Posts

Showing posts from 2014

Dankbaar 2015 in

Die woorde in my kop is deesdae baie stil. Ons het ‘n nuwe skaaphondjie, Stella. Ek het nie geweet skaaphondjies is so energiek nie. En hulle kou aan álles. Van jou kinders se buite speelgoed, tot die gras en jou enigste roosboompie. Ons 21 maande-oue dogtertjie is in proses om uit haar bababedjie na haar dogtertjie bedjie te skuif. Ons moet eers by haar lê tot sy wegglip in droomland, en dan kom maak sy ons nag vir nag so rondom half twee wakker. Dis niè maklik nie. Dis piekseisoen in my man se lewe. Hy soek orals mooi druiwe vir die Ooste. Hy slaap en eet en leef nou druiwe. Vandag oor minder as twee weke sal ons ‘n seuntjie ryker wees. Alhoewel ek presies weet wat om te verwag, bly die hospitaalgedagte ‘n vreesaanjaende een. En ek bly maar bekommerd oor ons oudste wat tot dusver die enigste spil was waar om ons wêreldjie gedraai het. Alles in een asem opgenoem. Dus – my kop het nie tyd vir dink en stories maak nie. Ek oorleef en hanteer net nóú. Tog, ondanks bogenoemde

Ons bak Pofadder Koekiefees koekies

Ek kuier by my Marietjie-sussie op Millerton. Dinsdagoggend beplan ons om koekies te bak. Oor sowat twee weke is dit hul Pofadder A.P Kerk se koekiefees. Ons sal die koekiebakkery in fases afhandel. Met kinders moet mens nooit te entoesiasties of opportunisties wees nie. Hulle bepaal immers jou spoed. Dis ‘n harde les wat mens noodgedwonge vinnig moet leer. Dinsdagoggend begin nie goed nie. Ame se eerste vloermoer is voor sy haar oggendpap kan eet. Vir die res van die oggend wil sy opsluit op my skoot sit. Asof sy sement is. Anmari se tande pla en sy is self nie te gelukkig om sommer net op haar eie te speel nie. Ons deel die laaste bondel deeg van die outydse soetkoekies tussen die niggies. Ons gee vurke waarmee hulle gaatjies in die deeg kan steek. Ons is later raadop. Die niggies eet bondels van die deeg en raak woedend as ons dit dan afvat. Die oggend is ‘n absolute nagmerrie. EK voel later tranerig. Ek en Marietjie het dan n

Woorde wat mens maak dink

Verlede Woensdag gaan maak ek vir die eerste keer ‘n draai by oom Basie Basson \se skoenwinkel in Wellington. Ek’s opsoek na iets moois, prakties en plat, dog bekostigbaar. Oom Basie kom bied vriendelik aan om te help, maar ek wys die hulp van die hand. Ek het ‘n vreeslike besluitelose natuur en vaar altyd beter so op my eie. Dit maak my net verleë as iemand my besluiteloosheid nog moet gade slaan ook. Oom Basie kom help inelkgeval. Ons gesels later so lekker dat ek skoon vergeet van skoene aanpas. Net voor ek my nuwe paar skoene gaan betaal, beduie oom Basie ek moet in sy kantoor na sy vrou en kinders se foto’s kom kyk. Hy’s baie trots op sy gesin. Oom Basie se vrou is ‘n sprankelende donkerkop tannie. “Sy sê soms dat sy nie dink sy het tot haar volle potensiaal in die lewe gekom nie. Sy was immers maar altyd ‘n tuisbly mamma. Sy het drie Godvresende kinders grootgemaak. Wat groter is daar om te bereik in die lewe?” vra oom Basie my eensklaps baie ernstig. Oom Basie se wo

