Klere vir vet en maer jare


‘n Paar somers gelede het Erika gekla oor haar klerekas. Dis oorvol van klere uit die verskillende seisoene van haar lewe – vet klere en maer klere, het sy probeer  verduidelik. Dit bestaan uit klere wat nou pas, klere wat al gepas het, en klere waarin sy hoop sy nie weer gaan pas nie. Sy hou dit inelkgeval vir ingeval. Ek het daardie aand vreeslik lekker gelag oor Erika se klerekas. Ek was jonk, manloos en kindloos. My hele lewe het nog rondom myself gewentel. Al my klere was een nommer. ‘n Klein nommer… Ek wil sommer net vandag vir jou sê: Erika, ek verstaan nou.

Gister moet ek my klere sorteer vir ons nuwe huis in Wellington.  Ek het die huis gesien en begin droom van ‘n fotomuur en olyfboompie in die tuin. Ek het opgewonde geraak oor die kaggel vir koue Bolandwinters en die werkplekkie vir lapgoed en die stories in my kop. Ek het gerieflikheidshalwe vergeet dat ons nóú ook in ‘n huis bly wat eers geboks moet word voordat ons kan verhuis. Dit is hoe ek by die klere sorteer uitkom. (Met hierdie trek sorteer ek nou ordentlik. Elke vorige verhuising het opgeeïndig met ‘n klomp bokse waarop meestal gestaan het: Iets van alles.)

Ek begin gaan die sakke een-een nuuskierig deur terwyl Amé haar middagslapie geniet. Dit raak ‘n nostalgiese middag. Ek staan lank met die knielengte swart rompie en olyfgroentoppie daarby wat Pappa en Mamma vir my eerste werk gekoop het. Kantoordrag. Toe het ek ‘n perdebylyfie gehad en my lewe het gedraai om oefen en reg eet. Ek sal nooit weer daarin pas nie. Ek wil myself nie eens mismoedig stem en dit net vir die pret aanpas nie.
Selfs my matriekafskeidrok is sorgvuldig in ‘n skoendoos in een van die sakke. My eerste blinkrok wat nog deur tannie Lee gemaak is met baie liefde. Ek hou die romp  by die middel oop en is vir ‘n oomblik verstom. Dit was immers baie somers gelede die grootte van mý middel. Ongelooflik!

EK gaan sit eers op die bed met ‘n koppie soet koffie om tot ‘n slotsom te kom. Ek sal sommige van die klere uitgooi. Daar is ‘n bepaalde grootte waar ek nie weer my lyf sal en wil kry nie. Die klere sal ek vir my klein Marietjie-sussie gee. Die ander sal ek hou vir ingeval my middel vorentoe krimp. Ek het dus ook nou sakke wat gemerk is: Swangerklere, Vet, Maer.
Al daardie sakke sal ek moet saampiekel na ons nuwe huis met die kaggel en fotomuur en olyfboom. Vir ingeval ek weer swanger raak, of frisser as wat ek nou is. En net dalk, eendag as ons kroos gradueer, kan ek iets uit die “maer sak” aantrek vir die geleentheid!

Jy weet Erika, net vir ingeval…

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep