Posts

Showing posts from April, 2014

Die groot trek begin...

Vanmiddag stiptelik om 3-uur dra my man my oor die drumpel van ons eerste eie huis. Ons beseël die ritueel met ‘n uitbundige soen. Ons Amé-kind is self die ene opgewondenheid. Sy waggel die huis vol op haar wankelrige beentjies. Ek gaan hurk by haar in haar leë kamer, “Dis jou nuwe kamer poppeliefie,” verduidelik ek aan ons een-jarige. Ek vermoed sy verstaan, want sy gee ‘n vrolike gilletjie voordat sy na die venster waggel om haar uitsig te gaan bekyk. In my kop sien ek al tannie Alba se vlaggies in die dag hang. Haar kamer gaan dogtertjie pienk wees. Soos dit hoort. Sy sal ‘n klein boekrakkie hê waarin ons al haar gunsteling boekies en nuwe bybeltjie sal pak. In die leefvertrek gooi ons, ons nuwe mat voor die kaggel. Ons dink nou albei kaggelvuur en rooiwyn, dink ek by myself. Tannie Elaine se verleidelike granate hang ek eerste teen ons leë mure. Dit bring sommer plotseling warmte. Voordat ons die motors begin aflaai, vat ons eers hande vir saambid. Vir dankie sê en vra

Afskeid van Boschenmeer 625

My gemoed is broos, verduidelik ek gisteraand aan Winita terwyl ons op ‘n geselsspoed draf. Dit voel asof ek ‘n hol paashaas is met niks “binnekant” om te kan gee nie. Eintlik voel ek net lus om in die bed te gaan klim met ‘n boek en hot chocolate, sonder ènige verantwoordelikhede. “Jy is besig om te trek vroutjie, en trek is traumaties. Jy is besig om afskeid te neem van die tydjie hier,” verwoord Winita my emosies op haar kenmerkende rustige manier. Ek het nog nie eens kans gehad om hieroor te dink nie. Iewers tussen bokse pak, Amé se dummy vir die 1000ste keer uit die toilet haal en asemhaal, het ek vergeet dat ek ‘n erg emosionele wese is wat tydsaam deur my emosies moet werk om te oorleef. Toe ek tuiskom lê my lieflingman uitgestrek voor Binnelanders. Hy lyk dolgelukkig. My trane is die laaste ding wat hy vanaand verwag het, besef ek plotseling toe hy my verbaas aangaap. My walle het gebreek en ek kan die trane nie keer nie. Hulle rol sommer so vanself. “Wat is fout my

Klere vir vet en maer jare

‘n Paar somers gelede het Erika gekla oor haar klerekas. Dis oorvol van klere uit die verskillende seisoene van haar lewe – vet klere en maer klere, het sy probeer   verduidelik. Dit bestaan uit klere wat nou pas, klere wat al gepas het, en klere waarin sy hoop sy nie weer gaan pas nie. Sy hou dit inelkgeval vir ingeval. Ek het daardie aand vreeslik lekker gelag oor Erika se klerekas. Ek was jonk, manloos en kindloos. My hele lewe het nog rondom myself gewentel. Al my klere was een nommer. ‘n Klein nommer… Ek wil sommer net vandag vir jou sê: Erika, ek verstaan nou. Gister moet ek my klere sorteer vir ons nuwe huis in Wellington.   Ek het die huis gesien en begin droom van ‘n fotomuur en olyfboompie in die tuin. Ek het opgewonde geraak oor die kaggel vir koue Bolandwinters en die werkplekkie vir lapgoed en die stories in my kop. Ek het gerieflikheidshalwe vergeet dat ons nóú ook in ‘n huis bly wat eers geboks moet word voordat ons kan verhuis. Dit is hoe ek by die klere sorteer

Wilma se troustorie

Die oggend van Wilma se troue moet ons stiptelik om half 8 by Under Oaks wees vir saam ontbyt eet. Wilma se troue is stiptelik en sekuur gereël en beplan tot op die minuut. Ons is vyf strooimeisies – sussie Illa en vriendinne. Dis vir ons almal ‘n groot dag, omdat dit Wilma se groot dag is.   Na ontbyt kry ons elkeen ‘n lieflike appelkooskleur kort kamerjassie waarop “Strooimeisie” op die band geborduur is. Toe skop die werklikheid in. Eensklaps soek ons iets vir ons senuwees. Dit kom met ‘n skok dat Marné nie Rescue Remedy by haar het nie. Ons was seker sy dra dit altyd by haar. Toe nie! Illa maak ‘n paar dringende oproepe en sekondes later stop iemand met ‘n botteltjie druppels voor die gastehuis. Ons vyf strooimeisies en die bruid stuur dit in die sirkel om soos nagmaalwyn. Ons sluk gulsig en paniekerig en maak staat op rescue om ons gemoedere te kalmeer. Wilma is die kalmste. Dis haar strooimeisies se senuwees wat wil-wil ingee. Dit gaan oor ons rokke. Tannie Griet is ‘n