Spurkos, Steri Stumpies en Josh


In die kwessie van ‘n week se tyd vertel buurvrou Yolandé van die nuuste roof in Paarl mall. Swaer Van Heerden bel uit Somerset-Wes om te vertel van die jongste roof in die winkelsentrum waar hulle gereeld gaan inkopies doen. Tannie Elaine vertel van die kinderfiets wat uit die parkie oor die straat gesteel is, terwyl die kindertjies nog niksvermoedend speel. Wilma vertel van die inbraak twee huise van hulle af, helder oordag, Piketberg.
Desnieteenstaande het ek nie in die minste die begeerte om elders te woon nie.

Josh, Lambrecht se groot vriend uit Engeland kom kuier onlangs by ons. Hy was sowat vier jaar laas in Suid-Afrika. Josh se vel is al ‘n gesonde kleur toe hy by ons aankom. Hy is immers al ‘n week in die land. Die eerste naweek na sy aankoms het hy al die eerste keer afgedop na ‘n Saterdag langs sy pa se swembad in Hermanus. Sy vel ken mos nie meer die ongenaakbare Afrika-son nie.

So, wat wil hy alles eet en doen terwyl hy in die land is, wil ek natuurlik belangstellend weet. Hy pluk sy selfoon uit sy sak – sy wish list, verduidelik hy. Daarop is onder andere sushi by die Waterfront, Steers burger en chips, uiteet by Spur, want net Spur se kos proe soos Spur. Hy wil ook Suid-Afrikaanse Kentucky eet, want dis beslis lekkerder as Engeland s’n. Die lysie hou nog ‘n entjie aan.

Die eerste aand steek ons ‘n vuurtjie aan vir Gemsbok braai. Teen nagereg tyd vra Josh wie almal lus is vir ‘n Steri Stumpie. Hy wil vir ons gaan koop. Hy doen dit ook die tweede en die derde aand. Want Engeland het beslis geen gegeurde melkies wat eens naby Steri Stumpie kom nie. Hy kom ook elke keer terug met een of ander sjokolade waarvoor hy lus het. Sjokolade wat hy nie in Engeland te koop kry nie.

Josh verlustig hom aan sy geboorteland. Deur sy oë besef ons opnuut hoe bevoorreg ons is.

Ons neem hom Saterdagoggend na ons kerk se basaar en Josh kan sy geluk nie glo nie. Oppad huistoe wil hy opgewonde weet of ons al die stalletjies gesien het…pannekoek, jaffles, sosaties ens. ens. ens. Hy wens daar was langer tyd dat hy oral kon uitkom. Amé het ongelukkig ons uitstappie kortgeknip.

Ek is net spyt ek’t nie my hand gewaag aan ‘n peppermint crisp tert vir Josh se koms nie. Engeland het mos nie peppermint crisp sjokolade nie. My skoonma Elize maak ‘n voortreflike tert. Ek het al gevis na die resep, maar ek dink nie ek het dit in my om dit so lekker soos sy te maak nie. Haar tert is nie so soet soos die standaard resep nie. Sy het anderdag mooi oor skype verduidelik. Mens moet maar so proe-proe terwyl jy dit maak. Nie die hele blikkie karamel kondensmelk nie, meer sjokolade en ‘n spesifieke room. My Lambrecht-man is versot op sy ma se peppermint crisp tert.

Ek weet Josh sal met ‘n swaar hart teruggaan na sy woon en werkplek oor ‘n week. Want alhoewel Suid-Afrika nie net die land van melk en heuning is nie, maar ook van misdaad, stakings en korrupsie, bly dit ‘n diep diep lekker plek om te bly!

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep