Posts

Showing posts from March, 2013

Verewig is so finaal

Ons tassies staan al die afgelope twee weke gepak. Hare is ‘n wit blommetjie doekesak wat ons by Lyndi gekry het. Myne is ‘n blou blommetjie een wat ek nog in Stamford se “high street” in Engeland gekoop het. Haar kamer is prentjiemooi – soos ek nog altyd daarvan gedroom het. Nou wag ons, ons eersteling se koms met senuwees, gemeng met opgewondenheid en afwagting af. Saans wil die slaap nie lekker kom nie. Of ons word in die middel van die nag wakker en die slaap bly weg. Laasnag word ek om middernag wakker met Lambrecht se hand op my maag: “Engel, is jy oraait? Amé skop verskriklik.” Ek is oraait, net soms totaal oorweldig deur die gedagte van die nuwe hoofstuk wat wag. Micha, my een skoonsuster sê dis nie ‘n nuwe hoofstuk nie. Dis ‘n nuwe boek. Micha en Van Heerden se jongste is agt weke oud. Nina en Luca is die mooiste iets wat met hulle kon gebeur, vertel hulle dikwels. Petra laat weet uit die Kalahari dat hul weekoue Deniel haar iets nuuts van liefde geleer het. “Dis ‘n l

Paaseiers en paashase

  Wanneer jy op kraamverlof is, het jy baie tyd vir dink. Dis nou as jou tassie klaar gepak is, jou vrieskas gelaai is met jou man se gunstelinge in gevriesde vorm en elke hoekie van jou huis blinkskoon is. Ek is nou dáár. Ons Lena het vandag bitter hard geswoeg!   Na my middagslapie (Ja, kraamverlof is beslis luuks – voor die baba daar is), begin wonder ek oor die Paastyd. Ek wonder sommer hoe ons gesin dit altyd gevier het. Dis so ongelooflike belangrike datum op die kalender. Ek gaan grawe tussen my albums. En vir ‘n oomblik trek my hart ‘n punt van verlang na kindwees op Makkiesplaas.   Ek’s nie verbaas om te sien Mamma het grootgegaan met ons laaste Paasfees nie. Ons Maandagoggendtafel lyk feestelik. Pappa lyk haastig in sy khaki-kleur hemp. Hy was altyd brommerig as hy moes wag vir later ontbyt saam met die hele gesin. Ons ritueel was immers dat Mamma vroegoggend gereed staan met boerbrood en moerkoffie vir Pappa. Ons ander sou eers later ontbyt. Vir Paas Maandag het

Herfskostyd kom vinnig nader

Woensdag is dit warm. Dis so warm dat ek teen 1-uur probeer onthou of ek al óóit so warm in my lewe gekry het. My voete, wat altyd so mooi fyn en vroulik was, is pofferig en reusagtig. Of so voel dit vir my. Die hitte breek my. Pa Danie skryf in ‘n eposbriefie dat dit koud is. Dis bitter koud. Die sneeu maak dat hy nie eens in die tuin kan werskaf of karwas nie. My Lezanne-vriendin uit Engeland sms dat sy besig is om botterskorsiesop en my ma se Boesmanland “buns” te maak. Sy dink sommer aan my. Ek gaan haal my rooi Adidas waterbottel en drink nog ‘n 500ml yswater met ‘n paar teue leeg. En ek mis Engeland se koue. Ek wil bibberkoud kry. Ek wil by pa Danie en ma Elize in hul sitkamer kuier met die klein verwarmer digby my voete. Ek wil van Ma se ongelooflike koffiemasjien koffie drink uit een van hul groot wit bekers sodat ek my hande bakkies daarom kan vou om dit warm te maak. In die middernagtelike ure wil ek saam met Pa, Ma en hul laatlam, my man, rustig teug aan goeie whisk

Coke en paaseiers

Dit gebeur dikwels. Klein goedjies gebeur, en terwyl dit gebeur weet ek: God is besig om met my te kommunikeer. Hoor ek wat ek hier moet hoor? Woensdagoggend is dit weer sulke tyd. Een van ons kliënte, iewers tussen dertig en veertig, kom loer in sommer net om hallo te sê. Sy is ‘n bekende gesig by ons koffieplekkie. Sy drink normaalweg net ‘n koffie. Sy sit egter lank. Sy gesels lang stories met die meisie wat bedien. As ek kom môre sê en vra of sy nog gelukkig is, gesels sy ook lang stories met my. Woensdagoggend lyk sy soos sy gewoonlik lyk. Kort haartjies, plat op die kop, waarvan die grys plek-plek deurslaan. Sy het ‘n kortbroek aan wat net bo haar knieë sit en haar bloesie is definitief tuisgemaak. Sy kom sê eintlik net vinnig môre, verduidelik sy. Sy gaan later kom koffie drink. As sy nou klaar by die vriendin was. Sy is oppad na haar vriendin.   Die vriendin kry baie swaar. Sy bly iewers agter MacDonalds en sy het nie ‘n werk nie. Dit gaan regtig sleg. Sy bedui