Die wrang smaak van oorvreet

“Maar my magtag. Eet ek sowaar 4 koeksisters sonder dat ek wou, lus was, of geweet het ek doen dit. Dis wat gebeur as 10-uur gaste nie genoeg eet nie.”                   - Retha Compion (Woensdag)-   Toe ek hierdie muur inskrywing van Retha op haar facebookbladsy raaklees, kon ek nie anders as om sommer kliphard te lag nie. Ken ons nie almal daardie verslae gevoel na ‘n ondeurdagte vergryp nie? Jy besef eers jy en jou man het sommer ‘n hele slab sjokolade alleen verorber – as jy met die leë ou papiertjie asdrom toe strompel. Soet en oorvreet en verslae. Ek bid elke môre opnuut vir selfbeheersing. Of ek smeek dit van die Here af, want daar’s ‘n handjievol goed wat ek eenvoudig nie kan weerstaan nie. Grondboontjiebotter is een van daardie dinge. Dan neem ek soms ‘n doelbewuste besluit om dit liefs nie in ons huis aan te hou nie. Dis egter so selfsugtig, want ons Amé-kind is net so lief vir grondboontjiebotter as haar ma. Nou ontneem ek haar dit weens my vraatsig en gebrek aa

Spurkos, Steri Stumpies en Josh

In die kwessie van ‘n week se tyd vertel buurvrou Yolandé van die nuuste roof in Paarl mall. Swaer Van Heerden bel uit Somerset-Wes om te vertel van die jongste roof in die winkelsentrum waar hulle gereeld gaan inkopies doen. Tannie Elaine vertel van die kinderfiets wat uit die parkie oor die straat gesteel is, terwyl die kindertjies nog niksvermoedend speel. Wilma vertel van die inbraak twee huise van hulle af, helder oordag, Piketberg. Desnieteenstaande het ek nie in die minste die begeerte om elders te woon nie. Josh, Lambrecht se groot vriend uit Engeland kom kuier onlangs by ons. Hy was sowat vier jaar laas in Suid-Afrika. Josh se vel is al ‘n gesonde kleur toe hy by ons aankom. Hy is immers al ‘n week in die land. Die eerste naweek na sy aankoms het hy al die eerste keer afgedop na ‘n Saterdag langs sy pa se swembad in Hermanus. Sy vel ken mos nie meer die ongenaakbare Afrika-son nie. So, wat wil hy alles eet en doen terwyl hy in die land is, wil ek natuurlik belangst

Familiekuier in Dukes 28

Sondagaand lê en vryf Stan blykbaar sy maag in die bed en gee ‘n swaarmoedige sug – “Wat nou?”, wil my sussie effe deur die slaap weet. Hierdie leefstyl van sosialiseer en vreet en drink sal hom gedaan maak. Hy is maar bly hulle is môre weer oppad plaastoe, was Stan se onmiddelike antwoord. Dis nou tyd. Marietjie vertel dit vir my Maandagoggend met die groetslag. Sien, my Boesmanlandfamilie was mos hierdie naweek vir ‘n familietroue by ons. Marietjie en Stan en Anmari het sommer al Woensdag agtermiddag arriveer. Marietjie kom klim af met regte egte plaaseiers, ietsie vir my en gedagtetjie vir Amé. Ons skop die naweek af met my tuisgebakte sjokoladekoek en koffie. En toe begin kuier ons. Stan en Lambrecht gaan rook die naweek sommer so met koffie en koek in die skaduwee agter ons huis in. Toe die son sak steek ons vuurtjie aan. Donderdagoggend vroeg vertrek ek en Marietjie al Paarl mall toe. Die pappas is aan diens. Marietjie verduidelik oppad dat sy nie regtig iets in die

Boesmanland kom kuier

My plaasfamilie kom kuier eersdaags in ons nuwe Wellingtonhuis. As 'n windpomp nie onverwags breek, of 'n jakkals amok saai, of die plaaswerkers die pad vat nie, behoort hulle Woensdagnag laat te arriveer. Ek's verheug. Ek beplan al weke lank aan die spyskaart vir hul langnaweek by ons. Elkeen se slaapplekkie word sorgvuldig beplan. Ons is 'n bietjie meer mense as beddens, maar familie verstaan gelukkig altyd. Vandag gaan doen ek inkopies vir die groot kuier. Dit neem lank om te besluit watter sjokolade vir wie se bed. Selfs vir kleine Anmari moet ons op 'n soete bedbederf besluit. Ons winkeltrollie sug onder sy vrag. Want dis een ding wat ons Nelle graag doen - ons hou van eet. Ons is nie van daardie families wat laat ontbyt en dan deurstoot tot vanaand se braai nie. Ons eet ontbyt, teetyd is dit tee en koekies. Ons mis verseker ook nie middagete of namiddagkoffie nie. Elke saamkuier om die tafel of koffietafel is 'n "happening". Behalwe vir die

Dirty Dancing

Onlangs het ek en manlief eenparig besluit – dis tyd dat ons DSTV waai. Ons het nóg vriende wat die TV weggepak het, en niemand mis dit nie. Ons het nou egter nie so drasties gegaan nie. Ons kosbare televisie sal ons nie vinnig wegpak nie. Ons is fliekvlooie wat vrek oor pizza en ‘n fliek, of tuisgemaakte hamburgers en ‘n fliek, of take away vis-en-chips en ‘n fliek. Jy verstáán… Manlief is vir die week weg vir werk. Teen Woensdagaand is ek uitgekuier met myself. Ek grawe lank en diep. Dan ontdek ek my Dirty Dancing Blue Ray Disk. Dis nog onopgemaak. Ek het dit een maal op ‘n lughawe teen ‘n winskopie gekoop. Ek was kinderlik opgewonde oor my kopie. Manlief het my gewaarsku dat hy dit beslis nooit saam met my gaan kyk nie. Nou was dus my geleentheid. Ek kyk dit die eerste maal terwyl ek lustig eet aan gesmelte kaas en tamatiebroodjies. Ek geniet elke oomblik van die storie. Dit het dieselfde effek op my as die heel eerste keer. My tone krul met die laaste dans en ek slaan som

Coetzee-kuier in die veldhuisie

Ek bedink eers lank die regte woorde voor ek my pienk rekenaartjie oopslaan vir skryf. Mens moet immers sag omgaan met woorde as jy wil vertel van veldstil dae en naghelder sterre. Vir ‘n langnaweek gaan span ons en ons Somerset-Wes Coetzee-familie uit in die hartjie van die Boesmanland in my pa en tannie Marinda se nederige veldhuisie. Ons moet selfone, internet, DSTV en elektrisiteit by die huis los. Die kinders pak net emmertjies en grafies en ou klere vir in die Boesmanlandse sand en klippies speel. Saans maak ons vuurkos. Die eerste aand is ek en Lambrecht aan diens. Ons braai vleis en roosterkoek met bottelslaaie. Ek het eers lank gewik-en-weeg oor die bottelgoed. Deesdae is bottelgoed mos aanvaarbaar as jy dit by ‘n deli koop met ‘n fênsie etiket. Mense bottel nie meer self in hul eie huise nie. En toe smul ons almal aan my huisinmaakgoed – tannie Marinda se beet en my ma se noedelsaai met ‘n prikkie. Vrydagaand is Micha en Van Heerden se beurt. Ons braai weer. Hulle b

Ons Parys-sambreel

Ongeveer 4 jaar gelede is ons vir ‘n langnaweek Parys toe. Toe het ons nog in Engeland gewoon en Europa was net ‘n klipgooi vêr. Ons vlug was baie vroeg die oggend en weens ‘n ongeluk op die hoofweg het ons so byna ons vlug verpas. My man was later ongeduldig en gefrustreerd. Ons was jonk getroud en ek was ontnugter deur my ander helfde se woede oor die situasie daardie oggend. Ons land dus toe in die stad van die liefde…glad nie in ‘n goeie bui nie. Ons eerste uitdaging was om ‘n plek te vind vir ontbyt. Ons bestel toe maar wat mens in Parys eet, naamlik croissants. Dit is bedien met slegs botter. Ek wou beslis kaas daarby hê. My arme man het alles probeer – van sy beste Afrikaans-Frans tot sy beste Engels-Frans. Na ‘n baie groot gesukkel kon hy daarin slaag om kaas te kry. Die weer was triestig en ons vervoer was hoofsaaklik maar te voet. Lambrecht het vroeg voorgestel dat ons ‘n sambreel koop. Ek het vasgeskop. Dis sommer nou onnodig. Ons begroting vir ons Parysnaweek was fy

Dis die klein dingetjies....

Sowat ‘n week gelede gaan drink ons koffie by Frans en Nicola se varsgeboude plaashuis. Alles op die werf is nog nuut. Net voor ons ry vat sy ons trots na haar hoenderhok met haar nuwe hoenders. Laasweek eerste eier gekry, spog sy baie trots. Weet ons hoe lekker dit is om vir die eerste keer in jou lewe jou eie hoenders se eiers te gaan uithaal? Ek weet nie. Ek koop mos myne by Checkers, in die size van my keuse. ‘n Week gelede sit ons langs die skermvuur op Makkiesplaas. My pa se legendariese broer, oom Stoffies, en tannie Vossie en neef klein André kuier ook hier. Terwyl my pa die roosterkoek braai knibbel ons aan stukkies springbokwors, vars van die kole. En toe begin onthou die broers van hulle grootword dae. Dit was die dae van skermvure saans en die longdrop toilet. Dit was swaar dae daai, stem hulle soos een man saam. Ek kan sien dat albei ver teruggaan. Hulle het Desembervakansies by Ceres se bos gaan vakansiehou, want daar was familie in Ceres. Onthou hy die Kers

Tuinblomme vir jou

Ek wil vanoggend ‘n bossie blomme op jou tafel kom neersit oor jy ‘n vrou is. Sommer blommetjies uit die tuin – vriendelik en opreg. Maak nie saak jou ouderdom of die seisoen waarin jy jou vanoggend bevind nie. Daar’s ‘n bossie vir elke vrou. Dalk is jy ‘n jong dame met groot drome oor die toekoms. Jy wonder wanneer jy jou liefde van jou lewe gaan ontmoet en of hy gaan kan dans. Wat gaan jou van eendag wees? Waar gaan julle woon en hoeveel kinders gaan julle hê? Dalk ken jy selfs al die name van jul kinders. Of dalk is jy jonk getroud. Jy en jou prins slyp nog aan mekaar. Hy vergeet nog om die toilet deksel te laat sak en jy sukkel om te verstaan waarom die TV altyd op die sportkanaal moet wees. Dalk het jy al kinders. Jou huis is nooit meer netjies nie en die wasgoedmandjie is altyd vol. Niks is meer joune nie. Allermins jou tyd. As jy nie spesiale tyd met jou kinders spandeer nie, spandeer jy dit met jou man. Spesiale tyd met jouself is iets waarna jy slegs maar terugver

Chantel se prettige Pofadder ooievaars

Donderdagoggend ry ons af Pofadder toe. Vir Ch antél se ooievaarstee. Ons ry ‘n bietjie vroeër, want Marietjie het besigheid in die dorp voordat ons kan ooievaarstee hou. Ek en Marietjie sien so uit na die uitstappie. Ons trek onsself en ons dogtertjies mooi aan vir die spesiale dag in Pofadder. Ons moet egter weens omstandighede met Stan se plaasbakkie in ry dorptoe. Dit impliseer dat ons viertjies gesellig saam voor in ‘n enkelkajuitbakkie, moet nesskrop. Marietjie is so gelukkig om die bakkie te bestuur. Ek is dus aan my saligheid oorgelaat met twee erg woelige kleingoed. Oppad na Pofadder knibbel hulle aan mariebeskuitjies en spoeg gwêlle daarvan op ons skoon klere uit.   Anmari se snotneusie blaas babbeltjies en dit bars op haar mamma se bruin baadjie. Toe ons in Pofadder stop, lyk ek en Marietjie smerig. Ons kinders is moeg van stilsit. Nou wil hulle beweeg. Marietjie sluit aan by die spannetjie wat help om die ooievaarsparty onthaallokaal te versier (Pofadder se kleute

Oom Stoffies se dieet taktiek

Onlangs kom kuier oom Stoffies-hulle terwyl ek ook op Makkiesplaas is. Oom Stoffies is my pa se jonger broer, maar almal van Kakamas tot Kairo ken hom gewoonlik. As jy al eenmaal in sy Panarotti’s op Worcester geëet het, en hom daar raakgeloop het, sal jy dit beslis nie vergeet nie. Sommer so met die afklimslag, toe tannie Marinda inkom met koffie en koekies, vertel oom Stoffies ons van sy groot probleem. Hy is groot soos hy in sy lewe nog nie was nie. Hy moet dit eers bedink en beplan voor hy uit sy bakkie klim, of uit ‘n stoel opstaan.Sy veters is ook deesdae maar konstant so los. Moeite, of onmoontlik, jy weet.Nou moet hy dringend gewig verloor.Vir sy oudste meisiekind se troue. Of hy moet liewer so dik raak dat niemand hom eers erken as hy die paadjie afstap met sy meisiekind nie. Want hier waar sy gewig nou is, is net skandalig. Jy weet, deesdae as hulle gaan uiteet maak hy sommer sy belt en sy boonste knoop los voor hy gaan sit. Man wil mos darem jou uiteet geniet ook! O

