My ma se hemel 50ste

My ma was Sondag 50. Sy het dit in die hemel gevier.

Ons drie sussies het besluit om dit ‘n groot naweek hier op aarde te maak. My ma sou dit inelkgeval so verkies. Tannie Tersia en oom André se vriendelike Kakamashuis sou die gepaste plek wees om die naweek deur te bring, het ons eenparig besluit.

Saterdagoggend is ons saam met tannie Tersia Yanoock toe vir ‘n koffiekuier – die koffieplekkie in Kakamas waar Mamma die heel graagste gekoffie het saam met haar hartsvriendinne. Na die koffie is ons sussies in ‘n baie vrolike luim Upington toe vir uiteet en fliek.

Die besluit was maklik, ons sou by Spur gaan eet – definitief nie oor hul besonderse kos nie. Ons het op Spur besluit omdat dit die een plek is waar ons een maal per jaar “getreat” is vir uiteet baie jare gelede. Daai één jaarlikse uiteet was groot! Weke vooruit sou ons al uitsien daarna. Uiteet was raar soos gaskoeldrank en fetakaas. Die dat ek seker vandag nog respek het vir dié goed.

“Platteland” na die uiteet,  was ‘n aangename verrassing. Ek was natuurlik effe hartseer dat my held die skurk moes speel en dan ten einde ok te sterwe moes kom. Ou Steve is minder aantreklik met ‘n bebloede bolippie.

Terug in Kakamas het tannie Ters vir ons die heerlikste piekniekmandjie gepak voor hul weg hotel toe is vir hul kersfunksie. Die mandjie het iets van alles bevat – van wyn tot rooiboscappucinos. Van “Rice Krispiekoekies” tot kaaspasteitjies. En toe fliek ons verder met tannie Ters se piekniekkos voor die t.v.

Al het ek myself beloof dat dit nie sal gebeur nie, staan ek tog Sondagoggend met ‘n swaar klip in my maag op. Ek voel opnuut onvergenoegd teenoor die Here oor wat hy met ons laat gebeur het. Ek voel kwaad en hartseer oor ons nie my ma se groot 50 saam met haar kan vier nie.

Tannie Ters en oom André gaan egter uit hul pad om die dag spesiaal te maak. Vroegoggend eet ons muffins by ‘n foto van mamma en ‘n kers wat vir haar brand. Ons drie meisiekinders kry ook elkeen ‘n spesiale geskenk vir Mamma se verjaarsdag.

Nog later gaan eet ons Nel-niggies (nooiensvanne!!!) en die Vissernefies saam met oom André en tannie Tersia iets by Vergelen. Die Sondagblues slaan my onverwags na die Sondagmiddagslapie tussen die oë. Ek het ewe skielik geen beheer oor die trane wat net soos ‘n stortvloed kom nie. My pa se tannie Marinda sms dat sy ‘n mooi bossie blomme uit die tuin bymekaar gesit het vir Mamma se graf. Pappa het dit alleen vir Mamma gaan neersit.

Sondagaand lê ek en kleinsus langs mekaar op die dubbelbed – met dikgehuilde oë. Ons besluit om ‘n lekker lagfliek te kyk terwyl ons vanillaskuimkoffie drink.

Maar voor ons die fliek opsit bid ons eers saam. Ons bid vir seën op die Vissers wat ons die naweek met soveel liefde verdra en vertroos het. Ons bid vir Pappa en tannie Marinda wat altwee met stukkies seer uit die verlede saambou aan ‘n toekoms. Ons bid vir Rietjies en Stan op hul Pofadderplaas…en ons vra die Here om tog seblief net vir Mamma te sê ons is moeg verjaarsdag gevier. Ons hoop haar 50ste was baie spesiaal daar in die hemel.


Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep