Posts

Showing posts from August, 2017

Die draadwerkersdieet

’n Wonderlike week in die winter gaan vertoef ons in Makkiesplaas se Veldhuisie. Hierdie lappie heilige grond waar daar nog geen google of DSTV of Facebook is nie. My pa verduidelik op watter hoogtetjie mens kan klim vir MTN-opvangs. Ons stap draaie om daardie hoogtetjie. Saans maak ons donkievuur en vroegaand sit en kuier ons om die gaslamp. Net ek en my man en ons kindertjies. Die Boesmanland raak koud in die winter – daardie tipe koue wat sny deur jou gebeendere! Ek gaan met die beste intensies op vakansie. Die oggende is ongelukkig vriesend koud. Letterlik. Die kripwater en soms selfs die water in die pype is kliphard vasgevries. Wie draf in sulke koue?! Ek besluit vooraf dat ek eenvoudige kos gaan saamneem Veldhuisie toe; nie ‘n enkele slaaiblaar of pit of saad of iets in die kategorie nie. Die beste wat ek doen is naartjies, rosyne, patats, dadels en wortels. Die bederf mos nie so maklik nie. Saans sal ons braai en ‘n vorm van brood daarby maak. Ek neem genoeg ordentlike