Posts

Showing posts from January, 2015

Die vreugde van twee

Buurman Ryno het destyds gewaarsku – een en een maak nie twee nie. Toe ons hulle vertel dat ons ‘n baba skaaphondjie wil aanskaf wat moet dien as Amé se nuwe maatjie het Ryno gewaarsku, as daardie tweede een arriveer het jy nie eens tyd of lus om ‘n goudvis ekstra te versorg nie. Ons hap te groot af met ‘n hondjie ook nog. Ryno was reg. Die hondjie is toe maar saam met my pa-hulle terug Boesmanland toe ongeveer vier dae na Daniël se geboorte. Ek moet vanoggend skryf oor hierdie nuwe seisoen, want dis op hierdie stadium nog baie oorweldigend. Ek moet my gemoed dus skoon skryf. As jy nog nie kinders het nie, moet asseblief nie skrik nie. Ondanks die min slaap en alle ander nuwe aanpassings bly dit God se grootste wonderwerk. Ons hou nie op om dankie te sê vir ons twee perfekte en gesonde kinders nie. As jou kinders groot is sal jy vandag met empatie begryp. As jy in dieselfde seisoen as ek is het jy simpatie met my en ek met jou. Vanoggend sal jy met jou hele hart verstáán.