My Droom

Ek droom al lank van my eie boek. Een waarop my naam voorop sal staan omdat dit my vertelgoed is. My pa en my Marietjie-sussie was knaend – ek   moes my stories boek. Dan was daar ook Corieta, tannie Anetta en nog ‘n handjievol ander mense. Einde Junie het ek en my Marli-sussie my droom gaan oppik in diep Kaap. Wat ‘n groot vreugde! Ons het oppad huistoe gestop vir kaaskoek en haselneutgegeurde koffies ter viering. En die eerste Vrydag in Julie stel ek my boek bekend by Pofadderskou. Nogmaals dankie aan Alta vir die wonderlike geleentheid. So verkoop ek dus my heel eerste boekies in Pofadder! Dit voel steeds asof ek droom. Ilse Louw het die spesiale voorblad ontwerp. Sy is een van die heel kreatiefste mense wat jy seker ooit sal ontmoet. Die van voorop is Nel-Coetzee. Dis nie so omdat ek probeer fênsie wees nie. Dis so omdat die boek stories wat oor amper 10 jaar loop, bevat. Dit sou dus net regverdig wees om albei my vanne te erken. Ek is immers nog net vier jaar ‘n trot

Skuinskoekstorie en resep

Maandagaand, so met die reën wat val, voor die kaggelvuur, raak my gemoed lus vir skuinskoek. Ek loop soek die reseppie wat ek nog verlede winter by Marietjie afgeskryf het. “Tannie Margaret se heerlike skuinskoek,” staan bo aan die resep. Voor ek gaan slaap pak ek al die bestanddele in my groot enamel knieskottel op die kombuistafel. Toe ek Dinsdagmôre klaar koffie vir my man en rooibostee vir ons dogtertjie in die bed gegee het, gaan begin maak ek die skuinskoek aan. Dis nog diep diep koud en ek blaas wasem uit terwyl my hande vol deeg is. Die sonnetjie skyn eers hier van half 10 af gaaf. Dus sit ek maar die oond laag aan om ‘n warm plekkie vir my knieskottel deeg te skep. Dit moet immers iewers warms rys tot dubbel die volume voordat ek kan begin bak. Die deeg moet ‘n volle 20minute geknie word. Ek kies kortpad, want skuins oor halfpad, skreeu my man benoud uit die kamer dat ek asseblief dadelik ons dogtertjie se doek moet kom ruil. Hy vermoed hier’s groot fout. Ek bid sti

Pakkie van die plaas af

Tannie Alba kom drink netnou ‘n vinnige koffietjie by my. Sy is stylvol soos altyd in rooi en swart vandag. In haar een hand het sy ‘n bos sonneblomme om ons huis warm te maak in die koue kaapse weer. In die ander hand het sy ‘n pakkie vir Amé van haar af, èn ‘n pakkie van Makkiesplaas af. Dis so lekker met tannie Alba hier. Amé kan haar geluk byna nie glo nie. Iemand wat met haar perdjie ry, vir haar ‘n boekie lees en soveel aandag aan haar skenk. Tannie Alba en haar sonneblomme het sowaar die koue heerlik kom verdryf! Oppad uit maak sy verskoning. Sy moes met die plaasbakkie kom. Sy is mos hier om vir Nico te help trek. Sy moes ‘n tafel van hom saambring vir sy nuwe huis. Al die pad van die plaas af. Iewers langs die pad het die bakkie nog spatsels beesmis ook opgetel! Toe sy weg is pluk ons, ons pakkie oop. Wat ‘n vreugde! Daar’s ‘n houtwieletjie vir Amé wat jy so rondstoot aan ‘n stokkie, daar’s Whispers en goeie koffie en Macadamia botter en die mooiste Hartsgoed kussing

