Pofadder se langoortjies hou konsert

Die groot aand was ‘n Donderdagaand in Pofadder se kerksaal, stiptelik om 18:00. My Marietjie-sussie hou elke Vrydagoggend kleuterskool vir Pofadder se kindertjies. Vanaand was hul einde-van-die jaar konsert. Ek het baie impulsief besluit om na werk gou in die pad te val Pofadder toe vir diè groot geleentheid.

Ek kon met die afklimslag sien dat my sussie ‘n senuweewrak was. Die kleedrepetisie vroeër die dag was blykbaar ‘n volslae mislukking. Marietjie het nie goeie moed gehad vir die konsert nie. Die ouers was natuurlik vol verwagting vir ‘n lekker “show.” Almal was gereed met videokameras en kameras.

Die aand het goed afgeskop. Niemand was waar hul moes wees nie. Twee engeltjies, Veronique en Gerrie, het mekaar op die verhoog “gevind” en het vrede gehad met die res van die konsert. Die twee 2-jarige skapies, Stephan en Pieter, het heeltemal vergeet wat hul veronderstel was om te doen. Dis nou na hulle, hul hande op die oulike blikbekertjie gelê het. Pieter was blykbaar buitendien van vroegaand af nie meer lus vir die konsert nie. Sy ma moes hom omkoop met ‘n stukkie boerewors om sy wattepakkie aan te trek.

Klein Anika was die enigste bobbejaantjie wat mooi soet op die damwal gesit het. Iewers gedurende die konsert het sy sommer ook aan haar piesang begin knibbel op die verhoog. Jan-Karel, een van die ouer seuntjies, het van sy mede-soldate taamlik hardhandig geruk, toe dié vergeet om sy swaard op die regte plek neer te sit.

Die buig aan die einde van die konsert het almal mooi onthou. So mooi, dat Marietjie na die sewende buig moes beduie dat hulle asseblief nou van die verhoog af moes stap.

Ek kon sien die ouers het die konsert geniet. Vir elkeen was dit ‘n baie spesiale oomblik as hul kind op daardie kerksaal verhoog is. Ek het nie ‘n kind daar gehad nie, maar ek was ook trots soos die ouers. Ek was trots op my klein krulkop suster wat ‘n konsert aanvat met ‘n handjievol kinders wat sy net een maal per week sien. Ek was trots op haar passie vir Pofadder se Langoortjies.

Na die konsert het kersvader kom persente uitdeel. Kersvader was alte bekkig. Hy was blykbaar ook maar taamlik senuagtig oor die aangeleentheid. Dié dat hy toe maar voor die tyd ‘n ou biertjie vat vir “courage.”

En toe word braaivleisvure aangesteek vir vleisbraai, aartappelslaai, vars broodrolletjies met tuisgemaakte konfyt en mengelslaai. Net voor die aandjie tot ‘n einde kom, word bakkies roomys en van tannie Susan se heerlike, dekadente sjokoladepoeding bedien.

Voor die haan kraai ry ek Vrydagmôre uit Pofadder om betyds vir werk te wees in Blouputs. Oppad bid ek vir die Here dankie dat ek ook die voorreg kon hê om by die konsert te wees.

Ek sms vir tannie Mercia dankie vir die slaapplek en vroegoggend koffie. Sy sms terug: “ Plesier. Dit was ‘n verrassing om jou hier te sien. Mooi dag.”

Dit was vir my net so verrassing tannie…


Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep