Familiekuier in Dukes 28


Sondagaand lê en vryf Stan blykbaar sy maag in die bed en gee ‘n swaarmoedige sug – “Wat nou?”, wil my sussie effe deur die slaap weet. Hierdie leefstyl van sosialiseer en vreet en drink sal hom gedaan maak. Hy is maar bly hulle is môre weer oppad plaastoe, was Stan se onmiddelike antwoord. Dis nou tyd. Marietjie vertel dit vir my Maandagoggend met die groetslag.

Sien, my Boesmanlandfamilie was mos hierdie naweek vir ‘n familietroue by ons.

Marietjie en Stan en Anmari het sommer al Woensdag agtermiddag arriveer. Marietjie kom klim af met regte egte plaaseiers, ietsie vir my en gedagtetjie vir Amé. Ons skop die naweek af met my tuisgebakte sjokoladekoek en koffie. En toe begin kuier ons. Stan en Lambrecht gaan rook die naweek sommer so met koffie en koek in die skaduwee agter ons huis in. Toe die son sak steek ons vuurtjie aan.

Donderdagoggend vroeg vertrek ek en Marietjie al Paarl mall toe. Die pappas is aan diens. Marietjie verduidelik oppad dat sy nie regtig iets in die mall nodig het nie. Dalk ‘n paar skoentjies vir haar as sy iets sien en een of twee goedjies in Dischem vir die badkamer. Toe my sussie by die mall instap is dit asof iets in haar losbreek. Ek kan sien ou Rietjies mall nie weekliks soos ek nie. Sy koop meer as een paar skoene. Sy raak super opgewonde oor PnP clothing se sale en koop daar ook een of twee basiese goedjies. In Dischem gaan sy groot. As ek kommentaar lewer rol sy haar oë. Sy koop immers nou ses maande se voorraad. Ons gaan drink ‘n soet koffietjie by Mug & Bean voor ons huiswaarts keer.

Die pappas lyk vaal. Anmari het die doek der doeke gehad en Stan en Lambrecht het byna albei opgegooi. Die kindertjies wou nie eintlik eet nie, maar hulle lyk meer as tevrede so in hul pappas se geselskap.

Donderdagaand arriveer my pa en tannie Marinda. Tannie Marinda pak ‘n hele koelboks bederfgoed uit – van dadelbolletjies tot tuisgebakte brood. Van vrolike balle vir die kleinkinders tot tuisgebakte beskuit. Hemels. Ons maak potjiekos en kuier weer feestlike om die vuur.

Vrydag jaag ons rond vir materiaalwinkels en weer Dischem. Hierdie keer raak my pa weer opgewonde oor sy Dischem winskopies. En Vrydagnag breek die hel van ‘n maagvirus in ons huisie los. In die middel van die nag jaag Lambrecht met ons naar kind, wat nie ophou opgooi nie, Paarl ongevalle toe. My Marietjie-sussie moet hom vergesel, want ek durf nie ver van ‘n toilet beweeg nie. Marietjie sms uit Mediclinic se badkamers. Die dokter is besig met ons dogtertjie. Sy wag in die badkamer, want die virus het haar ook nou beet. Saterdag is ek en Marietjie lustelose zombies. Ons wil nie kos sien of ruik nie. Ons drink glase en glase flat coke en lê met nat waslappies op ons voorkoppe.

Die twee swaers ry ‘n draai. Hulle het altyd ‘n draai om te ry. My pa en tannie Marinda gaan verken Wellington so op hul eie.

Middagete kom almal huistoe. My pa is in die wolke. Hy het die ongelooflikste leerplek ontdek. Hy paradeer soos ‘n model met sy nuwe velskoene op en af in die kombuis. Hy het sommer nog ‘n paar bestel. Hulle maak dit spesiaal vir jou voete. Absoluut  ongelóóflik. Stan en Lambrecht was by Crazy Store vir watergeweertjies en goete vir vanaand se troue. En vir sigarette.

Sondagmiddag vertrek my pa en tannie Marinda. Tannie Marinda is hondsiek van die einste maagvirus. Hulle bel Sondagaand uit Strandfontein. Albei is nou siek. Hulle gaan maar vroeg inkruip en bid hulle slaap die siekte af.

Sondagnamiddag gaan hou ons nog eers Karmi se ballerina-partytjie by Ashanti. Almal is genooi en die mans gaan saam. Dis al donker toe ek en Marietjie Paarl toe ry vir Macdonalds…Marietjie se gunsteling. Ons het besluit ons gaan Sondagaand Macdonalds doen en fliek. Ons koop elkeen ‘n kiddies happy meal en ‘n mcflurry. Soos in ons studentedae.

Maandagoggend is die naweek plotseling verby en ek kan dit byna nie glo nie. Die niggies waai vrolik vir mekaar toe Stan-hulle se wit Toyota met die bruin seil kappie stadig wegry. My hart voel seer oor die lekker naweek se skielike einde.

Maar soos Stan tereg sê…g’n mens kan so aanmekaar rondrits en eet en drink nie!

Comments

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep