Dankbaar vir drome

Sodra al my lyste en tabelle eers in orde is, staan my kop pakstoor toe. Dis immers ‘n plek van baie stories. Ek gaan staan gewoonlik sommer so by die vroutjies wat uitknip en dan help ek hulle knip.

En ek vra hulle uit tot by oom Daanjie in die kalwerhok. Hulle gesels normaalweg graag. Hulle is nie soos baie van ons wat te versigtig is om ‘n stukkies van ons menswees te deel nie.

Ivy is ‘n klein, fyn sewentienjarige Tswana-vroutjie met een goue tand links voor. Anderdag gaan staan ek by haar en help haar druiwe uitknip. Die gesels kom sommer so vanself. “Ek het ‘n kind,” vertel sy trots. “Die mense, hulle sê my kind is baie mooi.”

Ek is aanvanklik eers verstom dat Ivy wat nog self soveel kind is, reeds spog met ‘n baba. Sy vertel dat die baba onbepland was. Sy dink haar inspuiting het nie gewerk nie of iets. Die pa is nog self ook net kind. En sy wil beslis nie nog ‘n kind hê nie. Blykbaar is geboortegee nie kinderspeletjies nie. Sy moes skool los omdat sy swanger was. Sy werk nie nou nie. Sy was maar te bly vir hierdie seisoenwerkie. Sy’s ‘n uitknipper en die pappa van haar baba maak die stoor skoon.

Ek gaan kyk na Ivy se babatjie. Sy’s ‘n klein, vriendelike dogtertjie met vreemde bandjies om albei haar armpies en haar baba nekkie. Blykbaar iets te doen met Ivy se geloof, verduidelik haar oppasser.

Annah Makatong beduie my met haar arm dat ek bietjie by haar ok moet kom knip en gesels. Ek gryp die uitnodiging natuurlik met albei hande aan. Annah is ongetroud met drie kinders en sy woon ook in Kuruman. “Aggenee Annah, hoekom so baie kinders en nie ‘n man nie,” vra ek met kwaai oë. “ Ek het net ‘bad luck’”, skud Annah haar kop. Die vroutjie langs Annah is naam is te Tswana om te kan uitspreek. Sy is negentien en ook al die pad vanaf Kuruman.

Sy het ook nie ‘n werk buite seisoentyd nie. Sy is ook nie opsoek na ‘n werk nie. Ek probeer uitvind wat haar droomwerk sal wees. Sy frons net en skud haar kop.

Geen drome.

‘n Mens het altyd iets om voor dankie te sê, besef ek daagliks hier in Blouputs. Net die feit dat jy ambisie en drome het, is reeds iets om die Liewe Vader voor te dank. Dis ‘n voorreg. Hier in die Blouputs pakstoor waar ek my Desembermaand deurbring, is baie gesiggies wat nie verstaan van drome nie.

Hulle vat elke dag soos hy kom. Vanaand eet hulle pap met soet swart koffie en gaan slaap tevrede. Niks dryf hulle nie. Daar is geen doelwitte waarnatoe hulle werk of ‘n spaarrekening wat hulle probeer opbou nie. Elke dag sorg vir homself.

Hulle het soveel minder as ons, tog is hul geluk en tevredenheid dikwels soveel meer.

Net voor ek vir Annah sê ek moet eers teruggaan na my rekenaar met sy somme en tabelle, sê Annah trots, sommer so uit die bloute: “ Ek glo in God. Hy’s baie goed vir my.” Dan sê Annah die hele Ps.23 uit haar kop op.

Dalk moet ek meer vasklou aan “Die Here is my herder, niks sal my kortkom nie,” soos Annah. Dalk moet ek minder vertrou op Suné Coetzee en haar drome en doelwitte…

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep