Afskeid van Boschenmeer 625


My gemoed is broos, verduidelik ek gisteraand aan Winita terwyl ons op ‘n geselsspoed draf. Dit voel asof ek ‘n hol paashaas is met niks “binnekant” om te kan gee nie. Eintlik voel ek net lus om in die bed te gaan klim met ‘n boek en hot chocolate, sonder ènige verantwoordelikhede.

“Jy is besig om te trek vroutjie, en trek is traumaties. Jy is besig om afskeid te neem van die tydjie hier,” verwoord Winita my emosies op haar kenmerkende rustige manier. Ek het nog nie eens kans gehad om hieroor te dink nie. Iewers tussen bokse pak, Amé se dummy vir die 1000ste keer uit die toilet haal en asemhaal, het ek vergeet dat ek ‘n erg emosionele wese is wat tydsaam deur my emosies moet werk om te oorleef.

Toe ek tuiskom lê my lieflingman uitgestrek voor Binnelanders. Hy lyk dolgelukkig. My trane is die laaste ding wat hy vanaand verwag het, besef ek plotseling toe hy my verbaas aangaap. My walle het gebreek en ek kan die trane nie keer nie. Hulle rol sommer so vanself. “Wat is fout my engel,” wil hy besorg weet. In sy wêreld ruik hy nou die lasagne in die oond. Die huis is feitelik klaar ingepak en môre kry ons die huissleutels. Dis die huis waarvan ek die afgelope twee jaar droom. Wat op áárde kan my nou pla?

My hart is seer oor die afskeid, verduidelik ek steeds hartseer. Hier in Boschenmeer het ons na die derde swangerskaptoetsie besef ek is dalk regtig swanger. Dis hier waar ons op Amé se naam besluit het. Dis hier waar ek moes leer mamma-wees. In haar kamer het ek baie winternagte om gesit en borsvoed, so in die koue, moedeloos oor die laatnag pajamadril.

Hier het Amé die eerste keer “mamma” gesê en haar eerste wankelrige treetjie gegee. In hierdie huisie het sy leer trappe klim. Gisteraand het ek by haar gaan lê op ‘n matrassie en haar rug gevryf, want haar tande is seer en ek dink daar’s dorinkies op haar tong van die kaktus uit die tuin waaraan sy gister gekou het. Alles net hier in Boschenmeer.

Dis ook hier waar ek dikwels kon oordraf na Winita se vriendelike huis vir koffie en kla of koffie en lag. Amé gaan haar Alexander-maatjie ontsagtelik mis. Emsie en haar Karmi-prinses het dikwels hier kom tee drink en speel. Wilma en Lyndi kon vinnig na werk inloer vir ‘n blitsige koffietjie. Vir Hanli met die mooi hart het ek by die sandpit raakgeloop. Michelle oor die pad stuur altyd sulke mooi boodskappe. My buurvrouens straat af groet altyd so vriendelik – so asof hulle my goed ken.

Ek gaan dit alles só baie mis.

Hierdie was ons eerste vastrapplek na ons seisoen in Engeland, wil ek Lambrecht graag laat onthou. Hy onthou natuurlik, verseker hy my. Hy kan egter steeds nie hartseer wees nie, want ons droom het waar geword. Ons het ‘n regte egte huis met ‘n groot grasperk. Hy gaan kan grassny soos ‘n man. Ons gaan kan tuin maak en ‘n olyfboompie plant.  Ons gaan ‘n hondjie kan kry. Ons het mos klaar vriende in Wellington, so ek sal nie vergaan van eensaamheid nie.

Ek snik nog ‘n laaste keer onbetaamlik hard, sommer omdat ek lus voel. Dan gaan haal ek die lasagne uit die oond. Môre sal ek ‘n afskeidstorie skryf om die trane uit my gees te kry. En vanaand gaan ons ‘n glasie vonkelwyn saam met Winita-hulle drink op ons nuwe huise. (Hulle trek ook eersdaags.) En ons gaan dit net hier doen – in ons gebokste huisie. Vir oulaas.

 

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep