Monday, November 4, 2019

Die skouspelagtige eindstryd


Ons kan byna nie glo dit het toe regtig weer vir ons gebeur nie. Gister koop ons die Rapport en knip elke liewe rugby artikel uit vir ons Adriaan-kind se bababoek. Hierdie gebeurtenis was immers in die jaar van sy geboorte. Soos manlief tereg sê – ons mag Saterdag nooit vergeet nie. Ons sal dalk nooit in ons lewens weer só ‘n eindstryd sien nie.

Ons goeie vriend Jaco kyk die wedstryd sedert Saterdag steeds daagliks ‘n paar keer. Hy het dit ook al in verskeie tale gekyk. Dit klink blykbaar elke keer anders en mens is elke keer van voor af uit jou nate bly oor die soete oorwinning.

Oor Saterdag sal ons nog lank praat. Dit was niks minder as skouspelagtig nie. Deesdae is albei my sussies in Pofadder omgewing. Laatlam is die Septembervakansie met die liefde van haar lewe getroud en woon nou net sowat 30km vanaf middelsus. Albei vertel gisteraand van hulle Wêreldbeker ervaring. Jongste-hulle het by haar skoonouers gaan rugby kyk. Sy sê dit het soos die laaste avondmaal gelyk. Die koffietafel het gesug. Sy voel nou nog versadig van al die lekker “rugby snacks.” Middelsus-hulle het dit alleen gekyk by hul huis. Hulle het nie die hele Wêreldbeker gevolg nie, en daarom het haar kindertjies nie die hele storie so lekker verstaan nie. Hulle het net so af-en-toe kom inloer om te hoor wie voorloop...die bokke of die engele. Haar kinders het om een of ander rede verstaan dat die bokke teen die engele speel, in plaas van die Engelse!

Ons huis was ‘n storie van sy eie. Manlief wou eintlik verlede week eerder teen Wallis verloor, as hierdie week teen die Engelse. Hy het net nie kans gesien vir ‘n nederlaag teen die Engelse nie. Nietemin het ons vol hoop gereed gemaak vir Saterdag. Ons het vas geglo dat wonderwerke steeds nog kan gebeur in vandag se tyd.

Toe boul die bokke ons uit. Teen die tweede drie het manlief daarop aangedring dat ons werk aan ‘n vierde Coetzeetjie. (Eers na die wedstryd natuurlik. Hy wou niks mis van hierdie geskiedkundige dag nie.) Ons sal die kindjie noem Mapimpi Rassie Coetzee. Dis ‘n waardige naam. Dis die naam van ‘n wenner.

Hier in die laaste minute kon mens op TV sien sien hoe hul besig is om die wenners te graveer op die beker. Skoonma roep dadelik dringend en opgewonde na Lambrecht (wat buite besig is om ‘n staanrib om te draai)  om te kom kyk. Hulle graveer al die beker se wenners! Amé en Daniël gil onophoudelik, “Go bokke go” en Lambrecht is dankbaar dat ons die Engelse darem so ‘n klein bietjie kon laat betaal vir die konsentrasiekampe. So skree almal in die huis iets anders. Net skoonpa skree niks. Hy sit op die punt van sy stoel met sy bokserp om sy nek. Hy lyk verstom. Die bokke het werklik verras.

Adriaan is 8 maande oud, maar hy sit en klap die heeltyd net handjies. Hy weet nog glad nie wat aangaan nie, hy weet net vandag is ‘n dag vir handeklap. Of jy kan verstaan of nie.

Ons sal nog lank jare handeklap en nostalgies raak oor hierdie dag wat die bokke soos kampioene gespeel en gevég het. Ons sal nog lank jare praat oor ‘n kaptein se toespraak wat oor baie meer as rugby gegaan het. Oeg, ons is trots, trots, trots!

Thursday, October 10, 2019

Bederfbokse in die droogte


Ek kan nie onthou hoe oud ek was nie. Dalk Sub.A of B. Ons was in Kakamas vir die naweek. My ma het sommer so op die bed met ons sit en gesels. Skielik was sy ernstig. Dis droog op die plaas en ons moet my pa mooi probeer help. As ons winkel toe gaan moet ons nie onnodige goed koop nie. Ons weet mos een van die dae reën dit weer en dan is alles weer beter.

Ek sal dit nooit vergeet nie.

In my grootraak jare op Makkiesplaas was daar baie droogtes. Dit voel vandag of ons maar altyd aan’t bid was vir reën.  Die reën was egter altyd betyds. Die watertenk agter by ons kombuis was nooit droog leeg nie, dan kom die volgende reën. Die veld rondom die begraafplaas was nooit morsdood nie. Na die geringste reëntjie het die langbeen boesmangras gewillig begin lewe kry.

Net wanneer jy regtig benoud wou begin raak, was die uitkoms daar.

Hierdie keer is anders. Eintlik wil ek nie aan Makkiesplaas dink nie. Ek wil my kop soos ‘n volstruis in die sand druk en vergeet. Ek wil nie meer saam ry veldtoe wanneer ons by my pa-hulle kuier nie. Dis aardig om te sien hoe skape op ‘n bakkie afstorm vir voer. Dit breek my hart om te sien hoe vinnig hulle die voer verslind. Mens sal nooit weet hoe versadig hulle regtig is na so ‘n maaltyd waar almal storm en vreet nie. Tannie Marinda se hanslammers raak by die dag meer. Die mammas kan net nie omsien na hulle kindertjies nie.

Die veld om die begraafplaas is vandag net ‘n stofvlakte. Mens kan net vertrou dat God deur sy wonderlike genade nog grassade bewaar diep onder die stowwerige, droë aarde.

Toe ek my pa onlangs sien het hy te vinnig ouer geword. Ek kan sien sy kop is nie by my toe ek praat nie. Sy kop is by die droogte. Die derde boorgat is besig om leeg te trek. Mens kan honger skape nog op ‘n manier voer, maar as daar nie water is nie...

Eintlik wil ek dit glad nie hoor nie. Want wat sê mens vir jou pa?

My Marietjie-sussie vertel dat hulle Pofadder Boerevereniging onlangs ‘n Boerevereniging vergadering gehad het. Tydens hierdie vergaderings kry die vroue darem ook kans om ‘n bietjie te kuier. Een tannie vertel hoe hartseer sy raak as sy so van Pofadder af na hul plaas ry. Sy vee sommer die trane af as sy so alleen oppad is. Maar as sy hul plaaswerf binnery vee sy haar trane af en sy sit haar glimlag op. Sy moet nou haar man se hande hoog hou. Sy durf nie swartgallig raak nie.

Hierdie droogte is iets ánders as wat enigiemand nog ooit ervaar het. Marietjie vertel die mooiste stories van die bederf bokse. Een tannie kry ‘n sonhoed in haar pakkie – iets wat sy al so lank broodnodig het, maar te sleg voel om haar man voor te vra. ‘n Ander vrou met sulke lekker welige krulhare kry ‘n bottel conditioner vir frizzy hare in haar pakkie. Sy het dit so lanklaas vir haarself gekoop en haar hare smag al ‘n geruime tyd na conditioner, maar dis ‘n luukse wat sy haarself net nie gun nie!

Ek moet byvoeg – die getuienisse wat my pa en tannie Marinda ook oor hierdie droogte kan vertel is genoeg om ‘n boek oor te skryf. En as hulle begin vertel loop albei se trane uit suiwer dankbaarheid. 

Ek raak so skaam as ek op Millerton of Makkiesplaas kom. Ons dink ons trek taai – dan moet ons ophou uiteet en ons DSTV pakket heeltemal kanselleer. Saterdagaand steek ons nog ‘n vuurtjie aan op ons dek, en terwyl ons die son sien sak oor die groen Bolandberge drink ons wyn en praat politiek, Springbokke en weer.

As jy in die Boesmanland is staan jy in die droogte op en jy gaan slaap weer in die droogte. Die skaapkraal vol skaap wat gevoer word vir weglaai is klipgooi van die huis af. Daar’s geen wegkomkans nie. Die reuk van stof en mis raak jou bondgenoot.

Ten spyte daarvan kuier ons anderdag so lekker op Millerton by Marietjie en Stan. Hulle vertrou die Here die groot reëns is om die draai. God is ‘n goeie God. Hy weet van hulle. ‘n Pa vergeet nooit van sy kinders nie. Marietjie pak haar bederfboksie uit Ceres uit terwyl ons daar is – en sy is dankbaar vir iemand anders ver van hul Millertonplaas wat soveel omgee en saam bid. Dis bokse van hoop.

Dit verander iewers in die land ‘n boervrou se lewe.

Terwyl die mans ‘n vleisie braai sê Stan: “Julle moet mooi kyk hoe die ou wêreld nou lyk. Dis die laaste keer dat julle die Boesmanland so gaan sien.”

En ons glo regtig so.


Monday, May 6, 2019

Jou X


Vanoggend glip ek gou by ‘n winkeltjie hier in Wellington in vir brood en melk. “Julle is seker Woensdag toe om te gaan stem?,” vra ek so half terloops. Die vrou agter die till verduidelik dat hulle moet beurte maak om te gaan stem, want die winkel moet oop bly. “Weet jy hoe moeilik gaan dit wees om taxi’s te kry. Weet jy hoe lyk die rye in die townships waar ek moet stem?” vra die vrou.

Dis waarom sy liewer nie gaan stem nie. Buitendien maak almal nou die mooiste beloftes waarvan daar niks gaan kom nie.

Ek vra haar of sy kinders het en sy vertel trots van haar drie kinders. “Dis waarom jy moet gaan stem. Ons doen dit vir ons kinders. Ons wil hê die gety moet draai en daar moet ‘n blink toekoms wink vir ons kinders hier in Suid-Afrika,” probeer ek haar vir oulaas oortuig voordat ek uitstap.

Sy glimlag net. Ek hoop sy gaan tog maar Woensdag stem.

Alhoewel ek net ‘n huismamma is wat weinig weet of verstaan van politiek, voel ek vreemd optimisties. Ek bid saans om 21:00 saam met duisende ander Suid-Afrikaners vir die verkiesing. Ons bid vir wysheid vir elkeen wat hul kruisie gaan trek, ons bid vir eerlike leiers, ons bid vir ‘n vreedsame verkiesing. Ons bid vir die Here se wil met hierdie verkiesing.

“En wat as almal bid en optimisties is en dinge loop steeds skeef met hierdie verkiesing,” wil manlief nou die aand skepties weet.

Dan vertrou ons dat ons saadjies gesaai het in die grond en dat dit met ‘n volgende verkiesing sal vrug dra. Ons tyd is nie die Here se tyd nie.

Verkiesings is oorweldigend. Steve Hofmeyr moedig ons mooi aan op RSG om eerder te droom van ‘n mooi toekoms as om stil te staan by die verlede. Mmusi Maimane vra in die mooiste Afrikaans dat ons DA sal stem. Cyril nooi met ‘n vriendelike gesig om ANC te stem. Die tafel is gedek. Ons kan kies en keur.

Mag elkeen Woensdag gaan stem. As jy die voorreg het om ‘n eienaar van ‘n besigheid te wees – moedig jou mense aan om te stem. Maak dit vir hulle maklik om te stem. Mag Woensdag hoofstuk 1 wees van ‘n nuwe seisoen vir ons land. Mag dit die begin wees van ‘n reënboogkleurige toekoms vir ons kinders.

Ek stem, want ek glo in ons mooi land Suid-Afrika. Vir my, vir Lambrecht en vir die drie klein Coetzeetjies.

Thursday, May 2, 2019

Oupa en Daniel boer




Onlangs gaan kuier ons ‘n bietjie by oupa André en ouma Marinda op Makkiesplaas. Een oggend kondig Oupa aan dat hy gou die oggend moet water aanry na die een plaas. Ek weet dis nogal ‘n entjie se ry en ‘n heel paar hekke, maar Daniël is baie beslis: hy wil saam met Oupa gaan boer. Hy wil net dringend weet of ons padkos kan saamstuur asseblief. Ouma Marinda pak ‘n klein koelsakkie stampvol padkos. Ek loer nuuskierig deur die kos voordat ek aan Daniël oorhandig. Ek sien daar is van droë vrugte tot grondboonjiebotter-en-stroopbroodjies tot biltong en chips. Ouma het aan alles gedink. Hulle neem ook Oupa se blou waterbottel saam. Daniël dring daarop aan om sy vellies aan te trek vir die uitstappie.

Sy glimlag gaan rondom sy kop toe hy met sy vellies en koelsakkie saam met Oupa voor in die bakkie klim. Teen middagete wil ek by tannie Marinda weet hoe laat hulle min of meer sal arriveer. Sy wou nie vooraf waarsku nie, want netnou sou ek Daniël nie saamstuur nie, maar Daniël en Oupa sal eers hier teen 3-uur tuis wees, lig sy my in. (Hulle het die oggend 9-uur vertrek!) Aanvanklik voel ek jammer vir Oupa. Daniël kan geweldig moan as hy die dag so voel. Ek sou Oupa dit wou spaar.
Die tweetjies klim egter ‘n raps voor 3 met groot glimlagte uit die bakkie. Op my vraag hoe die oggend was antwoord Daniël trots – “Dit was ‘n helse boedery mamma.” Ek kan sien Daniël is totaal ooreet. Oupa sê die ou het half skerp geëet...heel pad. Ek moenie verbaas wees as sy magie effe omgekrap is nie. Die koelsak is dolleeg geëet.

Daniel het die laaste stukkie pad so met die biltong in die hand aan die slaap geraak.

Oupa André kan nie ophou lag as hy vertel van hul oggend saam nie. Daniël het ‘n trotse vonkel in die oog. Hy wil altyd so graag boer. Ek dink egter op hierdie stadium is boer vir hom rondry tussen skape terwyl jy eet!

Ek dank die Here vir twee wonderlike oupas en twee wonderlike oumas in ons kinders se lewens. Oupas en oumas wat werklik so toegewyd is in hul posisies! Hulle maak die wêreld ‘n mooi plek vir ons kindertjies.

Tuesday, April 9, 2019

'n Koppie Tee


Een maal ‘n jaar gaan my sussie-hulle se Lena vir ‘n maand lank op vakansie vir kuier by haar familie in Kuruman. Dis nou daardie tyd van die jaar. Marietjie se boodskap gisteraand laat is duidelik ‘n manier om emosioneel te ontlaai. Teen 9-uur gisteroggend het sy nog nie ontbyt oor haar lippe gehad nie. Haar jongste, George (1) was toe reeds gereed vir sy oggendslapie. Andréa (3) was gereed vir teetyd met tee en koekies en hul oudste Anmari (5) was besig om ‘n soektog te loods na grimering sodat sy haarself gereed kan kry vir haar dag. Toe is dit nog net 9-uur.

Van daar het sy ‘n poging aangewend om huis skoon te maak met drie kinders in die omtrek. Middelste het met haar vuil dogtertjievoetjies agter Marietjie aangestap – deur die huis op die nat en skoon vloere. Dit het sy eers na die tyd ontdek. Jongste wou gedurig op die koffietafel staan om deur die venster te kyk. Sy moes net keer – want bloed op ‘n Maandagoggend is die laaste ding wat mens nodig het! Maar sy is nou gerat vir die volgende maand – eindig haar boodskap. Marietjie is ons suster wat altyd ‘n plan het. Klink my daar is nou feitelik ‘n besem, bottel Handy Andy en ‘n sponsie in elke vertrek van hul huis. Waar jy vuil maak, moet jy sommer dadelik weer skoon maak ook.

Huisskoonmaak met drie is nie maklik nie. Eintlik is niks met drie kindertjies maklik nie. Ons moet Amé Donderdagmiddag vinnig na ballet gaan oppik. Dis ‘n eenvoudige, vinnige uitstappie. Amé se balletklassie is immers minder as ‘n kilometer van ons huis af. Toe raak Daniël oppad na die balletklassie honger en ontwikkel ‘n groot piepie. Adriaan spoeg die heeltyd se dummy uit en is sommer net ontevrede met die lewe. Oppad na die motor trap Amé met haar balletskoen in iemand se hond se slagyster. Sy klim  dus in die motor, na aan histerie. Teen hierdie tyd is Daniël al rasend honger van die 5 minute se gewag in die motor. Die reuk van Amé se balletskoen is toe ook vir hom die kersie op die koek. En weens die algemene histerie in die motor op daardie stadium, val Adriaan toe ook by sy boetie en sussie in.

Regtig.En dit moes ‘n 5 minute maklike uitstappie wees.

Selfs in hierdie rowwe seisoen van ons lewens staan ek soms stil om vir die Here dankie te sê vir drie gesonde kindertjies. Ek weet dis ‘n seën.
Vrydagaand sit ons almal met ons hotdogs voor Kom-Ons-Braai. Adriaan lê op sy geel olifantkussing langs my. Ons doen steeds ons hotdogs en Kom-ons-braai tradisie op ‘n Vrydagaand. Daniël lê in Lambrecht se arm op die bank. Ek, Amé en Adriaan deel ‘n bank. Vir ‘n oomblik kan ek nie help om te glimlag nie. Ons tv-kamer se banke is vol, die slaapkamers in ons huis is gevul. Die Coetzees hardloop teen vol kapasiteit. Dis presies hoe ek dit altyd gedroom het.

Gisteraand is ek lus vir ‘n koppie tee in die bed. Terwyl ek nou wag vir Adriaan om te ontwaak vir sy 11-uur voeding. Ek maak sterk Engelse tee met volroom melk en ‘n lepeltjie bruinsuiker. Dit laat my plotseling terugdink aan tee by ouma Susie in die Oos-Kaap. Baie jare gelede. Dit was altyd in die mooiste koppies bedien – met die mooiste tuisgebakte koekies daarby. My gunsteling was my ouma se voortreflike vlakoekies.Net vir ‘n oomblik mis ek die tyd toe ek ‘n kind was. Toe poef op balletskoene en honger kindertjies nog nie my probleem was nie!

Saturday, December 22, 2018

Feestyd = Rustyd


Gister namiddag gaan tel ek ons kinders by Jaco en Sarah op. Hulle het ‘n bietjie daar gespeel terwyl ek vinnig probeer inpak vir vandag se vertrek na Hermanus vir ons Coetzee Kersfees. Jaco en Sarah sit en speel kaart met glase witwyn – min wyn met baie ys. Die kinders is besig om ‘n danspartytjie te hou in opdress klere. Die prentjie lyk feestelik. Die Else het in rus ingegaan vir die feestyd.

Ek onthou die feesseisoen as kind. Soggens is alle nodige take verrig. Na ‘n middagslapie voor waaiers het die hele gesin in die klipdam gaan swem om af te koel. Ek onthou nog die slymerige bodem van die dam, die duisende waterhondjies (soort vreemde swemmende gogga) en die sout sout boorgatwater in die dam. Ons mag nooit my ma se hare nat gespat het nie.

Na die swem was dit koffie op die stoep, koffie en van my ma se tuisgebakte vrugtekoek. Dan het ons sommer lank so sit en kuier op die stoep voordat elkeen weer sy gang gegaan het. Desembermaand was GOEIE rustyd.

My kop weet my lyf moet rus, nietemin het ek weer hierdie week van daardie angsaanvalle gehad oor die toestand van ons huis. Adriaan arriveer middel Februarie, maar tog was ek nog nooit so onvoorbereid vir ‘n baba nie. Daniël se kamer voel soos ‘n nes. My versamelkind kan niks wegsmyt nie. As ek saam met hom sy kamer wil orden, loop dit uit op oorlog. Selfs die boksies en papiertjies van speelgoed wat ons koop moet bewaar word.

