Gaan leer n les op Kakamas


Byna twee weke gelede klim ek die bus Kakamas toe met ons meisiekind vir kuier by Oupa en Ouma op die plaas. Ek wil hê ons kind moet stof en vlaktes en dorpervleis proe. Maar saam met dit hoop ek dat die Here my kop sal oopmaak vir dink en antwoorde van Hom af.

Die bus arriveer Vrydagoggend in Kakamas. Ek het ‘n afspraak met Petri van RegtigAwesome, want dit druk op my hart om haar storie te vertel op papier. Ek stap haar klein klerefabriekie, in die boonste verdieping van Kakamas se ou Meulhuis, met baie verwagting binne. Self het ek toe nog nie geweet waarom nie.

Die Here wys my gou waarom ek hierdie afgespreekte uur met Petri gereël het. Sy borrel. Sy gee my perspektief oor die lewe, oor God, oor my bepaalde doel met hier waar ek nou is.

Sy is geseënd omdat sy Hom ken. Punt. Nie omdat sy ‘n man en kinders en ‘n besigheid en ‘n huis en ‘n motor het nie. Dis ook wonderlik. Om God te ken, oortref alles. Om Sy kind te wees, om die pad saam met Hom te stap, dis wérklik seën, verseker Petri jou sommer met die groetslag. Ek sê so maklik ek is geseënd omdat ek dit of dat het. Goeters. Nie God nie, besef ek .

 Ek het onlangs my werk bedank. Net daarna het ons ‘n huis gekoop. As ek gespanne raak verloor ek perspektief. Ek spandeer ure aan soek op die internet na die perfekte halfdag werk. Later is ek bereid om enigiets te doen, solank dit halfdag is. Ek bid tot die Here. Al waaroor ons gesprekke gaan is ek wat die Here vra vir ‘n uitkoms – teen ‘n afsnydatum. Petri kyk my vierkant in die oë en vra of ek al ooit daaraan gedink het om die Here te vertrou vir ons finansies. Dalk moet ek eers vir ‘n maand of twee by die huis wees.

          Dis moeilik om blindelings te vertrou. Ek glo in God. Ek glo dat ek elke asemteug wat ek gee    
          van Hom kry, tog is ek versigtig om ons geldsake oor te gee. Dit voel so moeilik om in die
          wêreld se oë te kyk en te sê: “Ek is huismamma. Dis die seisoen waarin ek is.” Die wêreld sien
          huismamma wees selde as ‘n roeping. As jy dag in en dag uit opvoed, raas, slaapmaak,   
          wakkermaak, skoonmaak , voel dit later self nie meer na so edel taak nie.

Ek stap die trappe by Petri se winkel af en besef ek slaan die bal mis. Ek vergeet waarom ek hier is. Ek misbruik die allerheiligste, almagtigste Vader en Koning op aarde tot my gerief.  Ek sit nie by Hom omdat ek sommer net naby Hom wil wees nie. Ek luister nooit nie. Ek praat altyd.

Gelukkig vir genade. Ek weet God sit en wag al die tyd vir my terugkom. Die verlore skaap. Ek weet ek moet weer stil raak. God laat Hom beslis nie aanjaag nie…

 Mat. 6:33  Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep