Die GROOT dag!


 
    
                                       



Verlede naweek kuier ons saam met vriende by Brittaniabaai. Ek waarsku vooraf: My man raak baie opgewonde. En soms lewer hy hard en kwaai kommentaar. Hulle lag net en sê, ons kan ontspan. Dit gaan hulle beslis nie pla nie. Hulle is nie eintlik skreeuers nie, maar hulle oordeel beslis nie as iemand baie opgewonde raak nie.

 Die wedstryd is ‘n snaakse een. Ons emosies wissel van vies, tot geskok, tot verslae. Ek raak later sommer negatief en sê negatiewe goed oor ons geliefde bokkies… “As mens so speel verdien jy eintlik nie ‘n wen nie,” is een van my laaste negatiewe insette. Toe vererg manlief hom bloedig vir my, want negatiewe mense soos ek sê blykbaar negatiewe goed en dit het ‘n negatiewe impak op die spelers. Manlief is op ‘n stadium ewe vies vir my en die bokke. 


Halftyd sluk ons ‘n Springbokkie af. Ons cheers eers voor ons dit drink. En toe raak die blok die volgende helfte nog warmer. (Ek moes dalk aan die begin sê – my man verloor eerder teen Japan as teen die Engelse. Hy hou nie van ‘n verloor teen die Engelse nie.) Die laaste 10minute is ons almal op ons voete. Selfs Michael wat nie eintlik skree nie, skree uit volle bors op die televisie. Ons senuwees is aan flarde. Tot op die bitter, bitter, bitter einde skree ons, bid ons en hou ons aan met hoop. En weereens laat ons bittereinder Bokkies ons nie in die steek nie. 

Ek onthou nog daardie vorige eindstryd teen die All blacks in 1995. Daardie tyd het ek nie veel van rugby geweet nie. Ek onthou net die skepskop en die saamkuier op die buurplaas. Daar was baie mense by oom Willemse en tannie Sussie daardie dag. Ek onthou nie veel van die kos nie. Ek onthou net daar was ‘n pastei en met deeg is daar “Bokke” op daardie pastei geskryf gewees. Daai pastei het my vreeslik beïndruk! Vanaand kyk ons die bokke op ons eie werf saam met vriende. Hier is geen pasteideeg met bokke-letters daarop nie. Hier is wel bok ballone, vlae, speel-speel tattoos vir op ons wange, bokservette en ‘n boktafeldoek. Ek dink Wellington se partytjiewinkel eienares moes ‘n fortuin maak uit alle bokverkope. Byna alle seuntjie partytjies hierdie jaar is ook volgens die bok-tema (Alles uit ons lekker Wellington partytjiewinkel!). 


En nou is dit byna sulke tyd. Netnou trek ons, ons geliefde groen truie aan en sit ons bokoorbelle in. Ons steek die vure aan en speel ons Bok-playlist kliphard. Ons maak gereed vir iets skouspelagtigs. En ons is so trots op ons Springbokke. Ongeag.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep