Posts

Showing posts from December, 2011

My ma se hemel 50ste

My ma was Sondag 50. Sy het dit in die hemel gevier. Ons drie sussies het besluit om dit ‘n groot naweek hier op aarde te maak. My ma sou dit inelkgeval so verkies. Tannie Tersia en oom André se vriendelike Kakamashuis sou die gepaste plek wees om die naweek deur te bring, het ons eenparig besluit. Saterdagoggend is ons saam met tannie Tersia Yanoock toe vir ‘n koffiekuier – die koffieplekkie in Kakamas waar Mamma die heel graagste gekoffie het saam met haar hartsvriendinne. Na die koffie is ons sussies in ‘n baie vrolike luim Upington toe vir uiteet en fliek. Die besluit was maklik, ons sou by Spur gaan eet – definitief nie oor hul besonderse kos nie. Ons het op Spur besluit omdat dit die een plek is waar ons een maal per jaar “getreat” is vir uiteet baie jare gelede. Daai één jaarlikse uiteet was groot! Weke vooruit sou ons al uitsien daarna. Uiteet was raar soos gaskoeldrank en fetakaas. Die dat ek seker vandag nog respek het vir dié goed. “Platteland” na die uiteet,   was ‘n aa

Dankbaar vir drome

Sodra al my lyste en tabelle eers in orde is, staan my kop pakstoor toe. Dis immers ‘n plek van baie stories. Ek gaan staan gewoonlik sommer so by die vroutjies wat uitknip en dan help ek hulle knip. En ek vra hulle uit tot by oom Daanjie in die kalwerhok. Hulle gesels normaalweg graag. Hulle is nie soos baie van ons wat te versigtig is om ‘n stukkies van ons menswees te deel nie. Ivy is ‘n klein, fyn sewentienjarige Tswana-vroutjie met een goue tand links voor. Anderdag gaan staan ek by haar en help haar druiwe uitknip. Die gesels kom sommer so vanself. “Ek het ‘n kind,” vertel sy trots. “Die mense, hulle sê my kind is baie mooi.” Ek is aanvanklik eers verstom dat Ivy wat nog self soveel kind is, reeds spog met ‘n baba. Sy vertel dat die baba onbepland was. Sy dink haar inspuiting het nie gewerk nie of iets. Die pa is nog self ook net kind. En sy wil beslis nie nog ‘n kind hê nie. Blykbaar is geboortegee nie kinderspeletjies nie. Sy moes skool los omdat sy swanger was. Sy werk nie

Pofadder se langoortjies hou konsert

Die groot aand was ‘n Donderdagaand in Pofadder se kerksaal, stiptelik om 18:00. My Marietjie-sussie hou elke Vrydagoggend kleuterskool vir Pofadder se kindertjies. Vanaand was hul einde-van-die jaar konsert. Ek het baie impulsief besluit om na werk gou in die pad te val Pofadder toe vir diè groot geleentheid. Ek kon met die afklimslag sien dat my sussie ‘n senuweewrak was. Die kleedrepetisie vroeër die dag was blykbaar ‘n volslae mislukking. Marietjie het nie goeie moed gehad vir die konsert nie. Die ouers was natuurlik vol verwagting vir ‘n lekker “show.” Almal was gereed met videokameras en kameras. Die aand het goed afgeskop. Niemand was waar hul moes wees nie. Twee engeltjies, Veronique en Gerrie, het mekaar op die verhoog “gevind” en het vrede gehad met die res van die konsert. Die twee 2-jarige skapies, Stephan en Pieter, het heeltemal vergeet wat hul veronderstel was om te doen. Dis nou na hulle, hul hande op die oulike blikbekertjie gelê het. Pieter was blykbaar buitendien