Op die "edge'

Vandag is my ma al agt jaar huistoe. Dis die een dag in die jaar wat ek myself die geleentheid gun om goed jammer te voel vir myself. Dit bly n verskriklike seer en as ek dit hardop sê wil ek dit amper nogsteeds nie glo nie.

Maar my ma is regtig dood, verewig.

Tannie Christa het destyds so n pragtige DVD gemaak met my ma se gunsteling musiek en mooi fotos. Ek wou dit vandag iewers graag kyk terwyl ek alleen hartseer is. Ek wou vroegoggend opstaan en op die gras met Jesus gesels en groete stuur hemeltoe. Ek wou mooi blomme vir ons huis koop en myself met lekker koffie iewers bederf. Alles het by WOU gebly, want...

Ons wonderlike Pappa Beer werk in die Noord-Kaap en albei ons kinders is die laaste 24-uur met mangelontsteking gediagnoseer. Albei op antibiotika. Die enigste rede waarom ek nou die luukse van storieskryf gegun word is omdat die kinders hang aan oom Jan de wet se lippe, terwyl ons vir my wonderlike buurvrou wag om vir Amé n setpil toe te dien. My buurvrou se kinders is meer dikwels siek as ons sin en sy is meer behendig met n setpil as hierdie mamma.

My oggend het afgeskop met koorsige kindertjies. Toe ons oudste haar eerste koppie tee en beskuitjie vir die dag weier, het ek sommer geweet daar is groot fout. Ons jongste met die reuse eetlus was teen hierdie tyd al rasend van honger die siekte het hom al Sondag getref. Vanoggend het hy dus sy oggendpap met groot bravade aangedurf net om sekondes daarna hartstogtelik te huil met sulke moedelose brand, brand tussen in. Amé se ogies was skuins voor middagete poele vuur. Ek gil op pappa beer in die Noord-Kaap. Ek gil op boetie wat vir 10minute onophoudelik gil vir n verdomde koekie. Ek probeer sing Jesusliedjies vir ons koorsige oudste om haar rustig te kry.

Skuins na middagete slaap ons poplap moeg van alle koors. Boetie is rammetjie-uitnek. Ek is so so moeg en wil net n klein bietjie rus. Ek huil later langs poplap op haar bedjie. Ek verlang na my ma, ek is so so moeg en moedeloos. Boetie kom druk sy vingertjies in my neus en speel-trek my hare. Hy dink hy is verskriklik snaaks...

Namiddag kom red my buurvrou die situasie. Sy bel alle dokters wat sy ken en win orals raad in. Sy hanteer ons setpil-situasie. Sy bring selfs n stafie troos wat sy op my Bybel los. Marietjie bel en laat my lag met haar middagslapie-chaos-storie.   Marli daag op met die mooiste bos blomme. My liefste laatlam sussie wat ook nie meer n ma het nie. Sy en haar ridder kom speel met ons kinders. Theunis speel skiet-skiet met Daniël se nuwe blou geweertjie totdat hy kraai van die lag. Marli speel kaarte met Amé. Ek kry kans vir n beker koffie en n draai by die toilet.

Vriendinne en my skoonsus en skoonouers verneem of ek asemhaal. Eks die Here dankbaar dankbaar dankbaar vir sulke mense. My man bel en vra (in liefde soos hy verduidelik) dat ek bietjie moet ontspan. Ek klink regtig verskriklik on edge.

Nou is dit aand. Albei kinders slaap. Die dag was verskriklik. Hoe doen mense dit sonder die Here? Newwermaaind on edge...dis net genade dat ek  nie vannie edge af geneuk het vandag nie.


Naskrif: My ma was n dinamiese, wonderlike vrou. Sy het die mooiste omgee-hart gehad. Sy was my heel beste maatjie. Ek kan nie help om te wonder hoe sy was toe ek en Marietjie onderskeidelik 4 en 2 was nie? Was sy ook soms lus om onder die bed in te kruip vir n klein bietjie alleen huil?!?

Comments

  1. Liefste Suné....ek onthou nog toe jou Ma oorlede is..ons het nog saamgewerk..ek stuur vir jou n stywe drukkie.jy is so wonderlike mens..

    Sterkte met pappabeer wat weg werk nou en jou 2 siek kindertjies..dit is nie maklik nie. Gelukkig word hule gesond..Amen

    Met 2 kleintjies oor die algemeen is besig..en nie te praat as hulle siek is nie.

    Jy is n goeie mens....mamma en vrou

    Ek is mal oor jou Hartstories

    Liefies
    ����

    ReplyDelete
  2. Hierdie stuk van jou hart is pragtig geskryf. Ek het so lekker gelees, en kon jou verlang na jou mamma aanvoel.

    ReplyDelete
  3. Hierdie stuk van jou hart is pragtig geskryf. Ek het so lekker gelees, en kon jou verlang na jou mamma aanvoel.

    ReplyDelete
  4. Julle meisies is in my hart...jul mis haar...en ek verstaan.

    ReplyDelete
  5. Ek waardeer elke boodskap so opreg! Baie dankie

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep