Coke en paaseiers

Dit gebeur dikwels. Klein goedjies gebeur, en terwyl dit gebeur weet ek: God is besig om met my te kommunikeer. Hoor ek wat ek hier moet hoor?

Woensdagoggend is dit weer sulke tyd. Een van ons kliënte, iewers tussen dertig en veertig, kom loer in sommer net om hallo te sê. Sy is ‘n bekende gesig by ons koffieplekkie. Sy drink normaalweg net ‘n koffie. Sy sit egter lank. Sy gesels lang stories met die meisie wat bedien. As ek kom môre sê en vra of sy nog gelukkig is, gesels sy ook lang stories met my.

Woensdagoggend lyk sy soos sy gewoonlik lyk. Kort haartjies, plat op die kop, waarvan die grys plek-plek deurslaan. Sy het ‘n kortbroek aan wat net bo haar knieë sit en haar bloesie is definitief tuisgemaak.

Sy kom sê eintlik net vinnig môre, verduidelik sy. Sy gaan later kom koffie drink. As sy nou klaar by die vriendin was. Sy is oppad na haar vriendin.  Die vriendin kry baie swaar. Sy bly iewers agter MacDonalds en sy het nie ‘n werk nie. Dit gaan regtig sleg.

Sy beduie na die Checkerssak in haar hand en verduidelik wat daarin is. Sy het ‘n bottel Coke en paaseiers gekoop vir die kuier. Dan kan hulle mos nou lekker eet en drink terwyl hulle kuier. Ek beaam dat dit sowaar ‘n blink plan is. En dat dit baie mooi is van haar om so om te gee vir haar vriendin wat so swaarkry.

Vir  ‘n vlietende oomblik dink ek aan my vorige koffie by Lyndi…daar was Woolworths koeksistertjies wat met elke happie ontplof het van suikersoet stropies. Hul tekstuur was perfek. Buite was hulle hard en binne propvol stroop. Dan was daar ook ‘n Woolworths sjokoladekoek. Dié was net so hemels. En ons kon kies tussen sap, koffie of tee. Niks Coke of paaseiers nie.

Ek kyk haar agterna terwyl sy met haar Checkerssak in MacDonalds se rigting stap. Dis warm en ek kan sien sy moes waarskynlik al ‘n taamlike afstand van haar huis af stap om hier te kom.

Ek weet wat my pla van haar. Sy het ook nie in oorvloed nie. Sy drink waarskynlik ook nie elke dag Coke nie, en die paaseiers sal waarskynlik ook vir haar vandag n hoogtepunt wees. Maar uit die bietjie wat sy het, gee sy vanoggend in oorvloed aan hierdie vriendin wat agter MacDonalds woon. Sy gee haar alles.

Ek ry na werk huistoe en dink weer aan haar. Ek weet dat ek meer behoort te gee – dat ek meer behoort uit te kyk vir geleentheid om te gee. Saterdagaand lees ek en Lambrecht iewers in 2 Korintiërs dat jy sal saai wat jy maai. En dat die Here die blymoedige gewer liefhet.

Dit laat my ook weer dink aan die ongelooflike mooi gehekelde kombersie wat in ‘n pakkie by ons arriveer het van Retha van Pofadder af. Vir ons nuwe dogtertjie. Dit moes dae neem. Dis regtig iets besonders. Sy het bloot verduidelik dat dit ‘n boodskap uit die hemel was. Sy moes net luister en gehoorsaam. ( Die kombersie lyk na ‘n hemelse boodskap! Helder kleure, blokke en blomme, vrolik en perfek vir ‘n babadogtertjie.)

En hoe dikwels lyk dit soms na net te groot werk om sulke boodskappe uit die hemel te gehoorsaam!

Ongeag of dit van ons Coke en paaseiers, of hekelwerk vra...


Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep