Ons tassies staan al die afgelope twee weke
gepak. Hare is ‘n wit blommetjie doekesak wat ons by Lyndi gekry het. Myne is
‘n blou blommetjie een wat ek nog in Stamford se “high street” in Engeland
gekoop het. Haar kamer is prentjiemooi – soos ek nog altyd daarvan gedroom het.
Nou wag ons, ons eersteling se koms met senuwees, gemeng met opgewondenheid en
afwagting af. Saans wil die slaap nie lekker kom nie. Of ons word in die middel
van die nag wakker en die slaap bly weg. Laasnag word ek om middernag wakker
met Lambrecht se hand op my maag: “Engel, is jy oraait? Amé skop verskriklik.”
Ek is oraait, net soms totaal oorweldig
deur die gedagte van die nuwe hoofstuk wat wag. Micha, my een skoonsuster sê
dis nie ‘n nuwe hoofstuk nie. Dis ‘n nuwe boek. Micha en Van Heerden se jongste
is agt weke oud. Nina en Luca is die mooiste iets wat met hulle kon gebeur,
vertel hulle dikwels. Petra laat weet uit die Kalahari dat hul weekoue Deniel
haar iets nuuts van liefde geleer het. “Dis ‘n liefwees wat jy nie kan beskryf
nie.”
Ouerskap is so finaal, dink ek soms as ek
in die lekker leerstoel in Amé se kamer gaan sit om vir haar te bid.
Georgie en Vincent kom drink gisteraand ‘n
koffietjie oppad Kaap toe. Hulle kom sê net sterkte en bring vir ons paaseiers.
Ek neem Georgie natuurlik na Amé se kamer om te gaan spog met tannie Alba se
vlaggies en Retha se hekelkombers. Sy het dit nog nie gesien nie. Sy ken my
goedgenoeg om die bietjie bang in my oë te sien en gee my van haar spesiale
drukkies om te sê dit gaan oraait wees. Met die groetslag sê Vincent: “ As ek
jou weer sien is jy mamma. Dan is jy verewig mamma.” Dit klink byna na ‘n
doodsvonnis.
Terwyl ek vanoggend voor die wasbak staan
en kyk na die voëltjies op ons gras, dwaal my gedagtes na die laaste dae voor
my en Lambrecht se troue. Ek was bang soos ek nou is. By tye selfs asmabenoud.
Die eerste paar maande was nie altyd maanskyn en rose nie. Hy hou van lang
drukkies, ek hou van vinnige kortes. Hy hou van saamsit op die bank en tv-kyk.
Ek hou nie van stilsit nie. Hy hou van laatslaap. Ek wil vroeg opstaan. Hy hou
van rillers, ek hou van romanse. Ons verskil oor die meeste goed. Die
“Ja-woord” op die 1ste Januarie het ook so finaal gevoel.
Verewig getroud.
Dit was die beste, regste besluit wat ek
kon neem. Dis wonderlik om nou na hom te kyk en te weet dis verewig. Ek het leer
stilsit en hy het leer vroegopstaan. Ons maak beurte om te kyk waarvan ons hou.
Ek het leer lang drukkies gee omdat dit hom behaag. Hy het leer kortes gee
omdat dit my gelukkig maak.
Verewig is goed as dit van God kom, besluit
ek. Lambrecht kom beslis van God. Amé ook.
Ek klim die trappe kamer toe met ‘n ligter
hart. Op my pad tel ek ‘n verdwaalde veer op. Dis regtig vreemd, dink ek by
myself. Ek weet my Marietjie-sussie raak altyd so opgewonde as sy vere optel.
Ek whatsapp dadelik om te hoor wat ‘n veer nou weer beteken. “ Dit beteken
genade suster,” piep die antwoord vinnig terug.
Dan kom een van die mooiste genade versies
sommer so plotseling by my op. Ons gaan oraait wees, weet ek skielik. As
Lambrecht terug is van sy fietsry saam met Rudi, sal ek hom ‘n lang druk gee,
soos hy daarvan hou. En dan sal ek hom vertel van die veertjie op ons trappe…
2 Kor. 8:9 My genade is vir jou genoeg. My
krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.
Jy voer my altyd weg...ver van my realiteit af, maar maak ook die realiteit 'n droom.
ReplyDeleteBaie geluk met die geboorte van Amé - ek moes eers kom loer of jy al ietsie oor haar geskryf het. Ek weet sy gaan vir julle 'n ewigheid se liefde en vreugde verskaf.
Liefde xxxx