Die waarheid


 Onlangs ry ons Raap-en-Skraap toe vir my stiefbroer se troue. Raap-en-Skraap is sowat ‘n 100 kilometer vanaf Pofadder. Dis ‘n lieflike stukkie oase langs die Oranjerivier. Noodgedwonge mis ons die Vrydagaand se potbrode en potjiekos en familie saamkuier. Volgens ons bronne was dit feestelik lekker. Stan (my swaer wat boer naby Pofadder) was aan stuur van die potjiekos. Stan is ‘n tydsame potmaker. Hy verstaan die ritme van pot maak. Hy weet dat brandewyn en coke en goeie geselskap deel uitmaak van die pot se sukses. My (vinnige) sussie jaag hom toe egter die spesifieke aand effe aan. Daar was immers baie mense wat moes eet – van oupas en oumas tot peuters.
Die troue

Om bogenoemde rede is die pot se sous toe bietjie langer as normaalweg. Dit bly ‘n uitdaging om potjiekos met ‘n lang sousie uit ‘n papierbord te eet. Stan se broer, Neal, het die potjiekos een kyk gegee en droogweg opgemerk, “Die lewe is tough, die mense moet maar deal met die sous en die papierbord.”

Oppad huistoe stop ons net vinnig in Pofadder vir ‘n Rapport en brandstof. Die meisie agter die till wil eers weet wat die Rapport is toe ek haar vra of hul nog Rapporte het. Dan skud sy haar kop. Amper asof sy wil sê – hier in ons dorp gaan jy nie ‘n Rapport kry nie. Deal maar daarmee.

Dis die September-vakansie en ek kom kuier vir ‘n week by my sussie-hulle op die plaas. Lambrecht en sy broer en die vier kindertjies gaan maak mooi herinneringe in Makkiesplaas se veldhuisie. Ek kom skep asem op Millerton. Stoksielalleen. Die waarheid is dat mammas ook uitbrand. Ek is verskriklik lief vir my man en ons kindertjies, maar iewers ontwikkel mens die hartsbegeerte om net weer alleen op die toilet te sit. Of om te stort sonder dat jou kindertjies vir jou kyk EN kommentaar lewer. Gister gaan drink ons koffie by Sarien op die buurplaas. Sy haal die mooiste, tuisgemaakte koeksisters uit vir saam met die koffie. Toe ek wil begin verduidelik waarom ek vir drie aandjies net alléén by my sussie kuier, waai sy my verduideliking met die hand weg. Ek hoef niks te verduidelik nie. Sy is ‘n ma. Sy verstaan. Sy kan self nie onthou wanneer laas sy met ‘n toe toiletdeur kon piepie nie...
Die plaaskuier

Gister wil ek klere vir Marietjie se dogtertjies uit die kas haal. Sy beduie dat ek asseblieftog net nie die kaste moet oopmaak nie. En as ek dit oopmaak moet ek maar deal met wat ek sien. Haar huis is nou vol kindertjies. Netjiese kaste is baie laag op haar prioriteitslys. Dis die seisoen waarin sy nou is. Later eet klein Andréa ‘n vyekonfytbroodjie. Haar ma moet asseblief die hopies ook op haar broodjie sit, vra sy in haar soetste stem. Die hopies is nou stukkies vye. Toe ek later haar bordjie gaan haal lê die broodjie nog net so. Net die stukkies vye is van die broodjies afgelek.

Die waarheid is – die lewe is nie die een perfekte oomblik na die ander nie. Potjiekos se sous kom nie altyd die regte dikte uit nie. Almal in die land weet toe inderdaad nie wat die Rapport is nie. Mamma-wees is werklik nie so maklik en idillies soos party mammas dit op FB en Instagram laat lyk nie. Die geheim is net dat jy leer deal daarmee. As dit beteken dat jy soms “hopies” suikersoet vye van ‘n broodjie moet aflek. Doen dit.


Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep