Posts

Showing posts from October, 2018

Die beroepsweduwee

Ek dink die belangrikste om te verstaan van ‘n beroepsweduwee, is dat haar man mal is oor wat hy doen. Dis nie net sy brood en botter nie, hy kan dit ook geniet vir voorgereg é n nagereg. Dis die een ding wat, naas sy gesin, ‘n hup in sy stap sit. My man se “ding” is druiwe. As hy nie so lief was vir druiwe en alles wat daarmee saamgaan nie, is ek seker hy kon al lankal van beroep verander. ‘n Beroep wat meer geroepe is tot om-die-pot wees! Nietemin, daardie nuwejaarsaand in Kakamas toe ek hom die eerste keer gewaar en by myself dink: Dis sekerlik die mooiste man wat ek nog ooit gesien het, was hy juis in Kakamas vir DRUIWE. Ek’t dus geweet my man kom in ‘n pakket – manlief en sy druiwe-liefde. Twee kindertjies later, met ‘n derde oppad, en ‘n Jack Russel en ‘n piepklein swembad wat altyd groen raak as manlief nie tuis is nie, voel ek ewe skielik so jammer vir myself. Die beroepsweduwee. Die afgelope week is dit weer so. My naweek skop mooi af met skoon tonic met ys e

Die waarheid

Image
  Onlangs ry ons Raap-en-Skraap toe vir my stiefbroer se troue. Raap-en-Skraap is sowat ‘n 100 kilometer vanaf Pofadder. Dis ‘n lieflike stukkie oase langs die Oranjerivier. Noodgedwonge mis ons die Vrydagaand se potbrode en potjiekos en familie saamkuier. Volgens ons bronne was dit feestelik lekker. Stan (my swaer wat boer naby Pofadder) was aan stuur van die potjiekos. Stan is ‘n tydsame potmaker. Hy verstaan die ritme van pot maak. Hy weet dat brandewyn en coke en goeie geselskap deel uitmaak van die pot se sukses. My (vinnige) sussie jaag hom toe egter die spesifieke aand effe aan. Daar was immers baie mense wat moes eet – van oupas en oumas tot peuters. Die troue Om bogenoemde rede is die pot se sous toe bietjie langer as normaalweg. Dit bly ‘n uitdaging om potjiekos met ‘n lang sousie uit ‘n papierbord te eet. Stan se broer, Neal, het die potjiekos een kyk gegee en droogweg opgemerk, “Die lewe is tough , die mense moet maar deal met die sous en die papierbord.”