Baie Trots Suid-Afrikaans

Tannie Marinda, die tannie waarmee my pa nou getroud is, kom van Zimbabwe. Haar pa was van die eerste boere wat inhegtenis geneem is in Zimbabwe. Hy moes ‘n sel deel met een van sy plaaswerkers wat sy mielies gesteel het. Maar oupa Jan het tot sy dood in Zimbabwe gebly, want hy het gesê die wiel gaan nog draai in Zimbabwe. En dit wil hy nie mis nie. Hy was werklik ‘n volksman, want meer van vaderlandsliefde sal jy seker moeilik kry. Ek kan nogal warm onder die kraag raak wanneer Suid-Afrikaners in die buiteland vertel hoe bly hulle is dat hulle veilig en vredevol liewer elders in die wêreld woon. Hulle basuin dit selfs uit aan ons wat willens en wetens in ons gevaarlike land vasbyt. Nee dankie, ons wil dit nie hoor nie. Ek het nie ‘n probleem met mense wat oorsee woon nie. Regtig. My skoonouers en skoonsuster-hulle woon almal oor die waters. My skoonmense stuur foto’s van hul pragtige wintertuin aan. Skoonma luister permanent RSG. Soretha vertel gereeld nuus van hul twee p

Die funeral planner

Ongeveer vyf jaar gelede moes ons my ma se begrafnis reël. Daar is deesdae gidse en boeke vir gewig verloor, ‘n gelukkiger huwelik, soeter kinders, die lysie gaan aan. Daar is nog nooit ‘n gids geskryf oor die ABC van ‘n suksesvolle begrafnis nie. Gisteraand gaan drink ek ‘n glasie wyn saam met tannie Elaine en Illa en Wilma. Ons gesprek draai om begrafnisse. Tannie Elaine moes die naweek haar geliefde tannie Mary-sussie begrawe na ‘n lang siekbed. Die dat ons nou by so somber onderwerp draai. Ons praat oor die begrafnisbriewe, die blomme, die kos. Ilse is een van die kreaftiefste, kleurvolste mense wat jy ooit sal raakloop. Sy sê nou vanaand voor getuies, beduie sy met die een hand terwyl die witwynglas in die ander hand is. Sy soek ‘n bitterrrrr mooi begrafnis. Ten minste troublomme wat tot teen die kerk se dak gaan. Dit moet beslis nie soos ‘n begrafnis lyk nie. Wat die kerkbriefie betref het sy ook definitiewe idees. Sy het iets soos ‘n trou uitnodiging ingedagte. Asseblie

Kruisies vir 'n beter toekoms

Vanoggend het my duimnael 'n swartstrepie. Ek is so trots daarop. Gister het ek my eerste kruisie getrek. Waar was ek die ander kere? Ek weet sowaar ook nie. Ek dink ek was selfsugtig en onverantwoordelik. Hierdie keer moes ek gaan stem. Vir Amé en ons ander kinders wat nog moet gebore raak. En hulle kinders. En hulle kinders se kinders... Want die Coetzees en Nelle is bittereinders wat nog lank in Afrika sal wees. Die eerste demokratiese verkiesing was 20jaar gelede. Ek was in St.1 en kan uit die aard van die saak nie veel van daardie verkiesing onthou nie. Ek onthou net die uitsending van die verkiesing daardie aand. Mandela het met 'n uitbundige glimlag sy stembriefie in die boks gegooi. Ek onthou nog hoe ek daardie aand by my ma wou weet of sy dink hy het vir homself gestem. As ons vir klaskapteine stem, en jy is genomineer stem jy immers nooit vir jou self nie. My ma het lank stilgebly, en toe het sy bekommerd geantwoord: "Hy het beslis vir homself gestem Surra.&q

Die groot trek begin...

Vanmiddag stiptelik om 3-uur dra my man my oor die drumpel van ons eerste eie huis. Ons beseël die ritueel met ‘n uitbundige soen. Ons Amé-kind is self die ene opgewondenheid. Sy waggel die huis vol op haar wankelrige beentjies. Ek gaan hurk by haar in haar leë kamer, “Dis jou nuwe kamer poppeliefie,” verduidelik ek aan ons een-jarige. Ek vermoed sy verstaan, want sy gee ‘n vrolike gilletjie voordat sy na die venster waggel om haar uitsig te gaan bekyk. In my kop sien ek al tannie Alba se vlaggies in die dag hang. Haar kamer gaan dogtertjie pienk wees. Soos dit hoort. Sy sal ‘n klein boekrakkie hê waarin ons al haar gunsteling boekies en nuwe bybeltjie sal pak. In die leefvertrek gooi ons, ons nuwe mat voor die kaggel. Ons dink nou albei kaggelvuur en rooiwyn, dink ek by myself. Tannie Elaine se verleidelike granate hang ek eerste teen ons leë mure. Dit bring sommer plotseling warmte. Voordat ons die motors begin aflaai, vat ons eers hande vir saambid. Vir dankie sê en vra

Afskeid van Boschenmeer 625

My gemoed is broos, verduidelik ek gisteraand aan Winita terwyl ons op ‘n geselsspoed draf. Dit voel asof ek ‘n hol paashaas is met niks “binnekant” om te kan gee nie. Eintlik voel ek net lus om in die bed te gaan klim met ‘n boek en hot chocolate, sonder ènige verantwoordelikhede. “Jy is besig om te trek vroutjie, en trek is traumaties. Jy is besig om afskeid te neem van die tydjie hier,” verwoord Winita my emosies op haar kenmerkende rustige manier. Ek het nog nie eens kans gehad om hieroor te dink nie. Iewers tussen bokse pak, Amé se dummy vir die 1000ste keer uit die toilet haal en asemhaal, het ek vergeet dat ek ‘n erg emosionele wese is wat tydsaam deur my emosies moet werk om te oorleef. Toe ek tuiskom lê my lieflingman uitgestrek voor Binnelanders. Hy lyk dolgelukkig. My trane is die laaste ding wat hy vanaand verwag het, besef ek plotseling toe hy my verbaas aangaap. My walle het gebreek en ek kan die trane nie keer nie. Hulle rol sommer so vanself. “Wat is fout my

Klere vir vet en maer jare

‘n Paar somers gelede het Erika gekla oor haar klerekas. Dis oorvol van klere uit die verskillende seisoene van haar lewe – vet klere en maer klere, het sy probeer   verduidelik. Dit bestaan uit klere wat nou pas, klere wat al gepas het, en klere waarin sy hoop sy nie weer gaan pas nie. Sy hou dit inelkgeval vir ingeval. Ek het daardie aand vreeslik lekker gelag oor Erika se klerekas. Ek was jonk, manloos en kindloos. My hele lewe het nog rondom myself gewentel. Al my klere was een nommer. ‘n Klein nommer… Ek wil sommer net vandag vir jou sê: Erika, ek verstaan nou. Gister moet ek my klere sorteer vir ons nuwe huis in Wellington.   Ek het die huis gesien en begin droom van ‘n fotomuur en olyfboompie in die tuin. Ek het opgewonde geraak oor die kaggel vir koue Bolandwinters en die werkplekkie vir lapgoed en die stories in my kop. Ek het gerieflikheidshalwe vergeet dat ons nóú ook in ‘n huis bly wat eers geboks moet word voordat ons kan verhuis. Dit is hoe ek by die klere sorteer

Wilma se troustorie

Die oggend van Wilma se troue moet ons stiptelik om half 8 by Under Oaks wees vir saam ontbyt eet. Wilma se troue is stiptelik en sekuur gereël en beplan tot op die minuut. Ons is vyf strooimeisies – sussie Illa en vriendinne. Dis vir ons almal ‘n groot dag, omdat dit Wilma se groot dag is.   Na ontbyt kry ons elkeen ‘n lieflike appelkooskleur kort kamerjassie waarop “Strooimeisie” op die band geborduur is. Toe skop die werklikheid in. Eensklaps soek ons iets vir ons senuwees. Dit kom met ‘n skok dat Marné nie Rescue Remedy by haar het nie. Ons was seker sy dra dit altyd by haar. Toe nie! Illa maak ‘n paar dringende oproepe en sekondes later stop iemand met ‘n botteltjie druppels voor die gastehuis. Ons vyf strooimeisies en die bruid stuur dit in die sirkel om soos nagmaalwyn. Ons sluk gulsig en paniekerig en maak staat op rescue om ons gemoedere te kalmeer. Wilma is die kalmste. Dis haar strooimeisies se senuwees wat wil-wil ingee. Dit gaan oor ons rokke. Tannie Griet is ‘n