Ek sien die heeltyd iets wat ek eers wil skoonmaak voordat ek op die bank sal ontspan met ‘n boek. Die lysies in my dagboek is nimmereindigend.

Sondag bring Christiaan die mooiste boodskap oor rus. Wat bedoel God met rus? (God se rus lyk anders as die wêreld se rus. In die wêreld bepaal werk jou wins. In die koninkryk bepaal rus jou resultate in terme van jou vrugte.)  Gister luister ek nog ‘n handvol kort clips van Bill Johnson oor rus. Rus is nie iets wat ons net in Desember moet doen nie. Ons moet in rus bly by God se voete. Dis in rus waar ons God se stem. Ons hoor nóóit sy stem terwyl ons hardloop en jaag en lysies tiek nie. Dis nie hoe dit werk nie.

Gisteraand maak ons ‘n krismisbed voor die televisie. Ons maak pizza, die kinders help kerf en rasper. Ons eet voor Home alone 1. Die kinders geniet die aand ongelooflik baie. Ons ook. Dit voel soos die feesstyd. Ek gaan slaap sonder om die kombuis op te ruim. Ons eet sjokolade in die bed voor ons gesin in een groot bed aan die slaap raak.

Vanoggend gaan ry Lambrecht en die kinders ‘n vinnige draai. Ek speel kliphard lofprysingsmusiek en sing sommer uitbundige saam. Die Here se rus is vir almal. Dis soos Sy genade. Ons moet net dankie sê en dit geniet.

Mag jy en jou gesin hierdie feestyd regtig God se wonderlike rus proe.

Jes. 30:15
As julle julle bekeer en tot rus kom,
Sal julle gered word.
Julle krag lê in stil wees en vertroue hê.


Wednesday, November 7, 2018

Tien jaar


Vandag is dit tien jaar. Tien jaar het vinnig én stadig verbygegaan. Ek wil deur die dag glip sonder om te onthou. En ek wil deur die dag gaan en almal stop en vertel. Net vir ingeval hulle vergeet het, of dalk nooit geweet het nie.

My ma is vandag tien jaar al dood.

Ek ontdek die boekie waarin mense op die dag van haar begrafnis boodskappe geskryf het. Die trane loop sommer net. Sonder dat ek huil. Ons dogtertjiekind wil weet of mamma huil of traan. Dis asof sy die verskil ken. Mamma huil nie, mamma traan sommer net op hierdie dag tien jaar later.

My ma se “aanneemkoshuiskind” uit Namibië destyds het sy boodskap begin met (Ek weet hy sal my vergewe dat ek aanhaal) –
“Tannie Annamarie het altyd tonne liefde gehad. Ek wil amper net dit skryf want dit was genoeg vir my.”

Soms is ek so bang die herinneringe na my ma glip jaar-vir-jaar weg totdat daar niks oorbly nie. Maar hierdie enkele sin som so mooi op wie my ma was. Ek onthou van ons laaste stappies op die grondpad tussen die groen doringbome so helder. My ma het so gelag dat ons vir ‘n rukkie moes stilstaan totdat die ergste van die lagbui oor was. Ek onthou die blou aartjies op haar hande. Ek onthou die reuk van haar parfuum – wat so kenmerkend van haar was. Ek raak nou nog hartseer wanneer ek dit ruik. Ek onthou die manier waarop sy haar hande room gesmeer het terwyl sy saans in die bed sit en bid. Ek onthou haar harde nies en haar lekker lag. En natuurlik onthou ek die manier waarop sy ons altyd op die stoep ingewag het na ‘n week by die koshuis of ‘n kwartaal by die universiteit. Sy het haar hande altyd so geklap en uitgelate gelag – jippieeee.

Tien jaar later – en ek dink ek mis dit sommer net vandag weer so om die woord te sê (Want dis die een woord wat jy net vir een mens op aarde sê) ....

“Mamma.”