Herfskostyd kom vinnig nader

Woensdag is dit warm. Dis so warm dat ek teen 1-uur probeer onthou of ek al óóit so warm in my lewe gekry het. My voete, wat altyd so mooi fyn en vroulik was, is pofferig en reusagtig. Of so voel dit vir my. Die hitte breek my.

Pa Danie skryf in ‘n eposbriefie dat dit koud is. Dis bitter koud. Die sneeu maak dat hy nie eens in die tuin kan werskaf of karwas nie. My Lezanne-vriendin uit Engeland sms dat sy besig is om botterskorsiesop en my ma se Boesmanland “buns” te maak. Sy dink sommer aan my.

Ek gaan haal my rooi Adidas waterbottel en drink nog ‘n 500ml yswater met ‘n paar teue leeg. En ek mis Engeland se koue. Ek wil bibberkoud kry. Ek wil by pa Danie en ma Elize in hul sitkamer kuier met die klein verwarmer digby my voete. Ek wil van Ma se ongelooflike koffiemasjien koffie drink uit een van hul groot wit bekers sodat ek my hande bakkies daarom kan vou om dit warm te maak. In die middernagtelike ure wil ek saam met Pa, Ma en hul laatlam, my man, rustig teug aan goeie whisky met donkersjokolade, by die verwarmer. Alles moet rondom die verwarmer gebeur. As die wêreld buite wit gesneeu kan wees…soveel te beter.

Vanoggend is die Paarl luggie koeler. Ek kry nuwe lus en moed vir die lewe. Ek waag selfs my hand aan ‘n baksel beskuit. Dan gaan grawe ek in my Sarie Kos tydskrifte. Ek’s sommer weer lus vir voorskoot aansit en kreatief raak agter die kospotte met die weer wat so aangenaam is. Ek soek na Herfs uitgawes. Ek sien dit raak soggens nou later lig en saans vroeër donker. Herfs moet dus iewers in die nabye toekoms lê.

Ek lees in dié uitgawe dat Herfs die seisoen is vir outydse skilferkors melktert. Blykbaar het my skoonma se ma Dora so voortreflike melktert gemaak. Dis tog jammer dat ek nooit van haar sal kan leer nie, dink ek terwyl ek na die mooi prentjie op die voorblad kyk. Dan is dit ook die seisoen waarin Paasfees gevier word. Dit gaan natuurlik saam met paasbolletjies. Ek vergryp my al die laaste maand aan paasbolletjies, dink ek skuldig. Dalk moes ek bietjie aanhang en wag vir paasnaweek. Ek eet eers versigtig die wit kruisie van die bolletjie af, en dan botter ek hom behoorlik voordat ek die res eet. My ma het geglo jou wit tandemerke moet ten minste wys.

Volgens die kleurlingkultuur hier in die Kaap, moet jy blykbaar kerrievis en vars broodrolletjies eet op goeie Vrydag. “Ons coloureds laaik van kerrievis en “buns” op Goeie Vrydag. En die “whities” eet nou al net soos ons op Goeie Vrydag hier innie Kaap,” het my personeel laas Vrydag verduidelik.

Ek gaan haal my notaboekie en pen. Paasnaweek sal ons laaste kinderlose naweek in ons lewe wees. Ek sal die spyskaart mooi moet beplan. In die toekoms sal paasnaweke immers hoofsaaklik vol paaseiers wees. Ons sal soos die res van die Kaap Vrydag kerrievis en broodrolletjies eet. Paas Maandag sal ons ‘n spesiale paasbolletjie ontbyt eet en die oggend regtig wy aan Jesus. En dalk, net dalk waag ek my hand aan ‘n mooi melktert spesiaal vir my man. Melktert en moerkoffie vir die namiddag koffie.

Want Herfs is byna hier. En dit behoort gevier te word.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep