Wilma se troustorie


Die oggend van Wilma se troue moet ons stiptelik om half 8 by Under Oaks wees vir saam ontbyt eet. Wilma se troue is stiptelik en sekuur gereël en beplan tot op die minuut. Ons is vyf strooimeisies – sussie Illa en vriendinne. Dis vir ons almal ‘n groot dag, omdat dit Wilma se groot dag is.  Na ontbyt kry ons elkeen ‘n lieflike appelkooskleur kort kamerjassie waarop “Strooimeisie” op die band geborduur is. Toe skop die werklikheid in.
Eensklaps soek ons iets vir ons senuwees. Dit kom met ‘n skok dat Marné nie Rescue Remedy by haar het nie. Ons was seker sy dra dit altyd by haar. Toe nie! Illa maak ‘n paar dringende oproepe en sekondes later stop iemand met ‘n botteltjie druppels voor die gastehuis. Ons vyf strooimeisies en die bruid stuur dit in die sirkel om soos nagmaalwyn. Ons sluk gulsig en paniekerig en maak staat op rescue om ons gemoedere te kalmeer. Wilma is die kalmste. Dis haar strooimeisies se senuwees wat wil-wil ingee.

Dit gaan oor ons rokke. Tannie Griet is ‘n uitmuntende rokmaker. Werklik. Haar skeppings laat jou slank lyk. Dit verskans die oortollige rolletjies en laat jou tevrede voel voor ‘n spieël. Maar haar rokke sit styf. Dit druk alles in plek, en hou dit daar, soos nodig. Marné en Lyndi se zips het albei twee dae voor die troue gestrip tydens die aanpas. Dis herstel, maar almal hou asem op vir die zip optrek van die rokke. Letterlik.
Juf.Cathy, ons destydse st.2 juffrou, laat weet dat sy darem graag ‘n fototjie wil sien van haar oud-st.2’tjies.  Tannie Elaine is beslis – ons moet ‘n paar mooies vir Juffrou neem. Eers een sonder Ilse, dan een met haar, dan een met tannie Elaine daarby. Wilma lyk nie lus na foto’s neem nie. Sy wil haar toespraak nog ‘n keer op die stoep gaan oefen. Wilma begin lyk ietwat senuagtig. Die haarkapper en haar helpers verdwaal oppad na ons kamer. Daar’s fout met die vineylplakker wat op die dansbaan moet kom. Klein probleempies duik op. Dis mos hoe dit voor die troue werk!

Wilma het aanvanklik beslis gesê dat sy nie laat sal wees vir haar troue nie. Dan begin raak ons minute agter skedule. Ons almal se zips hou genadiglik. Ons trek te laat by ons gastehuis weg. Die pragtige bruidsmotor ry te stadig.
Ons strooimeisies volg in Lyndi se sexy mini Cooper. Oppad bewonder ons, onsself in alle spieëls van Lyndi se motor. Marné voel ontevrede met haar kuif. Dit lyk asof ‘n tier dit in hale op haar voorkop gekrap het. Ek en Lyndi is spyt dat ons nie tog maar meer gedissipleneerd was met ons diëte nie. Ons smeer ons lippe met gloss dat dit lyk soos wanneer jy jou ooreet het aan ‘n vet Sondag skaapboud.
Dan breek die groot oomblik aan. Dis ‘n groot troue. Orals staan motors. Ons is 10minute laat en Wilma wil nóú instap. Laaste gaste drentel na hul sitplekke en ons staan laer om ons bruid om haar te keer om tog net nie oorhaastig die kerk in te marsjeer nie. Een van die twee baie oulike hofknapies kry koue voete. Skielik is alles vir hom te veel. Hy wil nie meer deel van die troue wees nie.

Die liedjie begin speel en ons vyf stap die paadjie af. Toe ons in posisie is, begin speel die troumars. Wilma is een van die mooiste bruide wat ek nog in my lewe gesien het. Sy en oom Marius sweef die paadjie af op maat van die troumars. Dan gebeur die onvoorsiene. Iewers moes die DJ haar misverstaan toe sy gesê het sy soek die tradisionele troumars. Plotseling slaan die troumars oor na ‘n wysie wat klink na iets waarop skouperde die arena binne trippel. (Ek raai maar dis tradisioneel in een of ander vreemde land!) Ons vyf kyk mekaar totaal uit die veld geslaan aan. Seker net ‘n glipsie, dink ons almal. Want voor jy kan sê “sirkusperd”, is die gewone troumars terug. Dit gebeur nog ‘n paar keer voor die bruid langs haar bruidegom staan. Die gaste lyk stomverbaas deur Wilma se keuse van musiek om die kerk binne te kom. Devilliers lyk totaal oorstelp van vreugde toe sy bruid langs hom staan. En hy lyk trots dat Wilma nou uiteindelik sy vroutje gaan wees. Ek dink hy het so gefokus op sy bruid dat hy die uitsonderlike musiek misgeloop het…
Die res van die troudag is onvergeetlik. Die Mouton-paartjie straal. Devilliers lewer sy toespraak met selfvertroue en dreig sy vriende met geweld toe hulle probeer om sy spreekbeurt te verongeluk. Wilma stel die heildronk in op haar ouers – pragtig!

Dit raak ‘n aand van lekker kuier met vriende en familie wat jy lanklaas gesien het. Die saal is orgidieë en kristal en absolute betowering. Die kos is gemaak vir ‘n koningsfeesmaal. Dit raak ‘n troue wat ons nooit sal vergeet nie. En oor die Mouton-troumars sal ons nog eendag op ons ouetehuisstoep giggel.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep