Dirty Dancing


Onlangs het ek en manlief eenparig besluit – dis tyd dat ons DSTV waai. Ons het nóg vriende wat die TV weggepak het, en niemand mis dit nie. Ons het nou egter nie so drasties gegaan nie. Ons kosbare televisie sal ons nie vinnig wegpak nie. Ons is fliekvlooie wat vrek oor pizza en ‘n fliek, of tuisgemaakte hamburgers en ‘n fliek, of take away vis-en-chips en ‘n fliek. Jy verstáán…

Manlief is vir die week weg vir werk. Teen Woensdagaand is ek uitgekuier met myself. Ek grawe lank en diep. Dan ontdek ek my Dirty Dancing Blue Ray Disk. Dis nog onopgemaak. Ek het dit een maal op ‘n lughawe teen ‘n winskopie gekoop. Ek was kinderlik opgewonde oor my kopie. Manlief het my gewaarsku dat hy dit beslis nooit saam met my gaan kyk nie. Nou was dus my geleentheid.

Ek kyk dit die eerste maal terwyl ek lustig eet aan gesmelte kaas en tamatiebroodjies. Ek geniet elke oomblik van die storie. Dit het dieselfde effek op my as die heel eerste keer. My tone krul met die laaste dans en ek slaan sommer hoendervleis uit – I’ve had the time of my life. Die volgende aand kyk ek dit sommer weer. Terwyl ek myself bederf met baldadige grondboontjiebotter broodjies en koffie. Oe, die vreugde van swangerwees…

Ek lees nie Ena Murray storieboeke nie en ek het ‘n hekel aan soetsappige kortverhale met voorspelbare eindes. Ek is baie kieskeurig oor my leesstof. Maar ek’s totaal versot op Dirty Dancing. Al is dit soetsappig en voorspelbaar. Ek kan sekerlik nie op my twee hande tel hoeveel maal ek dit al gekyk het nie. Ek het nóg ‘n hand nodig. En dit bly vir my ‘n wonderlike belewenis.

Ek sal nie twee maal na Patrick Swayze op straat kyk nie. Tog wil hy ‘n mens laat smelt in die fliek. Die manier waarop hy na “Baby” kyk…dit lyk so baie na die ware Jakob. Pure bewondering en verwondering! As jy nog nooit vantevore die fliek gesien het nie, gaan soek dit. Of kom leen dit by my. Of koop dit vir jouself. Jy sal lus wees om manlief nader te trek vir ‘n paar wulpse draaie in die sitkamer. Op die maat van I’ve had the time of my life!

 

Fliekfeite:

Vrygestel – 21 Augustus 1987

Hoofrolle – Patrick Swayze

                     Jennifer Grey

Dit was aanvanklik ‘n “low budget” film wat toe gesorg het vir groot gewildheid. In 2009 het dit reeds $214 miljoen doller wêreldwyd verdien.

Comments

  1. Ja! Sune! Jy ek so baie van dirty dancing gehou het toe ons dit in london gaan kyk het, dat ek dit weer gaan kyk het. . . maar die keer het ons 'n paar rye van die verhoog af gesit en dit was AWESOME!!!!! Ek sal dit ook oor en oor gaan kyk, fliek of theater! Dink dit beat mamma mia en lion king se teater show vir my!

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep