Paaseiers en paashase



 Wanneer jy op kraamverlof is, het jy baie tyd vir dink. Dis nou as jou tassie klaar gepak is, jou vrieskas gelaai is met jou man se gunstelinge in gevriesde vorm en elke hoekie van jou huis blinkskoon is. Ek is nou dáár. Ons Lena het vandag bitter hard geswoeg!

 Na my middagslapie (Ja, kraamverlof is beslis luuks – voor die baba daar is), begin wonder ek oor die Paastyd. Ek wonder sommer hoe ons gesin dit altyd gevier het. Dis so ongelooflike belangrike datum op die kalender. Ek gaan grawe tussen my albums. En vir ‘n oomblik trek my hart ‘n punt van verlang na kindwees op Makkiesplaas.

 Ek’s nie verbaas om te sien Mamma het grootgegaan met ons laaste Paasfees nie. Ons Maandagoggendtafel lyk feestelik. Pappa lyk haastig in sy khaki-kleur hemp. Hy was altyd brommerig as hy moes wag vir later ontbyt saam met die hele gesin. Ons ritueel was immers dat Mamma vroegoggend gereed staan met boerbrood en moerkoffie vir Pappa. Ons ander sou eers later ontbyt. Vir Paas Maandag het Pappa die opoffering gemaak.

 Elkeen het van daardie “marshmellow” paaseiers in sulke oulike bakkies, met sulke mini eiertjies wat as versiering rondom die bakkie lê. Net Marli het ‘n groot sjokolade paashaas. Sy is immers die baba. Ek kan nie onthou nie, maar ek glo sy sou darem van haar sjokolade vreugde ook vir ons aanbied!

 Ek sien ons het ook heerlike “hot cross buns” in die draad hoendertjie wat Mamma nog by tannie Keppies gekry het. Ek weet sommer dis melkkoffie wat ons uit Lyndi se spikkel bekertjies drink. Die blou en wit Tupperware bak is ook gedek. Pappa sou nie volraak van een “hot cross bun” nie. Daai bak was altyd die boerbrood bak. Na sy “bun” sou hy  nog brood ook eet. Beslis.

 Stukkies onthou kom terug so saam met die foto’s. Ek onthou hoe ons Goeie Vrydagoggend as gesin saam na die RSG-preek sou luister. Ek onthou ook die een bepaalde Goeie Vrydag wat ons die mooiste houtkruis op’n hoogtetjie klipgoooi van die huis af gaan plant het. Mamma het gesê ons moet daar gaan bid as ons iets groots voor die Here wil sit. Dan moet ons ‘n klip soek en dit daar los na ons gebed. Na Mamma se dood was ek eendag daar. Daar was baie klippe. Mamma se bidklippe.

 Marietjie en Stan het ook so kruis op hul plaas. Dis op ‘n damwal geplant, want Millerton bestaan net uit vlaktes. Vlaktes so ver as die oog kan sien. ‘n Gronddamwal was dus die beste wat hulle kon kry. Daai kruis op die damwal bid net so lekker, want stilte is nêrens so volop soos by daardie kruis nie!

 Mens moet stilraak oor die Paastyd. Jy moet iewers gaan waar jy hard kan bid en stil kan wag vir Jesus se stem. Met ons babatjie wat se geboorte minder as ‘n week weg is, is my begeerte na stilte by Jesus sterker as ooit. Ons gaan ook sjokolade eiers en hase eet…maar iewers tussen die sjokolade sal dit baie stilraak op die Coetzees se “werf.”

 Want ons het ‘n behoefte na regtig hóór wat Jesus hierdie Paastyd wil sê.

 
Ezekiel 36:26

I will give you a new heart and put a new spirit in you.

 

 

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep