Posts

Showing posts from March, 2014

Gaan leer n les op Kakamas

Byna twee weke gelede klim ek die bus Kakamas toe met ons meisiekind vir kuier by Oupa en Ouma op die plaas. Ek wil hê ons kind moet stof en vlaktes en dorpervleis proe. Maar saam met dit hoop ek dat die Here my kop sal oopmaak vir dink en antwoorde van Hom af. Die bus arriveer Vrydagoggend in Kakamas. Ek het ‘n afspraak met Petri van RegtigAwesome, want dit druk op my hart om haar storie te vertel op papier. Ek stap haar klein klerefabriekie, in die boonste verdieping van Kakamas se ou Meulhuis, met baie verwagting binne. Self het ek toe nog nie geweet waarom nie. Die Here wys my gou waarom ek hierdie afgespreekte uur met Petri gereël het. Sy borrel. Sy gee my perspektief oor die lewe, oor God, oor my bepaalde doel met hier waar ek nou is. Sy is geseënd omdat sy Hom ken. Punt. Nie omdat sy ‘n man en kinders en ‘n besigheid en ‘n huis en ‘n motor het nie. Dis ook wonderlik. Om God te ken, oortref alles. Om Sy kind te wees, om die pad saam met Hom te stap, dis wérklik seën,

Wille manne-naweek

Die spul mans kom verbreek ons vredevolle weeklange Strandfontein vakansie wreed en onverwags. Die nommerplate van hul Prado’s, Rav en ander blink dubbelkajuite verklap dat hulle van Stellenbosch en omgewing is.   Ek beloer hulle skaamteloos vanaf ons houtdek terwyl hulle uitbundig en lawaaierig afpak. Die koelbokse is baie en swaar. Die kleresakke is klein en leeg, bespied ek bekommerd. Een van die tien kom maak verskoning vir wat wag terwyl hulle die braaivleisvure aansteek. Dis ‘n mannenaweek. Hulle tien pelle doen dit een maal ‘n jaar en hulle sien heel jaar lank uit na die geleentheid. Hulle gaan hulle bes probeer om ons nie te pla nie. Nog een van die ordentlikes neem ‘n selfoonfoto voor die eerste prop oopgedraai word. Ons raai hy stuur dit seker vir sy vroutjie. Waarskynlik die laaste boodskap vir die naweek.   Hulle kon harder probeer om sagter te braai. Vrydagaand het die manne nie einde nie. Ons kind skrik stiptelik om 24:00, net toe ons bed se kant toe staan, w