Die groot trek begin...


Vanmiddag stiptelik om 3-uur dra my man my oor die drumpel van ons eerste eie huis. Ons beseël die ritueel met ‘n uitbundige soen.

Ons Amé-kind is self die ene opgewondenheid. Sy waggel die huis vol op haar wankelrige beentjies. Ek gaan hurk by haar in haar leë kamer, “Dis jou nuwe kamer poppeliefie,” verduidelik ek aan ons een-jarige. Ek vermoed sy verstaan, want sy gee ‘n vrolike gilletjie voordat sy na die venster waggel om haar uitsig te gaan bekyk. In my kop sien ek al tannie Alba se vlaggies in die dag hang. Haar kamer gaan dogtertjie pienk wees. Soos dit hoort. Sy sal ‘n klein boekrakkie hê waarin ons al haar gunsteling boekies en nuwe bybeltjie sal pak.

In die leefvertrek gooi ons, ons nuwe mat voor die kaggel. Ons dink nou albei kaggelvuur en rooiwyn, dink ek by myself. Tannie Elaine se verleidelike granate hang ek eerste teen ons leë mure. Dit bring sommer plotseling warmte.

Voordat ons die motors begin aflaai, vat ons eers hande vir saambid. Vir dankie sê en vra vir seën en beskerming, en toe begin laai ons af. Wat ‘n taak. Ek is, soos reeds erken, nie ‘n baie gefokusde pakker nie. Desnieteenstaande al my goeie voornemens, lyk my gepak alwéér na ‘n orgie. Ek wil liewer storietjies uitdink en skryf oor trek, as om regtig die werk te doen…

Agterin my Grietjie-kar pak ek voor die voet, van ‘n toiletborsel tot ‘n pienk sak met winterserpe. Van my stoompot tot my Britse vlag deurstop.  Al ons boeke maak een ry se vrag vol. Lambrecht is erg brommerig. Hy lees glad nie en kan werklik nie verstaan waarom ek so versot is op boeke en lees nie. Nou wil dit sowaar vir hom lyk of ons kind dieselfde streep deur het. Sy loop grawe ‘n kinderboekie diep onder ander speelgoed uit en dan is sy doodtevrede.

Rondom 6-uur vanaand is Amé verwese. Sy is honger, haar neusie loop en sy is regtig nie meer lus om met bokse en gister se Burger te speel nie. Ek en sy gaan maar huistoe vir eet en bad en slaap. Lambrecht is vasberade, hy gaan nog twee vragte ry. Ek moet net gereed staan met toebroodjies en baie liefde as hy arriveer, want hy gaan diep moeg wees. (Ons het teen hierdie tyd regtig nog net melk, brood, eiers en ‘n blikkie sardiens in ons koskas. En NAN melk.) Na sy eerste vrag kom loer hy net gou in vir ‘n soen en water. Dukes Estate is bitterlik stil saans. Dis so stil dat dit hom ‘n klein bietjie “uitfreak.” Ek kan nie help om te lag nie. Ons woon nou al vir twee jaar klipgooi van die N1. Stilte “freak” ons ‘n bietjie uit.

Terwyl ek sit en storietjie skryf ry Lambrecht gou ‘n laaste vrag vir vanaand. Ons lewens gaan nou baie anders wees, het ek vanmiddag gedink toe ons uit Wellington ry. Dit was ‘n lekker dink. Ons gaan kruie tuinmaak in die agterplaas. Ons gaan Sondagmiddag slaap in ‘n doodse stilte. Ons gaan kaggelvuur maak en by die huis koffiedrink met vriendinne. Minder mall, minder geraas, minder gejaag.

Andriehette sms gister dat ons mos nou trek na die grootwordplek van Valiant Swart en Nataniël. Mag Wellington ons ook inspireer. Mag ons, ons harte verloor op die berge en die eenvoud.  Mag ons huis ‘n veilige hawe wees vir ons kinders en ‘n rustige vredeplek vir my man. Mag ons feestelik lekker kuier met hartsmense om my ma se eetkamertafel. Mag ons in hierdie huis altyd weet waaroor die lewe regtig gaan.

Alle alle eer aan Jesus.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep