Ons Veldhuisie stap

Staan op.Trek aan.Gaan draf.Maak kosblikke.Stort.Maak koffie.Maak pap.Maak almal wakker.Gaan werk.Kom terug.Eet middagete.Sport.Doen huiswerk.Maak aandete.Kyk TV.Stort.Lees Bybel.Slaap. V a k a n s i e H A A L A S E M. V O E L. D I N K H E L D E R. E R V A A R. B I D. W E E S.
Iewers tussin in sal ek so graag die balans wil vind. Ons gaan vir vyf vinnige dae Makkiesplaas toe. Lambrecht moet elders werk en laai ons sommer oppad af. Ons gaan vir drie dae stap. Ons eie uitgedinkte veldhuisie stap. Die drie susters en Rebekka. Ons laai ons ses kindertjies vir twee nagte se slaap by oupa André en ouma Marinda af. Met die groetslag glimlag oupa en ouma dapper en sê ons moet ons oor niks bekommer nie. Hulle gaan die tyd van hul lewe saam met hul kleinkinders hê. Ons moet onsself net geniet. Ons spring half 11 Sondagoggend weg met groot entoesiasme. Ons stop langs ‘n leë gronddam vir ons Sondagmaal. Elkeen kry ‘n bos om onder te skuil vir skaduwee. Van Gemsbok droëwors tot plaasnaartjies tot fyngekapte biltong van die winterbees wat geslag is. My gunsteling is natuurlik om sommer met ‘n pot peanutbutter te stap. Dan eet ek dit sommer so uit die pot uit op die provitas – met ‘n medisyne lepeltjie as mes.
Op dag twee stap tannie Marinda saam. Marli sit uit om oupa met die span kleinkinders by te staan. Op kilometer 16 stap ons Makkiesplaas se plaaswerf binne. Ons gooi ‘n oranje deken onder die peperboom op die gras en al ons kindertjies kom sit naby ons om nuus te vertel. Ons drink yskoue Savannas sommer so uit die botteltjies. My ma was altyd so kwaai oor uit die botteltjie drink, maar ons voel warm stappers het die reg! Rebekka se voete het hul eerste blase en sy ryg helderkleurige gare deur die blase om dit te dreineer. Marietjie spog trots met haar voete se vermoë om nooit blase te vorm nie.
Half twee, toe die Boesmanland op sy warmste is spring ons weg vir die laaste 9 km na die veldhuisie toe. Toe ons die veldhuisie in die verte sien snak Marietjie na haar asem – iets het nou gebeur. Ons stap drie tree verder en sy snak dieselfde snak. Dit het weer gebeur. Toe sy haar skoene uittrek is dit nat waar albei voete se blase gebars het. Sy stap die laaste kilometer veldhuisie toe op haar pienk Hi Tec sokkies. En ons giggel - want mens spog nie oor die blase wat jy nie het nie voordat jy nie heeltemal klaar gestap is nie. Teen dag drie lyk Rebekka se voete soos kermis. Helder en vrolik van alle gekleurde garingdraadjies deur die blase. Marietjie kondig aan dat sy nie haar tekkies kan aantrek nie. Sy dink nie sy gaan ooit weer tekkies kan aantrek nie. Haar voete het twee reuse blase. Sy stap dag drie met plakkies. Sy klim die Swartkop tot by die baken met haar plakkies.
Die stap was lekker, maar die aande was onvergeetlik. Windstil en net volmaak. Marietjie maak elke aand donkievuur vir warm water en Rebekka maak vuur en braai vir ons. In die skerm kry ons kans om van die kant af na ons eie lewens te kyk. Ons lag baie. Ons drink flou G&T’s en witwyn met baie ys. Ons probeer die kuier onder die sterre uitrek solank as wat ons kan.
Gesels julle as julle so stap, wil my man nuuskierig weet. Ek is effe verbaas oor die vraag. Natuurlik gesels ons. Hèèlpad. Vir drie dae lank. Ons praat oor gesigprodukte, ons kinders, kos, ons drome, ons land, verjaarsdagpartytjies, Marietjie se pantoffels, Marli se Langtafel, Rebekka se melk. Ons praat oor die Here. Ons lag oor die dinge wat ons soms wil laat huil. Met elke tree word ons ligter. En ons kinders? Oupa en Ouma oortref hulself. Ouma maak die hele sitkamer ‘n bed. Sy staan elke nag ten minste vier keer op vir haar kleinkinders se behoeftes. Oupa sê hy sit snags uit. Hy kan net bedags help. Oupa laat hulle trekker ry. Oupa maak ‘n jacruzzie en ry dan stadig rond sodat die jacruzzie branders maak. Die vierde kwartaal is op ons voorstoep. Hoe doen ek dit rustig, wil ek by my wyse Marietjie-sussie weet. Sy lag vir my. Moenie eens probeer nie. Ek vat die veldhuisie se sterre en stilte en stof saam met my die vierde kwartaal binne. Elke nou en dan sal ek een van Rebekka se playlist se liedjies luister om my te herinner: ‘n Gejaag maak mens net moeg!
Ek’s ‘n lat van die stad, maar ek’s ‘n boer in my hart. Die gejaag maak my moeg en ek wil eintlik net ploeg. (Ek bly ‘n boer – JAN JAN JAN)

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Skuinskoekstorie en resep