons eers kermisbed voor die tv. Ons sit ‘n lekker DVD op, maak ons glase vol koeldrank en toe val ons weg aan daai massa vetterige vis en chips. Op daardie stadium was dit absoluut hemels. Ek werk toe sommer, tot my eie verbasing, half vinnige deur my vreeslike vetterige large stokvissie. Oe, en dan gooi jy daai kerriesousie oor die vis vir die laaste spyker in die doodskis.

Sowat ‘n halfuur later begin voel ek onwel. ‘n Uur later voel ek of ek op sterwe lê. Dit voel presies soos die keer toe ek ons hele gesin se varkspek wat hul om gesondsredes afgesny het, opgeëis en self geëet het. Die gal-aanval was intens en ‘n marteling. My ma was onsimpatiek.

“As jy wil ooreet moet jy maar die gevolge self dra Suné,” hoor ek nog haar harde woorde.

Vandag was ek op presies dieselfde plek. My man is genadiglik meer simpatiek. Ek sukkel later van die bank af op en besluit om bietjie vars lug buite ons huisie te gaan skep. Dan tref die Chinese se Chinese kos reuk van oor die straat my en ek sien my doodsengel.

My man besef dat hier groot fout is en haas na ons naaste supermark wat gelukkig nog oop is op ‘n Saterdagaand. Hy kom terug met twee pakkies Rennies – verskillende geure. Ek lees op die pakkie dat ek tot 16 rennies mag eet binne die volgende 24uur. Ek laat ook nie op my wag nie en kou sommer plotseling tweetjies.

Dis ‘n paar uur later en ek voel stukke beter. Ek het my man egter gesmeek om vanaand liefs iets te eet wat nie na kos ruik nie – soos pap of beskuit of iets.

Die dat my man nou op ‘n Saterdagaand sit met ‘n bier en corn flakes.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep